5 Januarie – Eerlikheid is die lig van die siel – Jan van der Watt

Lees: Mat 5:1-48 (fokus: 5:33-37)

‘“Dit help ook nie dat julle by julleself sweer nie. Wat help dit in elk geval om iets te sê soos: ‘Ek sweer ek praat nou die waarheid?’ Dit kan niks aan julle omstandighede verander nie. Sê liewers net ja en gaan doen dit. Of sê nee en doen dit. Hou julle woord. Doen wat julle sê.’ (5:36-37)

ʼn Eienskap van Christene is dat hulle veronderstel is om te doen wat hulle sê. Hulle “ja” moet hulle “ja” wees en hulle “nee” hulle “nee” (5:36-37). Dit is ʼn hoë eis wat Jesus aan ons stel. En dit sny tot in die hart van ons Christenskap, want eerlikheid en integriteit is pilare waarop ons Christenskap staan.

Die werklikheid lyk dikwels anders. Iemand het eendag gesê dat as ʼn besigheidsman vir hom sê hy’s ʼn Christen, raak hy baie agterdogtig en versigtig. Natuurlik kan ʼn mens nie veralgemeen nie, maar dit is so dat daar mense is wat die hoë eise van eerlikheid wat Jesus vir ons stel, misbruik. Hulle gebruik die naam ‘Christen’ om so die indruk te skep dat hulle heeltemal betroubaar is… iets wat jy dikwels sommer baie gou agterkom nie so is nie. ʼn Mens kry dus dikwels die gevoel dat juis hierdie lofwaardige en goeie eienskappe van eerlikheid en integriteit skaars begin raak.

Dit is jammer dat dit so is, want eerlikheid is die lig van die siel. Dit is ʼn lig wat na binne en buite skyn… As jy eerlik is met jouself sal jy ook eerlik met ander kan wees, en natuurlik omgekeerd. As jy eers vir mense begin jok, sal dit ook vir jou maklik wees om vir jouself ʼn rat voor die oë te begin draai. Jy sal allerhande verskonings vir jouself begin uitdink wat jy in jou binneste weet nie reg is nie en dit nog begin glo ook… en so begin jy vir jouself jok.

En hoe meer jy vir jouself jok, hoe makliker sal dit word om dit te doen. So word die liggie van eerlikheid al dowwer en dowwer tot jy jouself nie meer kan vertrou nie. En dit sal op ander afsmeer. Hulle sal gou agterkom dat hulle jou ook nie meer kan vertrou nie. En wat het dan geword van jou ‘ja’ of ‘nee’? Wel daar sal net vraagtekens daaroor bly staan.

Wees daarom eerlik – in die eerste plek met jouself. Hou die donker kolle van “oneerlike verskonings soek” of “feite verdraai” uit jou lewe uit. Want as jy eerlik is met jouself sal jou lig van eerlikheid helder na binne en buite bly skyn. Dan sal jou “ja” ʼn “ja” vir almal wees. Hou jou woord… doen wat jy sê, want dit is wat die Here van ʼn Christen verwag.