Alle Paaie lei na Jesus: Die onvervulde profesieë van die Ou Testament

Alle Paaie lei na Jesus: Die onvervulde profesieë van die Ou Testament – Adrio König

8.6 Die onvervulde profesieë van die Ou Testament

Ons moet mooi nadink oor wat ons met onvervulde profesieë bedoel. Ons het reeds gesien dat profesieë besonder vry en op verrassende maniere vervul word. Niemand sou ooit kon dink Amos 9:11-12 is in Paulus se heidensending vervul as Jakobus dit nie spesifiek uitgewys het nie, of dat Joël se oorlogsprofesie in die koms van die Gees vervul is nie. Dit beteken dat baie van die sogenaamde onvervulde profesieë vervul kan wees op maniere  waaraan ons nooit eens kan dink nie. Daar is immers nêrens in die Bybel die gedagte dat elke vervulling van ’n profesie in die Bybel aangekondig word soos byvoorbeeld die vervulling van Amos 9 en Joël 2 nie.

Verder is dit duidelik dat talle van die profesieë wat oorspronklik oor Israel uitgespreek is, later vir die kerk vervul is. Ons het na talle verwys. Maar dit is eenvoudig dié waarvan die vervulling aangekondig is. Hoeveel ander profesieë oor Israel is daar dalk wat ook vir die kerk vervul is, maar nooit aangekondig is nie?

 

Derdens is daar veral ’n aantal profesieë in verband met die terugtog van Israel uit die ballingskap wat as onvervulde profesieë beskou word. Daar is twee groepe waarna ons kortliks kan kyk, dié waarin die profeet skynbaar verwys na ’n ballingskap en terugkeer wat later sal plaasvind as die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap, en ook ’n terugkeer uit baie lande terwyl Israel tog net uit Babilon sou teruggekeer het.

 

Hier word veral verwys na profesieë in Sagaria 7 en 10. Wat die laaste groep betref, moet ’n mens onthou dat sommige profete wel na die ballingskap na Babilon verwys as ’n ballingskap na baie lande, sodat hulle ook in dié terme van die terugkeer sou kon praat (Eseg 20:41; 36:19; Jer 30:11; Ps 44:12). En wat ’n later terugkeer ná die bekende groot terugkeer betref, moet ’n mens onthou dat die ballinge nie eens naastenby almal gelyk in die bekende groot terugkeer in 539 teruggekom het nie. Selfs 50 jaar ná hierdie terugkeer, was daar saam met Ester nog soveel ballinge in Babilon dat hulle 75 000 van hulle teenstanders kon ombring (Est 9:16). Die profete het dus nog altyd ná die oorspronklike terugkeer, van toekomstige terugkere gepraat.

 

Daar is dus nie rede om in hierdie profesieë ’n toekomstige ballingskap in te lees met ’n terugkeer wat eers in 1948 na Palestina plaasgevind het en nog steeds nie afgehandel is nie. Anders as die gedetailleerde sisteem van dinge wat in die toekoms moet gebeur, meen ek daar is net oor vier toekomstige dinge regtig duidelikheid:

  • Die wederkoms van Jesus
  • Die opstanding
  • Die oordeel
  • Die nuwe hemel/aarde

 

En as ons onthou hoe vry en onvoorspelbaar profesieë vervul word, sal ons huiwerig wees om die vervulling van hierdie profesieë alte realisties voor te stel. Ons kan van een ding heeltemal seker wees: Ons sal grondige verrassings kry in die vervulling van die uitstaande profesieë.

 

In die volgende gedeelte gaan ons na die uittog uit Egipte kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König