Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (9)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (9)- Adrio König

9.3 Die betekenis in die Nuwe Testament

Die uittog speel nie ’n besondere rol in die Nuwe Testament nie. Dis nogal vreemd as ’n mens onthou hoe belangrik dit in die Ou Testament was en ook hoe dikwels die skrywers van die Nuwe Testament na die Ou Testament verwys (hoofstuk 6).

Daar is wel ’n paar verwysings. In Handelinge 7 is dit deel van Stefanus se lang oorsig oor Israel se geskiedenis. Hy skryf eensydig negatief oor Israel se rol tydens die uittog (Hand 7:39- 45). Hebreërs 11 handel oor die sogenaamde geloofshelde van die Ou Testament. Dis merkwaardig hoeveel aandag hy aan veral Abraham gee, en ook aan Josef en Moses, en daarteenoor dan die minimum aandag aan die uittog (11:29-30). Hy gee Israel se rol eensydig positief weer, maar met net twee kort verwysings: die tog deur die Rooisee en die val van Jerigo. Dis merkwaardig dat veral oor die deurtog deur die see ons net lees: “Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond,” terwyl ons goed weet hoe hulle gevrees het en in opstand was. Daar is dus nie soveel nuuts in verband met die uittog in die Nuwe Testament nie, behalwe die wyse waarop dit wel direk op Jesus uitloop. Daar is drie belangrike verwysings.

 

9.3.1 Jesus as die paaslam

Jesus word “ons Paaslam” genoem (1 Kor 5:7). Dis duidelik ’n terugverwysing na die instelling van die Paasfees tydens die uittog. Daar is meer verwysings na Jesus as die Lam (Joh 1:29, 36; 19:36; 1 Pet 1:19; Op 5:6). Dit is nie elke keer duidelik na watter lam in die Ou Testament dit terugverwys nie. In die Ou Testament is daar van drie verskillende lammers sprake:

  • die paaslam (Eks 12),
  • die lam wat daagliks geoffer is (Num 28:4),
  • en die lam van Jesaja 53:7.

 

Dit is nie regtig nodig om in elke geval presies te onderskei oor watter lam dit gaan nie. Minstens twee van die lammers het verband gehad met verlossing/vergifnis. Die betekenis van Jesaja 53 se lam het juis direk met sonde te doen. “Die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” En alhoewel dit nie duidelik is dat enige van die verwysings na Jesus as die Lam regtig teruggaan na die brandoffer van Numeri 28 nie, kan die betekenis van die brandoffer inderdaad ook na Jesus verwys. Dit was ’n lam as ’n offer aan die Here vir die beskerming teen gevare.

 

 Maar daar is besondere nadruk op Jesus as die Paaslam. Hy word uitdruklik só genoem in 1 Korintiërs 5:7. En die paaslam moes juis die nag van die uittog die volk beskerm teen die oordeel van die Here. Veral Johannes bring dit nog baie meer direk in verband met Jesus se kruisoffer vir ons sonde. Dit bring ons by een van die interessantste verskille tussen Johannes en die Sinoptiese Evangelies. Volgens die Sinoptici het Jesus die nagmaal op Donderdagaand tydens die Paasfees ingestel, sodat Hy die dag ná die Paasfees gekruisig is. Maar volgens Johannes sou die Paasfees eers Vrydagaand ná sy kruisiging gevier word.

 

Volgens die eerste drie Evangelies eet Jesus en sy dissipels die paasmaal die aand voor Hy gekruisig is (Matt 26:17 ev). Dit is trouens juis tydens hierdie paasmaal dat Jesus die nuwe “Paasfees”, die nagmaal, instel (Matt 26:20 ev) wat beteken dat daar ’n direkte verband is tussen die Paasfees en die nagmaal. Beide is bevrydingsfeeste, bevryding uit slawerny. Israel is bevry uit die slawediens in Egipte, en ons uit die slawediens aan die sonde. Jesus word dan laat daardie nag gevang, en sterf die volgende dag, Vrydagoggend, die dag ná die Paasfees.

 

Maar volgens Johannes eet Jesus en die dissipels die Donderdagaand ’n gewone maaltyd. Johannes skryf uitdruklik dit was vóór die Paasfees (Joh 13:1 ev) en hy het geen verwysing na hierdie maaltyd as ’n paasmaal nie, en geen sprake daarvan dat Jesus die nagmaal instel nie. Dit is ’n gewone ete. Johannes doen selfs moeite om dit te benadruk. As hy die ete begin beskryf, lees ons: “Voor die viering van die paasfees … ” en as Jesus Judas tydens die maaltyd uitstuur, dink die dissipels dis om die dinge te gaan koop wat hulle (die volgende dag) vir die paasmaal sou nodig hê (13:29).

 

Die Paasfees sou dus eers die volgende dag gevier word. Presies dit lees ons ook oor die verhoor van Jesus vroeg Vrydagoggend. “Toe het hulle (die Joodse leiers) vir Jesus van Kajafas na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet” (Joh 18:28). Hiervolgens sou die Paasfees dus die aand ná Jesus se kruisiging gevier word, en nie die aand toe Hy gevange geneem is, soos die Sinoptici dit het nie.

 

Wat nou belangrik is, is die feit dat Hy volgens Johannes juis die oggend gekruisig is toe die lammers vir die Paasfees geslag moes word. Hy is dus die nuwe Paaslam. Johannes beklemtoon dit nog verder deur te skryf dat hulle nie Jesus se bene gebreek het nie, maar met ’n spies in sy sy ingesteek het, en dat die Skrif, wat lui dat geen been van die paaslam gebreek moes word nie, op dié manier vervul is (Joh 19:33, 36).

 

Ons het dus hier ’n besonder interessante situasie. Die Sinoptiese Evangelies lê doelbewus ’n verband tussen die Paasfees en die nagmaal – ’n volkome sinvolle verband. Jesus stel tydens die Paasfees die nagmaal in wat net soos die Paasfees ’n bevrydingsfees is. Maar Johannes lê ’n verband tussen die paaslam en Jesus as die nuwe Paaslam – net so ’n sinvolle verband. Dit laat ons natuurlik met die baie interessante vraag hoe dit is dat die Evangelies oor so ’n saak so duidelik kan verskil. Heelwat pogings is aangewend, veral deur teoloë wat aan die letterlike onfeilbaarheid van die Bybel vashou. Die aanvaarbaarste van hierdie verklarings is waarskynlik dat die Paasfees op enige van sewe aande gevier kon word, omdat dit deel was van die Fees van die Ongesuurde Brode wat sewe dae lank geduur het (Eks 12). Hulle meen dat Jesus en sy dissipels doelbewus ’n vervroegde Paasfees gehou het, dat hulle die Paasfees met een dag vervroeg het. Dit is nie ’n onredelike verklaring nie, maar dis tog geforseerd. Niemand sou ooit aan so ’n uitgestelde fees gedink het as dit nie was dat hulle die Sinoptiese Evangelies en Johannes wil laat ooreenstem nie. Nêrens is daar sprake dat dit nie op die gewone datum gevier is nie, en dit terwyl daar nogal heelwat verwysings na hierdie Paasfees is.

 

Die alternatief is om te aanvaar dat die Evangelies verskil, soos hulle inderdaad op baie ander kleiner punte van mekaar verskil. Hulle gesag lê nie in die feit dat hulle in elke detail met mekaar saamstem nie, maar in die boodskap wat hulle bring. En oor hierdie verskil wanneer die Paasfees was, het hulle ’n volkome geloofwaardige boodskap. Hulle belewing en weergawe van die geskiedenis was nie dieselfde as ons moderne eis van presiesheid nie. Ons kom in die volgende bladsye weer hierop terug met die vlug na Egipte. Maar die Bybelskrywers het dikwels die geskiedenis in diens van die Evangelie gestel en daarby aangepas.

 

Die punt van Jesus en die Paasfees is egter duidelik. Sy dood het alles met die Paasfees te doen. Hy stel ’n nuwe bevrydingsfees in tydens die Joodse bevrydingsfees, ’n bevryding wat veel heerliker is as dié uit Egipte, bevryding van die skuld en die mag van die sonde. Maar Hy is self ook die nuwe Paaslam, en Hy het ’n veel heerliker betekenis as die oorspronklike paaslam. Die paaslam in Egipte moes die volk beskerm teen die doodsengel wat hulle eersgeborenes sou laat sterf, maar die nuwe Paaslam beskerm ons teen die ewige oordeel van God.

 

Ons is besig om te kyk na die betekenis van die uittog uit Egipte in die Nuwe Testament. In die volgende artikel gaan ons na Jesus as die rots kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...