Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die mens as beeld van God (2) – Adrio König

5.3.1 Mensvormige spreke oor God

Ons ken almal die manier waarop ons in die Bybel oor God lees: sy oë en neus en mond en hande en voete. Ons lees dat Hy praat en hoor en loop en sit, dat Hy ontevrede is en teleurgesteld oor al Israel se ontrou. Die Bybel is vol van hierdie mensvormige manier om oor Hom te praat. Maar is Hy regtig so? Is dit nie maar net die manier waarop die Bybelskrywers oor Hom praat sodat ons Hom in ons taal en begrippe kan ken en verstaan nie?

 

Veral sekere uitsprake in die Bybel het mense laat huiwer of God werklik so is en so doen. Die belangrikste is die tekste oor God se berou (onder andere Gen 6:6-7; Num 23:19; 1 Sam 15:11, 35; Jer 4:28; Jona 4:2). In die ouer vertalings van die Bybel het ons gelees dat God berou daaroor gehad het dat Hy iets gedoen het, byvoorbeeld dat Hy mense gemaak het of dat Hy Saul koning gemaak het. En Jona ken Hom as die een wat altyd berou het oor die oordeel wat Hy oor mense aangekondig het as die mense hulle bekeer (Gen 6:6; 1 Sam 15:11).

 

Sommige nuwere vertalings gebruik nie meer die woord “berou” nie. ’n Mens kan dit verstaan, want “berou” word baie sterk met sonde geassosieer. Die 1983-vertaling praat daarvan dat Hy bedroef is oor wat Hy gedoen het of dat Hy maklik afsien van die oordeel wat Hy uitgespreek het. Die NLV vertaal dat Hy spyt  was oor wat Hy gedoen het, maar soms tog ook weer dat Hy berou daaroor kry (Jona 4:2). Hoe die vertaling ook al presies lui, dit beteken in beginsel nog dieselfde: Hy kom terug op wat Hy gesê of gedoen het. Hy verander van plan. Is dit nie te menslik nie? Kan God dan van plan verander? (NLV by Jona 4:2.)

 

Ons maak soms iets vreemds van die onveranderlikheid van God. Ons maak van Hom ’n blok ys wat nie eens in die son kan smelt nie. Die Bybel leer ons anders. Kom ons kyk ’n oomblik na God en Jona.

 

Wie is onveranderlik?

Na sy aanvanklike ongehoorsaamheid gaan preek Jona tog in Nineve. In opdrag van God preek hy ’n oordeelsboodskap: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes” (Jona 3:4). Natuurlik wonder ’n mens waarom hy aanvanklik nie wou gaan nie, en soveel weerstand gehad het dat hy selfs van God probeer wegvlug het.

 

Maar skynbaar teen alle verwagting in, bekeer die stad se mense hulle radikaal. En ons lees: “Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer van hulle verkeerde dade, het Hy afgesien van die ramp wat Hy gesê het Hy oor hulle sal bring. Hy het nie die ramp gestuur nie” (Jona 3:10). En Jona is verheug! Nee, lees weer. Jona is kwaad. Ons gaan nou-nou na sy rede kyk. Hy gaan sit buite die stad om te sien of God Hom nie dalk tog weer sal bedink en die oordeel voltrek nie. Deur ’n wonderwerk gee God vir hom heerlike beskutting teen die stekende son, maar die volgende dag laat Hy die plant verdroog en sit Jona en vergaan van die hitte. Hy is weer baie kwaad.

 

Dan reageer die Here. Jona is begaan oor ’n plant waaraan hy niks gedoen het nie, maar God mag nie begaan wees oor ’n groot stad se mense nie. Kom ons gaan nou terug na die rede waarom Jona so teleurgesteld en selfs kwaad is toe God afsien van sy plan om die stad te verwoes. God verander sy plan omdat die hele stad hulle op Jona se preke bekeer. Sou ’n mens nie eerder verwag dat Jona in die wolke sou wees nie? Wat ’n sukses was hy nie. Derduisende mense kom tot bekering op sy preke.

Maar by Jona werk die ding heeltemal anders. Hy wou mos aanvanklik nie na Nineve gaan nie, en die Here moes hom omtrent dwing om uiteindelik te gaan. Waarom het hy toe ingestem? Was dit dalk by die heerlike gedagte dat hy die aankondiging kon maak dat Nineve verwoes gaan word? Hierdie groot Assiriese stad was ’n aartsvyand van Israel. Jona sou as held na sy vaderland kon terugkeer. Hy besluit om tog te gaan, en ek is seker hy het die preke terdeë geniet. Maar dan die bitter teleurstelling: Die stad word nie verwoes nie. Jona is in opstand. Nou gaan hy bekend staan as ’n verraaier van sy volk wat veroorsaak het dat hulle vyande se stad gespaar word. Immers hy het hulle tot bekering gepreek! En nou kom die aap uit die mou. “Ag, Here, ek het dit geweet toe ek nog in my land was. Daarom het ek reg in die begin na Tarsis toe gevlug. Ek het geweet U is ’n genadige en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde. U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het” (4:2).

 

Sjoe! Hoe werk dit? Die profeet is teleurgesteld, diep verontwaardig dat God goed is. Of nee, solank Hy vir die profeet of vir Israel sou goed wees, sou dit natuurlik lekker wees. Maar nou is Hy goed vir Israel se groot vyand! En dit maak nou van die profeet ’n gek. Dis waaroor hy kwaad is. Hy het so lekker gepreek, en nou drop die Here hom.

 

Wat is Jona se probleem? Dat hy God nie kan vertrou nie. God verander sy plan. Of liewer sy probleem is dat hy God inderdaad kan vertrou: Hy verander altyd sy plan! Jona sê mos: “Ek het geweet U is ’n genadige God.” Hy trek altyd die oordeel terug as daar egte bekering kom. Wat gaan hier aan? Hier is twee partye, een is onveranderlik, en een is veranderlik. Wie is wie? Jona is onveranderlik, God moet deurgaan met sy oordeel. Maar God is veranderlik, Hy gaan sy oordeel weerhou.

 

Natuurlik kan ons dit ook andersom sê: God is self ook onveranderlik, maar in ’n ander sin as Jona. Jona is verstok onveranderlik, God is beweeglik onveranderlik. God is onveranderlik in die sin dat Hy altyd op dieselfde manier verander: In reaksie op bekering trek Hy altyd sy oordeel terug.

 

Kom ons formuleer dit baie versigtig. God is nie sonder meer net veranderlik nie. Hy is onveranderlik in sy veranderlikheid. Hy verander altyd só. Dis hoe Jona Hom ken. Hy trek altyd die oordeel terug as daar bekering kom. ’n Mens kan dit alles baie makliker en eenvoudiger formuleer. God se veranderlikheid beteken eintlik God is getrou (onveranderlik). Hy hou sy beloftes. Hy sal altyd sy plan verander as daar bekering kom. Hy is onveranderlik daarin. Hy het beloof Hy sal verander as ons verander. Dit beteken dat God in ’n sin baie menslik is, maar nie sondig-menslik nie, maar heilig-menslik, menslik soos Hy bedoel het mense sal wees. Hy het bedoel ons moet goed wees vir mense, dat ons bereid moet wees om te vergewe, want ons is sy beeld en Hy is só.

 

Dit is ’n baie belangrike punt wat hier na vore kom. Is God menslik, of is ons “Goddelik”? Tree God soos ’n mens op, of is ons geroepe om soos God op te tree? Of is dit maar net twee kante van dieselfde muntstuk, omdat ons sy beeld moet wees? Om dit ’n keer ’n bietjie “geleerd” te formuleer: Moet ons antropomorfies oor God praat, of teomorfies oor die mens? Of is dit dieselfde saak?

Hierdie mensvormige spreke oor God is nie eie aan die Bybel nie. Dit het algemeen voorgekom in die Nabye Ooste. Maar daar is twee opsigte waarin die Bybel verskil van sy omgewing:

  • Die Bybel praat nooit in terme van menslike sondes oor God nie. In die godsdienste rondom Israel was dit algemeen. Die gode het gelieg en bedrieg, hulle was onsedelik onder mekaar. Dit is die rede waarom sommige Griekse filosowe gekla het oor die mensvormige spreke oor God, en die mense afgeraai het om dit te doen. Dit was onwaardig om sulke dinge oor gode te dink. Gode en sonde hoort nie bymekaar nie. En dis juis waar van Israel se God. Johannes beklemtoon: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh 1:5).
  • Die Bybel praat ook nooit in terme van menslike seksualiteit oor God nie. Daar is in elk geval nie vroulike gode nie, want daar is net een ware God, die God van Israel. Daar kan dus nie van seks tussen gode by Israel sprake wees nie. Die beeld van die huwelik word wel op God toegepas, op sy verhouding met Israel. Hy is die man, en Israel is die vrou. Jesus is die bruidegom, en die kerk is die bruid. Maar dis altyd in terme van liefdestrou of ontrou, nooit in terme van seksualiteit nie. En van Israel sal geskryf word dat hulle ontrou aan die Here is, selfs dat hulle “weg van die Here af hoereer”. Maar dit gaan dan altyd om godsdienstige ontrou aan die Here en aanbidding van vreemde gode.

Dit beteken dat die Bybel op ’n waardige manier menslik oor God praat.

 

En juis dit bring ons by Hosea 11. Hier lees ons hoe God dit nie kan regkry om die oordeel, wat Israel al oor en oor verdien het, te voltrek nie. Waarom nie? Ons lees: “Want Ek is God, nie ’n mens nie” (11:9). God tree juis anders op as mense! Hoe nou? Hy tree nie op soos mense “normaalweg” optree nie, maar soos God verwag dat mense sal optree. Hoe het God ons bedoel? “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matt 22:37-38). Só tree God menslik op! Maar terég het die Joodse teoloog Heschel gevra waar ’n mens sulke mense kry. Jona was in elk geval nie so nie. Hy wou juis die oordeel deurgevoer hê. Is dit nie eerder hoe mense is nie? Het ons as Christene ’n antwoord op Heschel se vraag? Is daar sulke mense? Ek weet nie regtig van mense nie. Maar is daar nie een nie? Is dit nie hoe Jesus geleef het nie?

 

Is dit waar dat die Bybel se menslike manier om oor God te praat, eintlik dié mens Jesus in die oog het? Hy het ons mos kom wys hoe God ons bedoel het. En dan is ons roeping juis om te word wat ons veronderstel is om te wees: soos Jesus. Dan is dit ons roeping om Hom deur die krag van die Heilige Gees na te volg, sodat ons regtig iets van God in ons lewenswyse kan vertoon. Dan sal ons onsself in God se optrede herken, dan tree ons teomorf op, soos Hy antropomorf optree!

 

Ons hoef dus nie te huiwer oor die manier waarop die Bybel in menslike terme en beelde oor God praat nie. Die Bybelskrywers bedoel dit ernstig. Hy is so, Hy wil so wees, want ons is sy beeld, altans ons is bedoel om sy beeld te wees, soos Jesus. Hy tree soos Jesus op, of Jesus soos Hy, en juis daarom het Jesus Hom aan ons geopenbaar. Daarby kom ons nou.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König