31 Mei: Daar is nie so iets soos ‘n probleem nie. – Jan van der Watt

Hand 13:42-14:7 (fokus 13:42-51)

Die lewe het sy “ops” en “afs” en as daar nou mense was wat dit geweet het, was dit Paulus-hulle. Al was hulle God se spesiale gesante en dienaars in die wêreld het alles nie altyd net voor die wind gegaan nie. Partymaal is hulle op die hande gedra. Ander kere is hulle weer geslaan en weggejaag (kyk maar net na 13:48-51).

Die les wat ons egter by hulle kan leer is dat hulle nie moed verloor het nie. Dinge wat met hulle verkeerd geloop het was nooit vir hulle verleenthede of redes om mismoedig op ʼn hopie te gaan sit of op te gee nie. Dit was geleenthede om nuut en verder te dink, om ander planne saam met die Here te maak. En die houding het hulle laat opstaan en aangaan. ‘n Mens sou kon sê dat daar vir hulle op hulle lewensreis nie probleme was nie – net uitdagings en oplossings.

Op die lewensreis saam met die Here moet daar ook nie vir jou so iets soos probleme wees wat jou terneergedruk eenkant laat sit nie. Nee, daar moet net oplossings en nuwe geleenthede wees. Wat soos probleme lyk moet net vir jou die stilhouplek langs die pad wees wat jou kans gee om nuut te beplan en nuwe oplossings te soek. As die “afs” in die lewe jou tref moet jy soos ʼn fietsryer teen ʼn afdraende wees. Jy moet dan juis spoed opmaak. As dinge skeefloop moet jy herbeplan, kyk wat verkeerd geloop het en dit regmaak, weer probeer, of anders probeer.

Die “ops” in ons lewe is juis daar omdat ons nie by die “afs” bly lê het nie.