Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die Toekoms van Israel (2) – Adrio König

’n Nuwe fase ná die verharding?

Daar is mense wat oortuig is dat die verharding van Israel tydelik is, en dat daar ’n nuwe fase in Israel se geskiedenis kom wanneer al die onvervulde profesieë van die Ou Testament vir hulle vervul sal word. Dit word dikwels aan die Duisendjarige Vrederyk verbind. Kom ons kyk na uitsprake in die Nuwe Testament wat volgens hulle in hierdie rigting wys.

Handelinge 3:19-21 Alhoewel Israel deur Jesus verwerp is omdat hulle Hom as Messias verwerp het (Matt 21:43), word hier ’n deur van genade geopen. Dit is ook presies wat Paulus as hulle toekoms aanvaar: Hulle moet hulle bekeer, dan sal God hulle weer aanvaar en hulle sonde vergewe, en dan wag hulle soos ons almal, op die wederkoms van Jesus (“tye van verkwikking”). Dat hierdie uitdrukking inderdaad na die wederkoms verwys, word duidelik uit die volgende vers waar ons lees dat Jesus “in die hemel moet bly totdat God alles nuutgemaak het”, wat tog seker ’n verwysing na die wederkoms en die nuwe aarde is (Op 21:5), en sekerlik nie na ’n vrederyk op die ou aarde wanneer alles nog nie nuutgemaak sal wees nie.

 

Lukas 21:24 “Sommige sal deur die swaard val en ander as krygsgevangenes na al die nasies toe weggevoer word. Jerusalem sal deur die heidennasies vertrap word totdat hulle tyd verby is.” Die belang van hierdie uitspraak van Jesus is dat daar verwys word na die tyd van die heidennasies. Sommige meen wanneer dié tyd verby is, breek daar vir Israel ’n nuwe tyd aan. Daar is egter nie van so iets sprake nie. Net soos in Romeine 11:25 word gepraat van die einde van die tyd van die heidennasies, maar nie van ’n tyd daarna nie. Daar is ook hier geen rede om aan te neem dat daar vir Israel ’n besondere nuwe tyd voorlê nie.

 

Matteus 10:23 “Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie.” Dit is ’n besonder moeilike uitspraak van Jesus. Maar dit beteken in elk geval skynbaar ten minste dat die evangelisasie van Israel tot by die wederkoms van Jesus sal voortgaan. Maar daar word niks oor ’n besondere toekoms van Israel gesê nie.

 

Matteus 19:28 Hiervolgens sal daar ’n tyd kom wanneer Jesus se volgelinge oor Israel sal regeer. Die verwysing na “alles wat nuutgemaak sal word” laat weereens aan die wederkoms dink, en die “regeer” ook. Dink maar net aan Openbaring 22:5 waar volgens die kinders van God op die nuwe aarde tot in alle ewigheid sal regeer.

 

Matteus 23:39 “Maar Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat die dag kom wanneer julle sal uitroep: Loof Hom wat in die Naam van die Here kom.” Sommige is oortuig dat ons hier ’n duidelike aanduiding het dat daar vir die volk Israel ’n nuwe en besondere tyd voorlê wanneer hulle Jesus as Messias sal aanvaar. Dit is egter nog steeds moontlik om hierin ’n verwysing na die wederkoms te sien. Ons lees elders dat elkeen die knie sal buig, en elke tong sal bely (nie maar net “erken” nie!): ”Jesus Christus is Here” (Fil 2:10-11). Natuurlik kan die teks ook beteken dat die Jode in Jesus sal glo. Daar het altyd Jode tot bekering gekom, en Paulus het selfs verwag dat die massa Jesus as Messias kan aanvaar. Maar dit het nog nie iets te doen met ’n nuwe tyd in die geskiedenis van Israel wat as bekeerde volk op aarde regeer nie.

 

Matteus 24:32-33 Die teks van die vyeboom wat bot, het altyd die aandag getrek. Daar word beweer dat dit ’n beeld vir Israel is, en dat “bot” beteken dat daar vir die volk ’n nuwe begin sal wees. Hierdie teks is vroeër graag toegepas op die stigting van die staat van Israel in 1948. Dat die vyeboom bot, sou beteken dat Israel terugkeer na sy land.

 

Daar is egter twee probleme in verband met so ’n uitleg. Die eerste is dat Lukas 21:29 lui: “Let op die vyeboom en al die ander bome.” As die vyeboom se bot die terugkeer van Israel na Palestina beteken, moet al die ander volke ook terugkeer na hulle lande van herkoms!? En tweedens is daar geen rede om aan te neem dat die vyeboom en die ander bome hier simbole van volke is nie. Hier is ’n direkte toepassing op die bome self: As die bome bot, is die somer naby. Net so moet die dissipels weet die koms van Jesus is naby as hulle bepaalde tekens sien (Matt 24:33; Luk 21:31).

 

Dit beteken dat ons nie in die Nuwe Testament ’n aanduiding het van ’n besondere toekoms vir Israel as volk nie. Hulle is deur God verwerp uit hul besondere posisie as sy uitverkore volk deur wie Hy die heidene wou naderlok. Ook Paulus het ’n sterk uitspraak hieroor: “Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref” (1 Tess 2:16).

 

Ons moet nie hierdie verwerping van Israel verkeerd verstaan nie. Hulle is nie uit die heil verwerp asof hulle nou almal verlore moet gaan nie. Hulle is as volk verwerp uit die unieke verhouding waarin hulle met God verkeer het om sy spesiale middel te wees deur wie Hy die volke wou naderbring. Maar omdat hulle profeet na profeet verwerp het en uiteindelik dié Profeet, het die Here van hulle afgesien as sy spesiale werktuig om die volke te bereik. Wat egter wel vir hulle oorbly, is om die evangelie te hoor en te glo, in hulle geval in besonder te glo dat Jesus hulle beloofde Messias is. Dan word hulle gered en word hulle weer deel van die volk van God in sy nuwe gestalte: die kerk as al die gelowige Jode en heidene saam.

 

Daar is dus ’n sin waarin die volk Israel en die heidene in dieselfde posisie is. By Paulus lees ons: “Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie … want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Rom 10:12-13).

 

As ons besluit dat daar geen besondere toekoms vir Israel as volk is nie, kan ons dieselfde sê van die Duisendjarige Vrederyk wat ná die groot verdrukking en die wederkoms van Jesus sou kom. Sonder om in besonderhede hierop in te gaan, is dit duidelik dat daar nóg in Jesus, nóg in Paulus of enige ander skrywer van die Nuwe Testament se weergawe van die toekoms ruimte is om ’n duisend jaar van vrede op ’n ou, onvernude aarde in te pas. Die enigste verwysing na so ’n tydperk, Openbaring 20:1-7, is so insidenteel en ook so omstrede dat ’n mens nie ’n hele leer daarop kan bou nie. ’n Mens moet dus tot die konklusie kom dat die Nuwe Testament nie so iets leer nie.

 

In die volgende artikel gaan ons na die onvervulde profesieë in die Ou Testament kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...