31 Maart: “Here, onthou U ons dan nie meer nie?”. – Jan van der Watt

Luk 13:22-14:6 (fokus 13:22-30)

Die krete in 13:26 klink so desperaat: “Here, onthou U ons dan nie meer nie?” Dit klink na mense wat gedink het hulle was veilig en toe nie regtig so veilig was nie. Hulle het gedink die Here se genade sal sorg dat hulle in die hemel gaan inglip en toe gebeur dit nie. Verrassings gaan daar dus beslis by die hemelse poort wees.

Hierdie mense in die verhaal het die baas van die huis geken, maar was duidelik nie sulke goeie vriende van hom nie. Daarom word die deur gesluit voor hulle nog in is. Ons ken ook sulke mense: hulle steur hulle gewoonlik nie aan jou nie, al ken hulle jou kamma. Hulle leef verby jou. Alles verander op daardie oomblik dat hulle jou nodig kry: dan ken hulle jou skielik baie goed en is jy hulle groot vriend. Hulle het jou vir jare nie gesien of gekontak nie, maar as hulle in die moeilikheid kom, is jy glo al jare een van hulle beste vriende. Ons ken sulke mense…

Die Here ken sulke mense ook… Hy weet wie ken Hom net wanneer hulle Hom die dag nodig het. Die probleem vir sulke mense is dat die Here hulle nie wil ken nie. Sy deur gaan vir hulle gesluit wees. Hy soek nie kennisse nie, maar vriende; mense wat bereid is om die pad voluit met Hom te stap. As jy dus jou godsdiens halfhartig beoefen, moet jy dit liewer los, want volgens hierdie verhaal lyk dit nie of dit gaan werk nie. Maar voor jy dit los, onthou, dit is baie beter om die halfhartigheid in heelhartigheid te verander. Dan sal jy regtig voel hoe om die Here as vriend te hê en nie net as kennis nie.

Ons moet onthou dat die verwelkomingskommissie by die hemelpoort net vir die Here se opregte vriende bedoel is.