1

Aanbidding

 

The aim is never to become a master of the Word, but to be mastered by it. —D.A. Carson

 

Aanbidding

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

In Eksodus 20:22 – 26 sê God vir Israel hoe om te aanbid. Daar is twee foute waarvoor ons moet oppas:

  • Om hierdie wette volledig uit te gooi omdat ons dink ons kan niks hier leer nie; of
  • Om hierdie wette soos hulle hier staan te aanvaar.

Hierdie wette hanteer spesifieke situasies. Hulle was nooit bedoel om elke moontlike situasie te hanteer nie. Hulle was riglyne.

 

God se verbod op die bou van afgode sluit by die eerste vier gebooie aan. God se mense moet God alleen aanbid. In Hoofstuk 32 sien ons dat Israel hierdie voorskrifte verbreek – die goue kalf. In vers 24 – 26 sê God dan vir hulle hoe om te aanbid. God wou nie alleen hê dat die Israeliete nie afgode moet aanbid nie, maar dat hulle ook nie soos die heidene sal aanbid nie. Hier noem God vier verskille wat vandag steeds geld.

  • Eenvoud

Israel moet vir God ‘n altaar van grond of klip wat nie gekap is nie, bou. Die Kanaäniete het hulle afgode op altare van gekapte klip gebou. Heidense altare is van duur items gebou. God sê: bou van grond. Niks moes hulle aandag van die kern van aanbidding wegtrek nie – ons aanbid tog nie die altaar nie.

 

Niks in ons aanbiddingsdienste moet vir die vertoon gedoen word nie. God moet die fokus van ons aanbidding wees – nie die gebou of die leier nie. God verheug Hom in die lof van sy mense wanneer hulle in eenvoudige geboue bymekaar kom. Indrukwekkende strukture moet ons nooit beïndruk of afbreuk doen aan die voorwerp van ons aanbidding nie.

 

  • Reinheid

Julle mag nie met trappies na my altaar toe opklim nie, sodat julle julle nie by my altaar ontbloot nie.

Die Kanaänitiese aanbidding was dikwels onwelvoeglik. God gee hier opdragte oor reinheid. Later het God beveel dat die priesters onderklere van linne moes dra om te verhoed dat hulle blootgestel word. God verwag steeds reinheid van sy mense – veral die leiers.

 

  • Lokaliteit

Waar moet ons aanbid? Op elke plek waar Ek my Naam wil laat aanroep, sal Ek na julle toe kom en julle seën. Israel hoef nie elke keer na Sinai te gaan om God se teenwoordigheid te ondervind nie – daar is ook ander plekke waar hulle God kan ontmoet. Ons weet dat deur die Heilige Gees God op enige plek in die wêreld aanbid kan word. Dit gaan nie oor die plek van aanbidding nie, maar oor Wie aanbid word.

 

  • Offer

Die altaar was die plek waar vir die sonde geoffer word. In vers 24 word na brandoffers en maaltydoffers verwys. Die brandoffer is gebring vir die versoening van sonde. ‘n Dier sonder liggaamsgebrek word gebruik en alles word verbrand. Die rook styg op na die hemel. Die maaltydoffer se klem verskil. Dit is by spesiale geleenthede gebring om God te dank. Dit is die simbool van die gelowige se gemeenskap met God – God se versoening met mense. Alles word nie verbrand nie en die mense het die dier in die teenwoordigheid van God geëet.

 

God het besef dat sy mense vergifnis nodig sal hê – al het hulle die wet. Jesus Christus het eenmalig die offer vir ons sondes gebring – ‘n offer wat nie herhaal moet word nie.

 

As ons aanbid, is die belangrikste ding dat ons Jesus Christus moet onthou. Sonder Hom kan ons nie vir God ken en aanbid nie.