Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (7)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Benamings van God (7) – Adrio König

10.3 El Shaddai, El Eljon, El Olam, El Roï

Daar is ’n aantal bekende benamings vir God wat met El gevorm word soos El Shaddai, El Eljon, El Olam, El Roï.

El Shaddai word meestal vertaal met God die Almagtige. Dit is jammer, want die betekenis van shaddai is onseker. Hierna het ons ook gekyk by Jahwe Sebaot. Ons weet nie meer met enige sekerheid wat shaddai beteken het nie. En ons is nie die eerstes wat onseker is nie. Twee eeue voor Christus het die vertalers van die Septuagint alreeds nie meer geweet nie. Hulle het dit op minstens agt verskillende maniere vertaal en soms ook onvertaal gelaat en net in Griekse letters geskryf. In die Vulgaat het die kerkvader Hieronymus dit ook op vyf verskillende maniere vertaal.

 

Daar is ’n hele aantal teorieë oor die betekenis van shaddai. Dit kan van ’n woord af kom wat sterk/gewelddadig beteken, maar ook van ’n woord wat beteken om tevredenheid te bring. Dit kan ook met “uitgooi” verband hou. Dit kan ’n berg aandui. Die gedagte dat dit inderdaad verband hou met verhewenheid of mag, is die aanvaarbaarste.

 

In die lig van soveel onsekerheid is die vertaling met “almagtig” nie geregverdig nie. “Almagtig” sê baie meer as sterk, magtig. Trouens Hebreeus het glad nie ’n woord vir almagtig nie! En die gangbare betekenis wat almagtig vir ons het, is totaal vreemd aan die Bybel se boodskap oor God. Kyk by Jahwe Sebaot. Dit is waarskynlik die beste om dit onvertaald te laat, soos die NJB: El Shaddai. Natuurlik is dit lekker om betekenis daaraan te gee. En omdat die betekenis van “mag” die waarskynlikste is, sou GN se vertaling wel oorweeg kon word (“die magtige God” – “der gewaltiger Gott,” Jes 13:6), maar dan met ’n nota dat dit onseker is. Natuurlik kan ’n mens jammer voel dat ons nie weet presies wat sekere ou woorde beteken het nie. Maar ons moet ook bereid wees om dit te erken.

 

El Eljon In hierdie geval is die betekenis van eljon goed bekend: verhewe, hoog. “Die hoë/verhewe/hoogste God” sou dus goeie vertalings wees. GN vertaal met: “Die hoogste God” (Gen14:18). Maar ook in hierdie geval is “Allerhoogste” nie verkieslik nie omdat dit deel is van die uitgebreide filosofiese sisteem van “al”- woorde vir God wat in die Griekse filosofie voorgekom het, wat baie indrukwekkend lyk, maar wat nie regtig in die Bybelse denke oor God pas nie (almagtig, alwerksaam, alomteenwoordig, alwetend). Hieroor het ek uitvoerig geskryf in: God, Waarom lyk die wêreld so? Ons kry die naam El Eljon so vroeg as Genesis 14 waar ons lees van die priester-koning Melgisedek wat koning van Salem was en priester van El Eljon.

 

Hierdie Naam het vir ’n lang tyd in die Ou Testament nie ’n besondere rol gespeel nie. Maar ná die terugkeer uit die ballingskap het dit sterk na vore gekom. Ons kry dit byvoorbeeld dikwels in Esra en Daniël, en ook in sommige Apokriewe boeke. Dit was ’n tyd waarin die Jode sterker uitgereik het na die ander volke. Skynbaar het hulle op daardie stadium verkies om nie die eg Joodse Name vir God te gebruik nie (soos Jahwe, Jahwe Zebaot), maar eerder name wat die ander volke ook vir hulle gode gebruik het. En juis dit het die Naam El Eljon baie aantreklik gemaak.

 

El Olam Die woord olam beteken gewoonlik “die verste tyd”  in die verlede in of in die toekoms in, en dan ook onbegrensde tyd. Ook hierdie Naam vir God kom eers sterk na vore in die tyd rondom die ballingskap. Dit kan vertaal word met “God van die voortyd”, of “Ewige God”. Hierdie naam is van vroeg af bekend (Gen 21:33). Dit beteken dat Hy nie aan die wisselings van die tyd onderworpe is nie. Dit stel Hom teenoor die natuurgode en vrugbaarheidsgode wat direk afhanklik is van die tydswisselings soos winter (wanneer die god sou doodgaan) en lente (wanneer hy weer sou opstaan). Dit gaan in hierdie Naam glad nie oor die gedagte dat God tydloos is nie – iets wat ons hoegenaamd nie in die Bybel kry nie, maar oor sy volkome vryheid teenoor die tyd. Hy word nie, en Hy vergaan ook nie. Dit bring dadelik sy trou na vore. Deur dik en dun is Hy by sy volk.

 

Dit is belangrik dat hierdie naam eers regtig tydens en na die ballingskap sterk na vore kom. Dit hou waarskynlik verband met die feit dat die volk gevoel het die ballingskap het hulle “doodgemaak”, hulle is vernietig, hulle is verganklik, en daarom gegryp het na Hom wat die ewige God is. In die boeke wat tydens en na die terugtog geskryf is, lees ons dikwels van El Olam (Jes 40:28). Teenoor die dag en nag wat mekaar afwissel, staan Hy as “die ewige lig” wat nie ondergaan en dof word nie (Jes 60:19-20).

 

El Roï Hierdie benaming vir God kom net een keer in die Bybel voor (Gen 16:13), wanneer Hagar wegvlug van Sara af. Die Engel van die Here ontmoet haar en beveel haar om terug te gaan. Hy gee aan haar beloftes. Dan reageer sy deur Hom (wat intussen blyk die Here te wees) El Roï te noem. Dit kan beteken die God wat sien of die Verskyningsgod. Haar rede waarom sy Hom só noem, is nie so duidelik in die Hebreeus nie. Daar is verskillende vertalings moontlik. Maar dit kom heel waarskynlik daarop neer dat die Here haar gesien het waarmee sy bedoel het dat Hy na haar omgesien het. Die naam van die fontein daar naby wys ook in hierdie rigting. Dit alles kan beteken dat sy bedoel het God is Een wat omsien na mense in nood. En daarvan getuig die res van die Bybel oorvloedig, veral die Naam Jahwe.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König