7 Augustus: Is geld en kerk sinoniem? Vir party mense wel. – Jan van der Watt

1 Kor 16:1-24 (fokus 16:1-4)

 “Sondae moet elkeen van julle iets opsy sit…” (16:2). Geld en kerk is vir party mense sinoniem. As iemand nie meer van die kerk hou nie, sê hy sommer maklik die kerk wil net geld hê.

Wel, van die Ou Testamentiese tyd af al was die werk van die Here en geld verweef, nie omdat geld so belangrik is nie, maar omdat die werk van die Here so belangrik is. Die realiteit is dat sonder geld kan ons in hierdie wêreld nie leef nie. Ons het dit nodig. Iemand wat al sy tyd spandeer om vir die Here te werk omdat ons hom of haar gevra het om dit ook namens ons te doen, het hy weinig tyd oor om nog vir ander base ook te werk en geld te verdien. Iewers sal iets dan afgeskeep word. So was dit met die priesters, was dit met die apostels en is dit vandag.

Die persoon wat met die werk van die Here besig is, werk nie vir ‘n baas wat met rande en sente betaal nie. Hy is ook nie veronderstel om dit wat sy “Baas”, die Here, vir hom gee vir homself te hou nie. Hy moet dit vir die ander uitdeel. Daarom vra die Here dat mense wat vir “rande en sente”-base werk iets van hulle inkomste vir die Here se dinge ook gee. So kan die Here se dinge ook ongestoord aangaan. Om so by die Here se dinge betrokke te raak moet die teken van dankbaarheid wees vir alles wat die Here weer vir hulle gee. Jy ruil in ‘n sekere sin munte wat roes vir gawes wat vir altyd hou.

 Baie keer word ‘n mens vir iemand by die kerk kwaad en dan is die versoeking groot om jou geld as manipulasiemiddel te gebruik – “Nou gaan ek die kerk wys; hulle kry nie ‘n sent verder van my nie!” Wie “wys” jy nou eintlik as jy so redeneer? ‘n Mens moet maar net hoop God aap jou nie dan na en gebruik dieselfde argument teen jou nie.