31 Oktober: Moenie in die wegspringblokke bly sit nie. – Jan van der Watt

Hebreërs 5:1-6:3 (fokus 5:11-6:3)

Die Here wil hê ons moet volwasse Christene word en ons kan dit alleen word as ons in ons kennis van God groei. Die logika is eenvoudig: hoe meer ons van Hom weet, hoe beter kan ons Hom dien, want godsdiens is mos om te doen wat die Here gelukkig maak.

Dit is juis hier waar baie van ons in ons wegspringblokke bly sit (6:1). Ons kom nie weg nie en is maar tevrede met die bietjie kennis wat ons het. Ons is soos die seuntjie wat toe iemand hom vra wat sy hond se naam is, antwoord: “Ek weet nie, hy wil nie sê nie”. Self wil ons geen moeite doen om meer uit te vind nie en dit pla ons ook nie. Die Bybel staan op die rak of lê dit in die kas, maar dit praat nie met ons nie. So gaan ons beslis nie uitvind wat daarin staan nie.

‘n Mens kan van babakos seker aan die lewe bly… ook geestelik (5:13): jy kan oor en oor sê dat die Here jou gered het, of dat Hy ongelowige mense gaan straf. Dit weet almal. Maar daar is baie meer om in die Woord te ontdek. Om die waarheid te sê, soos jy die Woord ontdek, leer jy jouself ook sommer ontdek. Later lees jy nie net die Woord nie, maar die Woord begin jou ook lees. Dit is dan dat geestelike groei begin plaasvind, wanneer jy en God se boodskap inmekaar begin groei, ja, wanneer God se Woord deel word van jou.

Soos jy kos nodig het, het jy die Woord nodig. As jy egter wil groei en sterk word, moet jy ‘n goeie dieet volg. Net so moet jou Woord-dieet reg wees. Jy moet genoeg en gereeld van die regte kos eet. Net jy kan besluit om dit te doen en dit dan doen ook.