30 November: Gebruik God se veiligheidskleppe.– Jan van der Watt

1 Pet 4:1-11 (fokus 4:7-11)

‘n Les wat die lewe ons keer op keer leer is dat jy nie liefde kan forseer nie. Tog vra die Here oor en oor van ons om mekaar lief te hê. Dit is omdat Bybelse liefde nie in die eerste plek “hartliefde” is nie, maar “kopliefde”. Dit gaan nie oor emosie nie, maar oor gesindheid. As dit by gesindheid kom, vra die Here van ons lojaliteit en opoffering.

Lojaliteit lê in jou hande – dit is iets waaroor jy kan besluit. Jy kan besluit om iemand te help wat jou nodig het. As daar op jou knoppie gedruk word, is jy die een wat sal besluit of jy wil reageer of nie. Dit is ‘n besluit wat jy neem en nie ‘n gevoel wat jy voel nie. Daarom het niemand van ons ‘n verskoning as dit by die Bybelse liefde kom nie. Jy kan besluit om lojaal teenoor God en jou mede-gelowiges te wees, want jy is baas oor jou eie besluite…

Lojaliteit kan ook maar knak… veral as jy probeer, maar net ondankbaarheid terugkry van mense wat jy probeer help of jy kom agter mense misbruik net jou lojaliteit. Later vra jy jouself of dit alles die moeite werd is.

Juis daarom het die Here soveel veiligheidskleppe in die liefde ingebou. Hy vra dat ons mekaar se foute moet oorsien, want ons almal maak foute. As jy elkeen se foute gaan onthou wat iets verkeerd teen jou gedoen het, gaan jou lojaliteit en liefde verseker daaronder steier. As iemand om hulp vra, help… moenie dan toelaat dat negatiewe dinge in die situasie jou aan die kla of brom sit nie (8-9). Dan gaan jou lojaliteit ook nie lank hou nie. Hierdie gesindheid hang nie van jou emosies af nie, maar van wat jy besluit. Bybelse liefde is inderdaad “kopliefde”.

Lojaliteit maak dus jou oë toe vir die negatiewe en fokus jou aandag op die positiewe… en as bonus gee dit jou nog ‘n kort geheue ook as dit by mense kom wat jou skade aangedoen het. Hierdie veiligheidskleppe van God sal jou help om te kan aanhou liefhê. Gebruik dit.