Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (4)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (4) – Adrio König

10.1.4 Jahwe Sebaot

Daar is ’n bepaalde rede waarom Jahwe Sebaot saam met El Shaddai, wat verder aan behandel word, baie belangrik is. Vir beide benamings kry ons in talle vertalings die woord “almagtig”. Jahwe Sebaot word dan vertaal met “die Here die Almagtige”, en El Shaddai met “God die Almagtige”. Beide is ongelukkige vertalings en wel om twee redes: Eerstens is sowel sebaot as shaddai se betekenis onseker, en tweedens het Hebreeus glad nie ’n woord vir “almag/almagtig” nie. Ons bepaal ons nou by sebaot.

Sebaot is ’n meervoudsvorm van saba. Saba kom voor as werkwoord en as selfstandige naamwoord. As werkwoord kan dit beteken “oorlog maak”, “vir oorlog uittrek”. Dit kan egter ook vir die tempeldiens van die Leviete gebruik word. As selfstandige naamwoord kan dit verwys na iets wat swaar, gewigtig, belangrik is. Dit verwys soms na diens wat aan iemand opgelê is soos krygsdiens. Dit kan egter ook verwys na hemelwesens (Ps 103:21; 148:2) en selfs na die sterre wat dan “die leërmag (sebaot) van die hemel” genoem word.

 

Die vraag is nou wat sebaot beteken in die benaming vir die Here: Jahwe Sebaot. Dit is in teologiese kringe ’n sterk omstrede vraag. Die eerste groot verskil is of Jahwe Sebaot beteken “Jahwe van die sebaot” of “Jahwe wat Sebaot is”. Daar is drie moontlike betekenisse.

  • “Jahwe van die sebaot” kan beteken Jahwe van die krygsmagte van Israel. In 1 Samuel 17:45 lees ons van “die Here Sebaot, die God van die linies (leërmagte) van Israel.” Hier lyk dit of die Here gesien is as die aanvoerder van Israel se leërmagte. Dan is die 1953-vertaling heeltemal goed: “Die Here van die leërskare.”
  • Die tweede moontlike betekenis is dat sebaot na die hemelse magte verwys, die engelemagte rondom die troon van die Here. Sommige meen selfs dat dit beteken die Here is die bevelvoerder van alle magte van aardse en hemelse wesens. Beide hierdie twee moontlike betekenisse gaan dus uit van die oortuiging dat Jahwe Sebaot beteken: “Jahwe van die sebaot/van die leërmagte,” of dit nou die leërmagte van Israel of die hemelse leërmagte of albei saam is. Jahwe Sebaot sou dan beteken dat God ’n belangrike, magtige aanvoerder van leërmagte is.
  • Die derde betekenis gaan uit van die ander oortuiging, dat Jahwe Sebaot beteken Jahwe wat Sebaot is. Sebaot is dan ’n sogenaamde abstrakte meervoud of ’n versterkvorm. Daar is in Hebreeus heelwat sulke vorms wat eindig met die -ot meervoudsuitgang. In die geval van die begrip wysheid sou hierdie meervoud dan iets beteken soos “ware wysheid”, en die meervoud van kennis iets soos “grondige kennis”. Dit is dus ’n intensiewe vorm. Omdat saba met mag verband hou, sou hierdie meervoudsvorm iets soos die ware mag, die groot mag kon beteken. Jahwe Sebaot het dan te doen met die koninklike majesteit van Jahwe.

 

Die vertalers gaan dan uit van hierdie moontlike betekenis en vertaal met “Jahwe die Almagtige”, maar dit is ’n baie ongelukkige vertaling

  • omdat groot mag glad nie almag beteken nie,
  • omdat hulle nou vir een van drie moontlike betekenisse kies,
  • omdat daar nie ’n Hebreeuse woord vir “almag” bestaan nie, en dié begrip wat vreemd is aan die Hebreeuse denke, nie op hierdie manier in die Ou Testament ingevoer behoort te word nie.

 

Die woord “almag” het so ’n vreemde konnotasie uit vorms van die Griekse filosofie dat dit net eenvoudig ontoelaatbaar is om dit in die Ou Testament se boodskap oor God in te dra. In hierdie filosofie beteken almag dat God enige oomblik enigiets kan doen, maar dis glad nie deel van die manier waarop die Bybelskrywers oor God skryf nie. Die Ou Testament se geskiedenis word oorheers deur die voortdurende ontrou en ongehoorsaamheid van die volk van God wat teen die wil van God agter ander gode aanloop, en dan deur God gestraf moet word. Dit is die verhaal van ’n God wat in liefde stry om die hart van sy volk. Dit is totaal iets anders as die Griekse almagtige God wat net sy vingers klap en dan staan alles en almal presies soos Hy dit wil hê.

 

Natuurlik lees ons oor en oor in die Ou Testament van die mag van die Here, want Hy kan op aangrypende maniere hopelose situasies verander. As vertalers dus ’n keuse in hierdie rigting wou maak, kon hulle die GN volg wat vertaal: “Die Here van die (ganse) wêreld/aarde,” of selfs ’n effens meer spesifieke vertaling soos: “die Here, die Magtige.”

 

Uiteindelik is die enkele vertalings egter te verkies wat hierdie benamings van God onvertaald laat en net in ons soort letters oorskryf soos Jahwe Sebaot, eenvoudig omdat die betekenis onseker is. Die tweede beste is dan om ’n betekenis te kies wat soepel is en nie so spesifiek soos “Almagtige” nie. Die 1953-vertaling het gekies vir “die Here van die leërskare”.

 

In die volgende artikel gaan ons na Jahwe Adonai kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...