Aan Satan oorgegee

Aan Satan oorgegee – Francois Malan

Engela vra: 

Ek het twee vrae. U antwoord sal waardeer word.

1) Ek verstaan nie hoe iemand aan die Satan oorgegee kan word om gered te word nie. In 1 Korintiërs 5, strofe 4, staan: Julle daar, en ek in die Gees teenwoordig, saam met die krag van ons Here Jesus, het vergader om hierdie man aan die Satan oor te gee. So sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom.

2)Dan ook: Glo u in toeval?

Baie dankie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Vraag 1

1 Kor 5:4 is deel van die paragraaf wat strek van 5:1-13 en wat in 6:14-20 uitgebrei word. Daarin spreek Paulus sy bekommernis uit oor die hoogmoed en die onsedelike seksuele lewe van die gemeentelede in Korinte, wat nie die wonderlike evangelie uitlewe in die gemeente en in hulle seksuele lewe nie. Met Christus as ons Paaslam wat vir ons geslag is (5:7) verwys Paulus na Eksodus 12:6,7,12-13, na die Joodse paasfees, met die lam wat geslag word. Dit doen hulle ter herinnering aan hulle verlossing uit Egipte, en hoe hulle eersgeborenes gespaar is toe die Here elke huis in Egipte besoek het en die eersgeborene daarin laat sterf het, maar waar die bloed van die lam aan die deurkosyne gesmeer is, het Hy verbygegaan/gespaar (Hebreeus pasag Engels: ‘pass over, spare’ vandaar die naam Paas-fees). Met die fees moes die Jode hulle huise suiwer en alle suurdeeg daaruit verwyder (Eks.12:15) en dié wat gewone brood eet, wat met suurdeeg gemaak is, sal van die gemeente van Israel afgesny word (Eks.12:19).

Christus het ons vrygemaak van die skuld en die mag van die sonde deur sy dood aan die kruis vir ons. Daarom kan ons nie voortgaan om in sonde te lewe nie. Die mense van Korinte het in onsedelikheid en ontug gelewe, en die Christene is deur God geroep om hulle van die onsedelike lewe weg te draai en kuis in die huwelik te lewe (soos 1 Kor 7:1-40 aandui). Maar daar is nou ‘n gemeentelid wat sy pa se vrou, sy een stiefma, as sy byvrou gevat het, en die gemeente is nie daaroor bekommerd nie. Hulle roem daarop dat Christus ons vrygemaak het en sê ‘alles is my geoorloof’ (1 Kor.6:12). Daarop sê Paulus: besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie (dat God self in ons kom woon het) en julle behoort nie aan julle self nie, julle is gekoop, en die prys is betaal (met Christus se kosbare bloed). Julle moet God dus in julle liggame verheerlik (6:19-20). Maar hulle is hoogmoedig, verbeel hulle dat hulle  beter is as ander (mense en gemeentes 5:2) met hulle uitlewing van die vryheid wat Christus vir ons verkry het. Maar Hy het ons juis van sonde kom bevry, en nie om daarin te lewe nie! Hulle moes eintlik getreur het oor die onsedelikheid van die man wat met sy pa se vrou saamleef, dan sou hulle die man met smarte oor sy sonde uit hulle kring verwyder het (5:2).

Daarmee wys Paulus wat hy bedoel as hy sê: ‘om hierdie man aan die satan oor te gee’ (5:4). Dit is om hom uit die gemeente te verwyder (5:2). In 5:11 sê hy dat hulle nie eers met so iemand moet saam eet nie. Saam eet is ‘n teken van gemeenskap. Oor die behandeling van lidmate wat in die sondes lewe wat in 5:11 beskryf word, sê Paulus: Verwyder die slegte mens onder julle uit (5:13).            Dit gaan om die gemeente se toewyding aan God, hulle reinheid en waarheid (5:8). Hulle moet God se lig in die donker onsedelike lewe van Korinte wees deur die manier waarop hulle lewe, ook in hulle seksuele lewe.

Maar die doel van die gemeente se verwydering van die lidmaat wat in sonde lewe, van hulle oorgee van die man aan die satan, is: ‘so sou sy sondige aard vernietig word, sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here kom.

Die oorgee aan die satan beteken dat die man oorgegee word aan sy eie begeertes, aan die lewe in die wêreld. Die satan word in 2 Kor.4:4 beskryf as ‘die god van hierdie wêreld’. So skryf Paulus bv. aan die Romeine dat God sy toorn openbaar oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid onderdruk (1:18) deur hulle oor te gee aan die drange van hulle harte en aan sedelike onreinheid, aan hulle skandelike drifte, en so bring hulle die verdiende straf vir hulle perversiteit oor hulleself (1:24,26). So iemand word oorgegee aan die mag van sy sondige begeertes waarvan hy ‘n slaaf word. Dit is juis uit die mag van die sonde wat Jesus ons kom bevry het (Romeine 8:2; Johannes 8:31-32,36).

Dat die man se sondige aard vernietig sal word deur hom aan die wêreld waar die satan heers, en hy sy eie begeertes volg, is die hoop dat die man tot inkeer sal kom, en sal besef dat hy vernietig word deur sy sondige lewe, wat ‘n lewe is weg van God en gebod af. Dit is soos die verlore seun in Jesus se gelykenis in Lukas 15:11-24, wat losbandig gelewe het, tot hy tot inkeer gekom het, en met belydenis van sy sonde teen God en sy pa, na sy pa teruggegaan het.

Die hoofklem van 1 Kor 5:4 lê egter op ‘sodat sy gees gered kan word op die dag wanneer die Here weer kom.’ Dit is die einddoel van die oorgee van die man aan die satan en so aan sy eie sondige begeertes, dat die man sal terugdraai na God toe. Dat sy gees gered word beteken dat hy omdraai na God toe en begin lewe soos God wil en nie meer soos hy self wil nie. Die redding sal hy dan ook ervaar op die dag van Jesus se wederkoms om te oordeel oor ons lewe.

Die gemeente word opgeroep om hulle bande met die man te verbreek totdat hy tot inkeer kom, en hom dan met ope arms terug te ontvang, soos die pa van die verlore seun. Daardeur word die reinheid van die gemeente bewaar deur die bose uit hulle midde te verwyder (vgl. Deutr.17:7), en word aan die sondaar ‘n waarskuwing gegee dat hy op die verkeerde pad is, weg van God en van ons Paaslam se offer vir sy sonde af. Die gemeente word opgeroep om nie tevrede te wees en selfs te roem oor sulke openlike oortredings van die opdrag van die Here nie. Die gemeente is immers die mense wat deur Christus Jesus heilig gemaak is (NAV vir God afgesonder is), en hulle is deur God geroep om heiliges te wees (1 Kor 1:2; NAV geroep om aan Hom te behoort). ‘As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle’ (1 Kor.3:17).

Vraag 2 Toeval.

HAT sê: toeval verwys na ‘n onverwagte gebeurtenis, na ‘n onvoorsiene omstandigheid, ‘n omstandigheid wat nie voorsien was nie. Maar party mense beskou dit as ‘n mag of ‘n krag.

Dat onverwagte dinge met ‘n mens gebeur is ‘n daaglikse belewenis. Maar kinders van God sien die hand en leiding van die Here daarin, en skryf dit nie aan ‘n onpersoonlike onsigbare mag of krag  toe nie.

Die Filistyne wat die ark van die Here teruggestuur het nadat pes telkens onder hulle uitgebreek het, het bv. ‘n toets gestel om te sien of die pes ‘n beskikking van die Here was of toeval, iets wat maar gebeur het (1 Samuel 6:9). Paulus sê: ‘ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet’ (Romeine 8:28) en niks kan ons van die liefde van Christus skei nie, nie lyding, benoudheid, vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard nie (Rom.8:35). Jesus het gesê: nie een mossie sal op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel…julle is baie meer werd as baie mossies (Matteus 10:29-31).

 

Skrywer: Prof Francois Malan