4 Januarie – Nie status of geld nie, maar liefde – Jan van der Watt

Lees: Mat 4:1-25 (fokus 4:1-11)

 Jesus het skerp gereageer: “Gee dadelik pad van My af, Satan! Die Bybel sê: ‘Jy moet net die Here as jou God aanbid. Hom alleen moet jy dien!’ (4:10)

 Iemand het eenmaal gesê: ‘Wie God dien ter wille van geld of status, sal die duiwel ter wille van meer daarvan dien’ en dit is seker! As jy, jou status en jou eer die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ word, sal jy agter enigiets aanloop wat ‘jou en jou status’ kan bevorder, of dit nou God of Satan is, want eintlik loop jy maar op die ou einde net agter jouself aan.

Dit was die plan waarmee die duiwel Jesus so heimelik wou uitvang. Hy het al sy kaarte daarop gesit dat Jesus meer van homself en sy eie eer gaan hou as van God. Kamma onskuldig het die duiwel aan Jesus voorgestel om klippe in brode te verander of van die tempel se dak afspring. Die duiwel het goed geweet dat die Jode destyds geglo het dat hulle nuwe Messias juis daardie buitengewone dinge sou kom doen sodat hulle hom kan uitken. Die duiwel het daarop gereken dat Jesus dit graag sou wou doen omdat as die Jode dit sou sien hulle Hom onmiddellik as hulle messias-koning uitroep – en wat ʼn status en eer was dit net nie. Dadelik sou Jesus as koning van die Jode op die troon sit… wie sou sulke eer kon weerstaan?

Die vangplek was natuurlik dat Jesus so self ʼn nuwe meester sou hê vir wie Hy gehoorsaam… die duiwel self. Hy sou vir die duiwel luister en nie vir God nie. So sou God se plan vir sy lewe misluk het. Mense sou Hom dadelik Messias wou maak en Hy sou nooit by die kruis vir ons uitgekom het nie.

Gelukkig het Jesus God nie vir geld of status gedien nie, maar uit liefde en toewyding, anders sou die duiwel Hom miskien kon uitvang. ʼn Oorgegewe lewe vir God het die verskil gemaak sodat Jesus dwarsdeur die stof van bedrog wat die duiwel opgeskop het, kon sien.

Jy moet ook versigtig wees vir die duiwel – hy is ʼn spesialis ‘bedrog-opskopper’. Oppas dat hy jou nie so goed laat voel dat jy die ‘god’ in jou ‘gods-diens’ begin word nie. Die beste medisyne daarteen is natuurlik om in liefde en toewyding baie naby aan die Here te leef.