Aan ‘n onwaardige volk skenk die Here sy heil (Jesaja 43:22-28) – Francois Malan

43:22 Hier voer die Here ‘n regsstryd met Israel. Hulle het Hom verwyt dat Hy hulle vergeet het, hier verweer die Here Hom dat hulle die skuldiges is. ‘Maar…’ ten spyte van wat die Here besig is om vir Israel reg te maak. Let op die kontraste:

Ek het jou geroep op jou naam,  jy is Myne (43:1); ‘vir My het jy nie geroep nie, Jakob!’ (43:22) in hulle nood het hulle nie die Here aangeroep of tot Hom gebid nie (maar tot die gode van Babilon). ‘want jy het moeg geword vir My (43:22);

43:23b Ek het nie van julle vereis, as slawe belas, met graanoffers (vir My) nie, en Ek het  julle nie moeg gemaak met reukoffers (vir My te vereis) nie.

43:24b maar jy het my belas (met slawewerk) met jou sonde; jy het My moeg gemaak met jou oortredings. Israel het nie tot die Here geroep om hulle uit die ballingskap te verlos nie. Uit sy vrye genade het die Here Israel uit hulle ballingskap uitgeroep, uit die eindes van die aarde het Hy hulle terug geroep (41:9).

43:23 Vir My het jy nie ‘n lam as brandoffer gebring nie – wel vir die afgode.

met jou offerandes  het jy My nie vereer nie – om daarmee te getuig dat hulle aan Hom behoort nie en Hom te beweeg om hulle te help nie.

43:24 Wierook – letterlik: soet Persiese riet wat as wierook gebrand is. Israel het nie met hulle geld wierook vir die Here gekoop nie. Daarmee sou hulle wys dat hulle deel van hulle geld as offer aan die Here gee. Die vet stukke van die vleis is op die altaar gebrand as bewys dat die beste deel aan die Here geoffer word. Alles om die hoë waarde wat die Here  vir jou lewe het, te bewys. Dit het die bannelinge nie gedoen nie, wat bewys dat hulle nog nie die Here leer liefkry het in hulle verdrukking nie. Inteendeel het hulle sonde en oortredinge vir Hom slawewerk (‘ebodah) beteken – werk waarvoor daar geen dank en waardering was nie (Luk 17:9) – in Jes 53:5 word die Dienaar  (‘ebed slaaf) van die Here oor ons oortredings deurboor en oor ons sondes verbrysel.

43:25 ‘Ek, ja Ek (soos in 43:11), is besig om jou opstandigheid/oortredinge uit te wis om My ontwil, en aan jou sondes sal Ek nie dink/onthou nie – dit word uitgewis uit die skuldboek (Ps 51:3-4; Kol 2:14). Die verlossing begin met ‘n uitdelging van hulle oortredings. Om nie daaraan te dink nie beteken vergewing daarvan, dat dit nie meer teen hulle gehou word in die regsgeding nie. Hierdie eensydige besluit van die Here om te vergewe geld in die nuwe bedeling. Hulle verlossing is alles die Here se werk waaraan Israel geen aandeel neem nie, maar dit slegs aanneem deur geloof in die Here en sy genade. In 40:1-2 is gesê: Israel het met die ballingskap ten volle betaal vir die sondes van die verlede. Hier kry hulle ook vergifnis vir die sondes waarin hulle tydens die jare in ballingskap geleef het toe hulle nie openlik vir die Here kant gekies het onder Babel se bewind nie.

In 43:14 sê die Here dat Hy om Israel se ontwil vir Kores stuur om al Babilon se inwoners te laat vlug. Hier sê Hy dat Hy om sy eie ontwil (1983:getrou aan Myself) Israel se oortredings uitwis en nie meer aan hulle sonde dink nie – want dit is hoe die Here is, sy wese en sy passie is om Israel te vergewe as hulle na Hom toe kom (vgl. Ps 86:5; Ps 103:8-12; Dan 9:9;  1 Jn 1:9; sy optrede teenoor die teruggekeerde verlore seun Luk 15:20).

43:26-28  Israel word uitgedaag om sy aanklag teen die Here voor die hof te lê en kry eerste die geleentheid om sy eie onskuld te bewys. Hy moet al sy verdienstes voorlê (letterlik: herinner My) waarop hy hom teen die Here kan beroep, laat ons die saak uitmaak/saam oor die saak praat,  sodat jy geregverdig kan word. Die Here wag egter nie vir hulle antwoord soos vir die afgode en die afgodedienaars in 41:21-24 nie. Hy ken hulle deur en deur reeds van ouds af.

Jou eerste voorouer het gesondig, waarskynlik Jakob/Israel, wie se naam hulle dra en wie se kinders hulle is, in murg en been sondaars (vgl. vers 28; Hosea12:4); en dié wat vir jou pleit, het teen My oortree, waarskynlik die profete en konings maar in die lig van vers 28 veral die priesters wat vir die sonde van die volk moes offer – hulle word letterlik genoem ‘die leiers van die heiligdom;’ hulle is deur die Here ontwy – ongeskik gemaak vir hulle diens in die heiligdom vir die versoening vir die volk, om vir Israel by die Here te pleit, ook in hierdie hofsaak. Die Here het die volk aan die (cherêm banvloek) oorgegee, ongeskik om die Here s’n te wees, daarom is hulle aan uitroeiing oorgegee en aan die bespotting van die heidene. Israel kan geen getuienis of verdienste aan die hof voorlê om hulle saak te bevorder nie. Dit is die Here se genade alleen, sy liefde vir hulle, wat hulle verlossing bewerk. So gaan hulle absoluut afhanklik van die Here terug Jerusalem toe.

Skrywer:  Prof Francois Malan