Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (1) – Adrio König

4.8 Die Psalms, die Profete en die Wysheidsliteratuur

In hierdie artikel gaan ons kyk na die skeppingsbeskrywings in die psalms.

4.8.1 Die Psalms

Ons vergeet maklik dat die skepping dwarsdeur die Bybel ’n baie algemene onderwerp is. Daar is byvoorbeeld 30 Psalms wat na die skepping verwys, sommige selfs in baie besonderhede. Kyk byvoorbeeld na Psalm 19, 74, 89, 104, 148.

 

Stryd by die skepping

Dis ook interessant dat sake wat nie prominent was in die eerste twee skeppingsverhale nie, hier sterk na vore kom. Dink maar net aan die see wat ingeperk moet word omdat dit ’n bedreiging van die mens se lewe is. Daarvan was geen sprake in Genesis 1 en 2 nie. Trouens die chaosmagte kom by die naam voor: Leviatan, Rahab, Behemot. Hierdie stryd by die skepping is prominent in Psalm 74:12-15; 89:9-11; 104:6-9. As ’n mens hierdie dele lees, besef jy skielik daar is inderdaad sydelingse verwysings na hierdie stryd in Genesis 1. “Dit was donker op die diep waters” (1:2) vervul ’n mens klaar met huiwering as jy onthou dat net die volgende vers lui dat God dadelik lig gemaak het en die duisternis van die lig afgeskei het. Hierdie huiwering word bevestig deur die feit dat daar dan twee verskillende skeppingswerke nodig is om die water onder bedwang te kry (1:6-7, 9-10).

 

Hoe verskillend die eerste twee verhale regtig is, word dan duidelik as jy onthou dat daar in die tweede verhaal geen verwysing na dreigende water is nie, net na lewegewende water wat oorspronklik nog nie daar was nie.

 

Lof aan God

’n Tweede saak wat ook nie uitgesproke na vore kom in Genesis 1 en 2 nie, is die lof aan God oor sy skeppingswerk. Dis miskien die belangrikste motief in die Psalms (19:1-5; 89:6-11; die hele 148!). Psalm 104 is as geheel ’n skeppingspsalm. Die hele Psalm is ingesluit tussen die eerste en die laaste verse wat die lof aan die Here besing.

 

Psalm 74 is in hierdie verband baie interessant. Die middeldeel is ’n lofuiting wat die groot mag van die Here by die skepping besing (12-17). Maar op die oog af pas dit nie by die eerste en die laaste dele nie. Die eerste deel (1-11) is ’n roerende klag oor die dadeloosheid van die Here te midde van die vreeslike nood van die volk (hulle is waarskynlik in ballingskap). Die derde deel (18- 23) is ’n dringende oproep dat die Here in die nood moet ingryp terwille van sy eer, die verbond en die volk self. Hierdie twee dele pas presies bymekaar: die nood, en die roep om hulp. Maar hoe pas die lof oor die groot mag van God by die skepping nou hierby?

 

Daar is dan ook heelwat pogings aangewend om lesers te oortuig dat dit ’n ongeluk is dat dié deel hier beland het. Dis sou dan deel gewees het van ’n ander lofpsalm. Maar is dit nodig? Kom ons kyk mooi wat ons hier het: ’n klag en ’n roep om hulp. Van wie moet die hulp kom? Van die Here. Wie is Hy? Vers 12-17: Die Een wat tydens die skepping die roemrykste oorwinnings oor die chaosmagte behaal het. Maar dan versterk die digter mos deur hierdie loflied oor die groot mag van God sy eie geloof, en versterk dit die oproep aan die Here om hulle uit die nood te red. Die herinnering aan God se skeppingsmag is dus ekstra motivering vir die dringende oproep om hulp.

 

Psalm 104 is ’n besondere skeppingspsalm. Dit herinner in baie opsigte aan Genesis 1. Daar is ook  teorieë dat dié twee onderling van mekaar afhanklik is. Hierdie Psalm het ook iets van die omvattende en sistematiese benadering van die eerste verhaal, al is die struktuur nie so presies en so strak nie. Maar dan is die afwesigheid van die ses dae en die Sabbat juis opvallend. Dit herinner ons daaraan dat ons nie een verhaal as dié verhaal moet beskou nie (iets wat baie mense juis met Genesis 1 doen), maar elke verhaal se eie waarde moet bepaal.

 

In die volgende artikel gaan ons na die skeppingsbeskrywings in die profete kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König