Alle Paaie lei na Jesus: Die Boodskap van die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die Boodskap van die Ou Testament – Adrio König

4.9 Die boodskap van die Ou Testament

1. Daar is ’n aantal voorstellings oor die hele wêreld versprei oor hoe God geskep het: Deur woord, daad, skeiding, stryd, ontstaan, geboorte. Israel gebruik die meeste van hulle op dieselfde wyse as die ander godsdienste. Trouens in die Ou Testament is nie ’n enkele unieke voorstelling wat nie ook elders voorkom nie.

2. Die manier waarop hierdie voorstellings elders gebruik is, het egter nie altyd gepas by Israel se geloof nie. Dit is meestal voorgestel as ’n stryd tussen gode waarin die een god die ander een verslaan en dan iets uit sy oorblyfsels skep. Dit het dikwels beteken dat sekere dinge dan goddelike status kry, veral die mens, dikwels juis die koning. Dit kon nie inpas by Israel se geloof dat net God werklik God is en dat net Hy goddelik is nie. Hulle het ’n duidelike onderskeid gemaak tussen God aan die een kant, en alle ander dinge aan die ander kant.

3. Daarom gebruik hulle ook nie regtig die geboortevoorstelling nie al kom daar nog hier en daar sydelingse verwysings daarna voor, selfs in verband met die vroulike wysheid (oa Spr 8:24-25 NJB, 1953-vertaling).

4. Omdat daar dikwels verskillende voorstellings gebruik word vir die skepping van dieselfde ding, kan ons nie uit die voorstellings aflei hoe alles geskep is nie. Die nadruk val ook nêrens in die Ou Testament op hoe of wanneer alles geskape is nie, maar veel eerder op Wie alles geskape het en hoe Hy is.

5. Die skepping word dikwels, veral in die Psalms en by die Profete, gebruik as troosboodskap. God word oor en oor geprys vir sy mag en heerlikheid dat Hy alles geskep het. En wanneer die volk dan in nood is, word hulle moed ingepraat deur juis na God se skeppermag te verwys. As Hy dít kon gedoen het, kan Hy die volk uit nood red. Dit word by uitstek in Jesaja 40-66 gedoen.

6. Dieselfde boodskap word egter net so dikwels ’n vermaning. As God só groot en heerlik is, is dit dringend noodsaaklik dat Israel aan Hom gehoorsaam sal wees.

7. Israel se skeppingsvoorstellings is nie uniek nie. Wat wel uniek is, is die verband waarin die eerste twee skeppingsverhale voorkom. Hulle is deel van Genesis 1-11 waarin ons lees hoe God van die begin af by alle volke en die hele wêreld betrokke was. By die ander godsdienste is dit nie so nie. Hulle gode is net by hulle betrokke, en hulle word dan ook eerste geskep. Maar in die Bybel is dit nie Jode wat eerste geskep word nie, maar mense. Daar is nie voor Genesis 12 sprake van Abraham uit wie God dan die voorvaders van die volk Israel laat voortkom nie. Dit beteken dat Israel se God van die begin af die God van die hele wêreld is met ’n regmatige aanspraak op alles en alle mense. Dit is een van die sterk gronde vir die stelling dat God nie eers van die tyd van Jesus af in die heidene en die hele wêreld belangstel nie, maar reg van die begin af. En op sy beurt beteken dit dat dit ’n totale misverstand is dat God in die Ou Testament nie in die ander volke belangstel nie, maar net op Israel gerig is. Kyk by die tema “Sending”.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König