30 Junie: Moenie probeer om God na jou pype te laat dans nie. – Jan van der Watt

Rom 9:20-33 (fokus 9:20-33)

 ʼn Bekende teoloog het eendag opgemerk dat God seker lekker moet lag as Hy luister na ons gesprekke oor wat en wie Hy eintlik moet wees. Hy moet sy wenkbroue lig as hy ‘n mens hoor sê: “Ek kan nie in so of so God glo nie” en “God mag of sal nie dit of dat doen nie, anders is Hy nie God nie”. Wie het nou al ooit vir die mens die reg gegee om God te speel, vir God voor te skryf, of vir God te vertel hoe hy moet wees voor ons in Hom kan glo?

Tog gaan ons rustig voort asof ons oor God kan besluit. ʼn Gewilde argument is om te sê dat ʼn God van liefde nie ook kan straf nie. Hy is maar net die vriendelike Een wat almal vir altyd liefhet, al doen hulle wat. Mense wat so sê wil graag hulle eie baas te wees en doen wat hulle wil. Nogtans wil hulle voel Iemand het hulle lief en keur goed wat hulle doen, sonder om enigsins om te gee hoe daardie Iemand oor die saak voel… ‘n bietjie selfsugtig, nie waar nie. Hulle God moet net paaiend agter hulle aanloop soos ‘n gewillige speelmaat. Die God se liefde moet alle verkeerde dinge miskyk, anders is dit nie liefde nie. Hy moet maar net bly glimlag en hande klap, al doen hulle wat, anders is Hy nie genadig nie. As God nie so is nie, verklaar hierdie mense ironies genoeg dat Hy “nie meer hulle God kan wees nie”, so asof hulle Hom wil “spite”. En die “spite” laat hulle uiteindelik sonder God sit. Dan is hulle regtig alleen.

God se liefde of sy genade werk so nie. God se liefde is groot en onvoorwaardelik, nes sy genade. Maar dan moet dit ontvang en weer uitgedeel word! Sonder ʼn hart wat oop is om die liefde in te drink en weer uit te deel, loop die liefde van die mens af soos water van ʼn eend se rug. En wat oorbly, is net jy… sonder God se liefde. Dan voel jy dat God wel straf; straf is ʼn lewe sonder Hom.

Mense sal agterkom dat as hulle God na hulle pype wil laat dans, daar nie ‘n dans is nie.