Aborsie: Inleiding

Aborsie: Inleiding – Coen Slabber

Daar is veral twee vrae wat die aborsiedebat oorheers:

(1)    Is aborsie ʼn morele besluit vir ʼn individuele vrou gegewe haar spesifieke omstandighede? Hierdie omstandighede mag wees haar godsdiens, ouderdom, huwelikstatus, gesondheid, ekonomiese status, ondersteuningstelsel, ens. As ʼn vrou swanger is en sy wil nie wees nie, wat is die beste oplossing vir haar, die pasgeborene en ander mense betrokke (ouers, eggenoot, ens). Sy het basies drie keuses:

  • Gaan voort met die swangerskap en bevalling en maak die baba groot.
  • Gaan voort met die swangerskap en bevalling en gee die baba oor vir aanneming.
  • Termineer die swangerskap.

(2)    As ʼn vrou, nadat sy haar geneesheer geraadpleeg het, besluit dat sy ʼn aborsie verkies, mag die staat ʼn aborsie verbied?

Dit is veral hierdie tweede vraag wat vurige debat ontlok. Daar is twee denkstrome oor hierdie vraag:

(a)    Die pro-lewe, anti-aborsie voorstanders. Hulle glo dat die staat die vrou se besluit kan omverwerp en van haar verwag dat sy met die swangerskap moet voortgaan. Hierdie verbod is absoluut (dit geld in alle gevalle) of geld net vir sekere gevalle (daar mag gevalle wees waar dit wel gedoen mag word). Hierdie mense se benadering berus daarop dat hulle glo dat lewe begin by bevrugting en dat hierdie embrio sekere fundamentele menseregte het. Dit sluit uiteraard die mees basiese reg – die reg tot lewe – in.  Hier gaan dit oor twee mense – die moeder en haar embrio.

(b)   Die pro-keuse voorstanders. Hulle glo dat die staat nie met die vrou se besluit mag inmeng nie. Sy het die reg om ʼn aborsie te verkies. Jy kan tog nie ʼn vrou dwing om voort te gaan met haar swangerskap en geboorte nie. Voorstanders van hierdie siening glo dikwels dat lewe eers heelwat later as by bevrugting begin – sommige glo selfs so laat as by geboorte.

[Binne hierdie twee groepe is daar verskille waarvan ons nie hoef kennis te dra nie.]

Die probleem is dat meeste literatuur of sterk pro-keuse of sterk pro-lewe is. In beide is die gebrek aan objektiwiteit ʼn probleem. Data word verdraai; data wat nie hulle standpunt ondersteun nie, word geïgnoreer.

Definisies

Die probleem is dat die verskillende groepe in die debat verskillende definisies gebruik (om in te pas by hulle standpunte). Die groot verskil is op watter punt lewe begin. (In hierdie reeks het ons reeds ʼn hele artikel daaraan gewy.)

  • Aborsie: die doelbewuste beëindiging van ʼn swangerskap. Dit sluit uiteraard die verwydering van ʼn dooie fetus en die geboorte van ʼn lewendige baba uit.
  • Embrio: ʼn ongebore baba in die proses van ontwikkeling. Dit is die eerste agt weke na bevrugting.
  • Fetus: ʼn ongebore baba in die proses van ontwikkeling, maar nou agt weke of meer na bevrugting.

Voorkoms van aborsies

In die VSA eindig ongeveer 25% van alle swangerskappe in ʼn aborsie; in Rusland is dit ongeveer 60%; in Suid-Afrika ongeveer 9%. Baie mense is ongemaklik met die hele idee van aborsies. In die presidensiële verkiesing in die VSA in 1966 het Bill Clinton gesê dat hy ʼn kultuur wil hê waar aborsie “safe, legal and rare” is. Meeste mense voel dat die beste manier om aborsies te verhoed, is deur ongewensde swangerskappe te verhoed. Dit beteken of die gebruik van voorbehoedmiddels of onthouding. Onthoudingsprogramme is nie baie doeltreffend nie – ʼn mislukkingsyfer van meer as 90% in jong meisies wat seksueel-aktief is voor hulle huwelik.

Om doeltreffend te wees moet voorbehoedmiddels voldoen aan die volgende vereistes:

  • Dit moet gratis of baie goedkoop voorsien word.
  • Dit moet maklik beskikbaar wees
  • Mense moet opgelei word om hulle te gebruik (byvoorbeeld kondome).
  • Ouers moet ondersteun word.

Nederland het ʼn program ingestel om voorbehoedmiddels aan tieners te voorsien en hulle aborsiesyfer het met 85% gedaal. In die VSA sou dit 200 000 minder aborsies beteken. Die probleem is dat die Rooms-Katolieke Kerk absoluut teen die gebruik van voorbehoedmiddels is. Dit lyk egter of die lidmate die kerk se onderrig verwerp. Nie minder as 97% van vrouens (lidmate van die Rooms-Katolieke Kerk) oor die ouderdom van 18 jaar het voorbehoedmiddels gebruik wat deur die Kerk verbied is.

Gevolgtrekking:

Die aborsie-debat is baie emosioneel. Daar is veral twee groepe wat aan hierdie debat deelneem:

(1)    Die pro-keuse groep: die vrou het die reg om self oor haar eie liggaam te besluit – sy alleen kan besluit of sy met haar swangerskap wil voortgaan of nie. Die staat het geen reg om met haar keuse in te meng nie.

(2)    Die pro-lewe groep: aborsie moet deur wetgewing verbied, of ten minste tot verdienstelike gevalle (voorbeeld: die moeder se lewe in gevaar) beperk word.

Met hierdie as agtergrond gaan ons na die volgende aspekte van aborsie kyk:

(a) Aborsie in antieke tye;

(b) Aborsie en die Bybel;

(c) Aborsie in Suid-Afrika;

(d) Aborsie: Etiese argumente vir en teen; en

(e) Aborsie: die siening van sekere kerke

 

Outeur: Dr Coen Slabber