Aäron

Mense in die Bybel: Aäron (1)

Wie was Aäron? Hy was die seun van Amram en Jogebed, die broer van Moses en Mirjam. Hy het met Eliseba getrou en het vier seuns gehad: Nadab, , Abihu, Eleasar en Itamar (Numeri 26:59 – 60). In 1 Kronieke 6:3 – 15 lees ons van Aäron se afstammelinge.

In Eksodus 3 lees ons van God wat Hom aan Moses in die doringbos openbaar en aan hom ‘n opdrag gee: Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry. Moses maak allerhande verskonings waarom hy nie die geskikte persoon vir hierdie taak is nie. Een van Moses se verskonings was dat hy nie goed kon praat nie. God antwoord hom: Aäron die Leviet is mos jou broer, en Ek weet hy kan sy woord goed doen. Hy is al op pad om jou te ontmoet en hy sal bly wees om jou weer te sien … Wanneer hy namens jou met die volk praat, is hy jou segsman en jy die een wat hom sy opdragte gee (Eksodus 4:14 – 16). Toe God vir Moses na die farao toe stuur, maak hy weer beswaar, maar God antwoord: Ek gee aan jou gesag oor die farao, en jou broer Aäron sal jou woordvoerder wees (Eksodus 7:1). So word Aäron Moses se spreekbuis.

Moses en Aäron is saam na die farao en het met hom oor die vrylating van die Israeliete uit Egipte onderhandel. U het u volk soos ‘n kudde gelei deur die hand van Moses en Aäron (Psalm 77:21 – ook Psalm 105:26 en Miga 6:4). In hulle konfrontasie met die farao het Aäron se kierie ‘n belangrike rol gespeel: Vat jou kierie en gooi dit voor die farao neer dat dit ‘n groot slang word (Eksodus 7:9 – 10). Aäron moes ook met sy kierie oor al die waters van Egipte swaai en dit het bloed geword. Aäron en sy kierie speel ook ‘n belangrike rol in al die plae wat Egipte getref het.

In Eksodus 12:1 praat die Here met Moses en Aäron oor die instelling van die paasfees en die tiende plaag: die dood van die eersgeborenes. Aäron, saam met Moses, het ‘n belangrike rol gespeel in die bevryding van die Israeliete uit Egipte.

In Levitikus 10 lees ons van die tragiese dood van twee van Aäron se seuns. Hulle, Nadab en Abihu, het ongeoorloofde vuur gebruik om wierook aan God te offer. ‘n Vuur wat van die Here af gekom het, het hulle verteer en hulle het gesterf in die teenwoordigheid van die Here.

Die voorskrifte wat die Here aan die volk gegee het – oor onrein kos, onreinheid by mans en vrouens, die kamporde, ens – het Hy aan Moses en Aäron gegee. Ook by Sinai het Aäron ‘n belangrike rol gespeel. Moses word deur die Here beveel om die berg na Hom toe op te klim: Jy, Aäron, Nadab, Abihu en sewentig leiers van Israel (Eksodus 24:1). In vers 10 lees ons: Hulle het die God van Israel gesien: onder sy voete was ‘n plaveisel soos saffiersteen, so blou soos die hemel self.

Kom ons kyk na ‘n paar gebeurtenisse uit die lewe van Aäron:

(1)         Die volk het gedurig gekla oor Moses en Aäron. Dit was hulle skuld dat die farao sy slawedrywers opdrag gegee het om die Israelse slawe nog meer te dryf (Eksodus 5:20 – 21); dit was hulle skuld dat die volk nie genoeg gehad het om in die woestyn te eet nie (Eksodus 16:2 – 12); dit was hulle skuld dat die verkenners ‘n negatiewe verslag oor Kanaän gelewer het (Numeri 14); daar was selfs ‘n opstand teen Moses en Aäron (Numeri 16); dit was hulle skuld dat daar geen drinkwater was nie (Numeri 20). Soos die psalmis dit stel: Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen Aäron wat aan die Here gewy was (106:16).

(2)         Tydens die oorlog teen die Amelekiete moes Moses sy arms omhoog hou om te verseker dat die Israeliete die sterkste is. Naderhand word Moses se  arms moeg. Dit was Aäron en Hur wat sy hande omhoog gehou het en so die oorwinning verseker het (Eksodus 17).

(3)         Aäron het ook twee liter manna in die ark geplaas sodat dit vir die nageslag veilig bewaar kan word (Eksodus 16:33).

(4)         Toe Moses en Josua teen Sinai-berg opgeklim het, bly Aäron en Hur as leiers in die kamp agter (Eksodus 24:13 – 14).

(5)         Die laagtepunt in die lewe van Aäron was sekerlik die oprigting van die goue kalf (Eksodus 32). Hy laat hom deur die volk oorreed om hierdie afgodsbeeld te maak. Toe Moses hom hieroor konfronteer, pak hy al die skuld op die volk. In Stefanus se toespraak net voor sy steniging verwys hy ook na hierdie episode (Handelinge 7:40 – 41).

(6)         Aäron en sy suster, Mirjam,  was jaloers op Moses: Het die Here dan net deur Moses gepraat … en nie ook deur ons nie? Numeri 12). Mirjam is deur die Here gestraf – sy het melaats geword. Aäron is blykbaar nie gestraf nie.

(7)         Die volk was opstandig en die Here beveel Moses om twaalf kieries, een vir elke stam, met die leiers se naam daarop, in die tent van ontmoeting te sit. Die man wat die Here uitkies se kierie sal bot. Aäron se kierie het gebot en selfs bloeisels gehad (Numeri 17).

(8)         Toe die volk kla omdat hulle geen drinkwater gehad het nie, kry Moses en Aäron opdrag om Aäron se kierie te neem en met die rots te praat. Die Here sou dan water uit die rots voorsien (Numeri 20). Moses was egter ontsteld en slaan die rots twee maal met die kierie. Daarna volg die Here se oordeel:  Omdat julle My nie erken het en My, die Heilige, nie voor die Israeliete gehoorsaam was nie, sal julle hierdie volk nie inlei in die land wat Ek aan julle gee nie.

Die dood van Aäron word in Numeri 20:22 – 29 beskryf. Moses, Aäron en sy seun Eleasar het voor die volk Horberg uitgeklim. Moses het Aäron se klere uitgetrek en vir Eleasar aangetrek … Aäron is daar op die top van die berg dood.

Die een aspek van Aäron se lewe wat ek nie bespreek het nie, was Aäron se rol as priester.