Aanbiddingsdienste: enkele beginsels

 “Even if I saw a ghost, I wouldn’t believe it.” Einstein

Aanbiddingsdienste: enkele beginsels

Tim Keller (Center Church) noem drie beginsels vir evangeliese aanbiddingsdienste:

  • Ons hoef nie ‘n keuse tussen om God verheerlik en mense tevrede te stel, te maak nie

Een van die geleenthede toe Jesus regtig kwaad geword het, was toe die Israeliete die tempelterrein ‘n plek van godsdienstige gemak gemaak het: Staan daar nie geskrywe: ‘My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees nie? Maar julle het dit ‘n rowersnes gemaak (Markus 11:17). Die tempel was immers daar om offers, soos God dit beveel het, aan God te bring. Hy het die ontwerp ook so gemaak dat buitestanders (nie-Israeliete) nie vergeet sal word nie. Sal Jesus Christus nie dalk vandag nog so voel nie? Daar is steeds kerke wat nie die evangelie toeganklik vir buitestanders maak nie – in hulle prediking, dienste aan nuwe besoekers, hulle kinderbediening, ens.

 

  • Aanbidding moet gelowiges opbou en ongelowiges evangeliseer

‘n Klagte wat ons soms hoor, is dat die preke nie “diep” genoeg is nie – dit is melkkos. Die aanname is dat hierdie prediking reg is vir ongelowiges, maar dat gelowiges darem meer “vaste kos” wil hê. Die doel van enige preek is transformasie en nie net om inligting te verskaf nie.

  • Evangeliese prediking beteken nie dat die preek afgewater word nie

Dit is nie waar nie. Wat wel gebeur is dat ons fokus op die sentrale waarhede van die evangelie. Dit is nie ‘n toegewing nie, want die evangelie daag mense in hulle kern uit en roep hulle op tot absolute toewyding. The gospel is offensive; nothing else should be.

Maar hoe kan ons ons aanbidding meer verstaanbaar vir nie-gelowiges maak?

  • Preek in die omgangstaal. Natuurlik moet die gemeente sekere teologiese terme verstaan, maar ons moet altyd onthou dat baie van ons terminologie verduideliking nodig het. Ons weet wat sonde, lof en verheerlik beteken, maar weet mense buite die kerk dit?
  • Verduidelik die diens soos jy vorder. Hoekom sing ons liedere, gebruik ons nagmaal, ens. Dit kan uitputtend word en daarom moet die verduideliking verkieslik tot een reël beperk word.
  • Praat direk met nie-gelowiges. Doen dit al weet jy nie of hulle daar is nie. Mense is meer geneig om hulle nie-gelowige vriende na die erediens te bring as hulle weet hulle word hanteer.
  • Gebruik bekwame kunstenaars. Hierdie kan problematies wees. Dit moet altyd met ander behoeftes gebalanseer word. Die erediens is nie vermaak nie. Die probleem is dat nie-gelowiges baie maklik aanbidding sal verwerp as dit ongekoördineer en slordig is.
  • Vier dade van genade en barmhartigheid. Die kerk moet ‘n stad op ‘n heuwel wees en aan mense die regverdigheid en deernis van God wys. Ons leef in ‘n tyd waar gemeenskappe kerke eerder as ‘n lastigheid as ‘n seën sien. Daarom moet dade wat ons woorde geloofwaardig maak beklemtoon.
  • Bedien die sakramente op so ‘n manier dat dit die evangelie verkondig.
  • Verkondig genade.
  • Vra vir toewyding. Voorsien duidelike stappe vir nie-gelowiges: wat is die volgende stap in my toewyding.