4 Augustus: Jy gaan dalk nie glo wat jy sien nie . – Jan van der Watt

1 Kor 15:12-28 (fokus 15:12-20)

Die waarheid van die evangelie balanseer op ‘n speldpunt. As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, is Christene net ‘n hopelose spul mense (15:19), sonder hoop en sonder ‘n toekoms. Maar die feite is: God het Jesus lewendig gemaak nadat Hy aan die kruis dood is. Daar het God gewys Hy het die krag om elkeen wat aan Hom behoort ook so uit die dood uit te haal.

As ons mooi dink, balanseer die Christendom regtig op daardie speldpunt. As Jesus nie opgestaan het nie, sou daar geen rede gewees het waarom ons kon dink dat daar ‘n lewe na die dood is nie. Ons sou ook geen bewys gehad het dat God ons enigsins na ons dood weer lewendig sou wou maak nie. Ons hoop op ‘n lewe saam met God sou nie verder gegaan het as die dag dat ons ons laaste asems uitblaas nie… en dit is eintlik geen hoop nie.

Maar nou hét Jesus opgestaan en daarmee vir ons die toekoms oopgesluit. Nou weet ons daar is iets na die dood en ons weet God bedoel regtig om sy mense uit die kloue van die dood uit te haal en ‘n nuwe lewe saam met Hom te gee, vir altyd.

Die vraag is dus nie meer óf daar ‘n lewe na die dood is nie, maar eerder of jy die lewe na die dood gaan hê. As jy nie aan God behoort nie, mag jy dalk nie glo wat jy sien as jy anderkant wakker word nie.