Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond

Alle Paaie lei na Jesus: Die verbond – Adrio König

5.2 Die verbond

Dit is opvallend dat daar nêrens in die Bybel ’n poging aangewend word om die mens te ontleed nie. Niemand probeer noukeurig analities beskryf wat ’n mens is nie. Selfs in die Psalms en die Wysheidsliteratuur waar die enkele persoon sterk na vore kom, is dit omtrent altyd in verhoudings met ander of met God.

Trouens ons weet almal dat dit juis groepe mense in verhouding met God is wat ter sprake is in beide Testamente: Israel in die Ou Testament, en die geloofsgemeenskap, die kerk, in die Nuwe Testament. Maar van beide groepe geld dadelik dat hulle is wat hulle is op grond van hulle verhouding met God. Hulle verhouding met Hom is sonder meer beslissend vir wat hulle is.

 

Israel is nie ’n volk wat bo en behalwe hulle kultuur en volkslewe óók nog in gemeenskap met God leef of moet leef nie (kyk by hoofstuk 8.1). Voor God Abraham en Sara uitgekies het om uit hulle ’n volk te bou, was daar glad nie ’n volk soos Israel nie. En verder het God nie uit Abraham en Sara ’n volk gebou nie, maar ’n volk-vir-Hom. Israel is Israel omdat hulle die volk van God is. As hulle hulle verhouding met God prysgee of verwaarloos, word hulle soos die ander nasies, is hulle eenvoudig nie meer Israel nie. Die uittog, die geboorte van Israel as volk, nee, die geboorte van Israel-as-volk-van-God, word gelyk aan enige volksverhuising van watter heidense volk ook al. As Israel volhardend aan God ongehoorsaam is, sê Amos: “Julle Israeliete is vir My niks anders as die Kussiete nie, sê die Here. Ek het vir Israel uit Egipte laat trek, maar ook die Filistyne uit Kaftor en die Arameërs uit Kir” (9:7). Die unieke uittog uit Egipte waarvan die hele Ou Testament vol is (hoofstuk 9), word dus ’n gewone volksverhuising sonder enige godsdienstige betekenis.

 

En Jeremia laat die Here sê: “Daar kom dae, sê die Here, dat Ek selfs almal wat besny is, gaan straf, of dit nou Egipte, Juda, Edom, die Ammoniete of Moab is … want al hierdie volke is tog maar onbesnede, en die hele Israel is onbesnede van hart, hulle is ontrou aan My” (Jer 9:25-26). Israel kom op dieselfde vlak as alle ander volke as hulle verhouding met die Here verval. Wat Israel Israel gemaak het, was die feit dat God hulle as sy volk voortgebring het.

 

Maar onthou Israel is die verteenwoordiger van die mensdom. God het ook nie mense sonder meer gemaak nie. Hy het mense as-sy-beeld en mense as-sy-bondgenote gemaak. Wat mense is, of liewer wat ons behoort te wees, sal dus beslissend bepaal word deur ons verhouding met Hom, en in besonder ons verhouding as sy beeld en sy bondgenote.

 

In die hoofstuk oor Abraham (hoofstuk 1) het ons reeds breedvoerig gekyk na die verbond. Ons gaan dus hier net ’n paar sake oor die verbond herhaal wat ons sal help om te verstaan wie ons behoort te wees in hierdie unieke verhouding. Die een groot saak was dat die verbond ’n monopleuriese verbond is. Dit het ’n enkelvoudige kant (mono-), maar ook ’n meervoudige kant (-pleuries). Die enkelvoudige kant is die feit dat God die inisiatief geneem het en voortgaan om dit te neem. Hy kom na Abraham, nie Abraham na Hom nie. Hulle onderhandel nie om ’n ronde tafel nie, Abraham staan op sy knieë en die Here kondig net die verbond af.

 

Dit is dus in beginsel ’n ongelyke verhouding, ’n verbond waarin ons net gevra word om te antwoord, nie die eerste woord te sê nie. Ons het in hoofstuk 1 gesien dit het wonderlike implikasies. Dit   beteken onder andere dat God alleen sal besluit oor die verbond, dat Hy kan besluit om met die verbond voort te gaan ondanks die feit dat ons dit keer op keer verbreek. Israel se geskiedenis is vol daarvan.

 

Maar juis die ongelykheid maak die verhouding paslik. As dit ’n onderhandelde ooreenkoms was, het dit nie lank gehou nie. Voor Israel in die middel van hulle tog deur die woestyn was, sou God hulle al gelos het. Hulle was van die begin af traag, onwillig, in opstand (hoofstuk 9). Maar omdat God se motivering agter die verbond liefde was, en nie wins nie, het Hy eensydig besluit om aan te gaan – vir eeue lank. En gaan dit nie met ons dalk maar omtrent net so nie?

 

Maar wanneer ons by die eienskappe van die mens kom, sal hierdie basiese ongelykheid om nog meer redes belangrik wees.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König