Alle Paaie lei na Jesus: Die sorg van die Here

Alle Paaie lei na Jesus: Die sorg van die Here – Adrio König

4.6 Die sorg van die Here

’n Laaste belangrike saak is die merkwaardige sorg van die Here vir die mens. Juis dit maak hierdie verhaal ’n besondere verbondsverhaal. Die Here plant ’n wonderlike tuin waarin Hy die mens “tot rus bring”, om dit te bewerk en te bewaak. As ’n mens onthou hoe droog groot dele van Israel in daardie tye was, is die water en die vrugtebome oorweldigend. Daar loop ’n rivier wat buite die tuin in vier groot riviere verdeel. Dis ’n simbool van oormaat. So iets was eenvoudig onbekend in Israel. En die vrugtebome! Daar was seker geelperskes.

Dan kom die interessante uitspraak van die Here: “Dit is nie goed nie … ” (2:18). Dis presies die teenoorgestelde van die reeks uitsprake in die eerste verhaal toe alles wat Hy geskep het, juis goed was. Wat is nie goed nie? Die eensaamheid van die mens. Hy is nie gemaak om alleen te wees nie.

 

Dadelik maak die Here die diere en bring hulle na die mens. Hy moet hulle name gee, wat ’n simbool van beheer en heers is. Maar was daar ’n verdere motief daaragter dat die Here die diere na die mens bring? Die mens soek ’n maat. Moes hy eers deeglik bewus word van sy identiteit? Moes hy dit eers beleef dat hy nie ’n dier is nie, dat ’n dier nie sy maat kan wees nie? Dit lyk nogal so, want ons lees: “Maar vir homself het hy nie ’n maat, ’n gelyke, gekry nie.” Eers dan word spesiaal vir hom ’n maat gemaak. En sy is nou van sy soort. Sy pas by hom, iets wat nie van die diere gegeld het nie. So sorg die Here vir die mens in hierdie pragtige verbondsverhaal.

 

Ons het nou ‘n oorsig oor die skepping na aanleiding van Genesis 1 en 2  gekry. Nou volg ‘n belangrike vraag: Het alles presies so gebeur? Daarna kyk ons volgende keer.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König