Algemene foute wat ons maak (1)

image_pdfimage_print

Obedience rendered without delight in rendering it is only half obedience. —C.H. Spurgeon

Algemene foute wat ons maak (1)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Vir ons is dit net so belangrik om te weet wat om nie te doen nie as wat om wel te doen. Daar is egter ‘n basiese les wat ons nie mag vergeet nie:  Wys vir my die man wat nog nooit ‘n fout gemaak het nie, en ek wys vir jou ‘n man wat nog nooit iets gedoen het nie.

 

Baie van die foute wat ons maak, sien ons dadelik raak, erken ons het gefouteer, stel die fout reg en beweeg vorentoe. Daar is egter foute wat meer subtiel is: ons sien hulle nie raak nie en daarom kan ons niks aan hulle doen nie. Hierdie foute is dikwels ernstig en kan ons lewens ontspoor.

Dawid, die grootste koning in die geskiedenis van Israel, was nie ‘n man sonder foute nie – groot foute. Wat egter opvallend is, is sy bereidwilligheid om sy sondes te erken. Lees net weer Psalm 51: Wees my genadig, o God, in u troue liefde wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid … Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in u oë. U uitspraak is dus reg en u oordeel regverdig. Ook Psalm 32 is van groot waarde:  Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog, soos water in somerhitte. Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê “Voor die Here bely ek my opstandigheid, en U het my skuld vergewe.”

Soms het ons ‘n geestelike broer/suster nodig om hierdie foute vir ons uit te wys; soms kry ons insig uit ‘n boek, seminaar, konferensie, preek; dikwels kry ons insig as ons die Bybel lees en bid. Die belangrike ding is dat ons hierdie foute moet raaksien, erken en hanteer voor hulle skade berokken het.

In 1 Korintiërs 9:24 – 27 gebruik Paulus die beeld van ‘n wedloop. Baie atlete neem deel, maar net een ontvang die prys. Daar is sekere foute/sondes wat ons sal diskwalifiseer: Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en self nie kwalifiseer nie. In hierdie reeks wil ons na ‘n aantal van hierdie foute kyk wat ons van die wedloop sal diskwalifiseer. Soos die psalmis moet ons bid: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad ( Psalm 139:23 – 24).

In die volgende blog gaan ons na die eerste van hierdie foute kyk: Ons laat toe dat bediening vir Jesus verplaas.

image_pdfimage_print

You may also like...