5 Junie: Mense wil nou maar eenmaal voor altare buig. – Jan van der Watt

Hand 17:22-33 (fokus 17:22-27)

Mense kan nie sonder gode klaarkom nie; of anders gestel: mense kan nie sonder een of ander altaar klaarkom nie. Hulle voel dat hulle hulle tyd en energie vir een of ander “iets” (ʼn afgod) op die altaar moet lê. So is ons as mense nou maar eenmaal. Ons verkoop maklik ons siele. Ons sien dit al in Atene waar die mense sommer ʼn ekstra altaar vir die onbekende god gebou het omdat hulle bang was hulle het dalk een te min (17:23).

Ironies genoeg is die “godsdiens” vir wie mense vandag die vinnigste altare bou “sekularisasie” (ongeveer 8,5 miljoen “bekeerlinge” per jaar). Sekularisasie is as mense God se altare eenkant toe skuif omdat hulle nie meer glo in ‘n God wat iets te doen het met hulle lewens nie. Hulle bou dan vir hulleself ander altare: daar is die altare wat hulle met meer en meer geld hoër en hoër bou. God is nie nodig nie, want hulle dink hulle kan sommer alles koop. Hulle bid nie meer vir reën of vra God om hulle te help as hulle by die hospitaal ingaan nie. Nee, reën kom van hoë en lae drukke in die natuur af en dokters maak ‘n mens gesond. Vir hulle het dit niks meer met God te doen nie. Hulle buig liewer voor die altare van die wetenskap. So maak die altare van sekularisasie God se altaar onnodig, ten minste in die oë van die mense.

Mense kan nie sonder ʼn god klaarkom nie. Hulle wil maar voor altare buig. Hulle draai hulle rug op God se altaar, net om voor ʼn ander god s’n neer te val… en hierdie ander gode name: geld, eiewaan, luuksheid, egoïsme, – ja, alles dinge waarvoor hulle hulle siele verkoop.

Dis maar ʼn vrot ruil om die ware God se altaar vir sulke altare te verruil!