1

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1)

Alle Paaie lei na Jesus: Eienskappe van die mens (1) – Adrio König

5.4 Eienskappe van die mens

5.4.1 Twee soorte eienskappe

Ons kan die mens se eienskappe in twee groepe indeel. Maar voor ons daarby kom, eers die basiese vraag: Hoe sal ons uitvind watter eienskappe God graag in ons lewe wil sien? In die geskiedenis is verskillende pogings aangewend om ’n beginsel of uitgangspunt te kry van waar ons na ons eienskappe kan vra. Adam en Eva in die Paradys is dikwels gebruik. Mense het presies probeer aflei hoe hulle voor die sonde was, wat hulle eienskappe was. Die gedagte was dan dat ons weer so moet wees. As ’t ware moet terugwerk Paradys toe.

Maar minstens twee dinge is tog duidelik. Eerstens dat daar nie regtig soveel inligting oor die mens in hierdie eerste drie hoofstukke gegee word nie. Hoofstuk 1 sê eintlik net ons is as God se beeld geskape, dat ons aangestel is om te heers, en dat mense bestaan uit mans en vroue sodat hulle kan vermeerder. Dis te min om enigsins ’n prentjie te vorm van wat ons bedoel is om te wees. Verder is dit ook duidelik dat die Bybel nie regtig so vreeslik geïnteresseerd is in die eerste hoofstukke van Genesis nie, dat daar nie baie keer daarna terugverwys word nie, veral nie om te verduidelik wat God met ons bedoel het nie. Daar word nooit in die Ou Testament na hierdie beginhoofstukke in die Bybel verwys nie, en net ’n paar keer in die Nuwe hoofsaaklik om die grootheid van Christus teenoor Adam te verduidelik.

 

Wat nou? Dikwels is eenvoudig lukraak sekere eienskappe uit die Bybel gekies en gerangskik. En mense het maklik by ’n paar uitgekom wat regtig belangrik is soos liefde. Ons is geroep om lief te hê. Dit leer ons tog uit Jesus se opsomming van die wet. Maar watter ander eienskappe nou? En hoe gaan ons besluit? Ons het tot dusver twee basiese verhoudings behandel waarin die mens tot God staan: Beeld en verbond. Kan dit ons nie help nie?

Eerstens is ons geskape om sy beeld te wees. Dit beteken tog dat daar ’n soort ooreenkoms tussen ons en Hom moet wees, soveel so dat mense uit ons lewe iets van Hom moet kan aflei. Maar dan kan ons tog verwag dat daar tussen sy eienskappe en ons s’n ’n mate van ooreenkoms moet wees. As ons dus gaan kyk na Wie God is, sal ons iets kan agterkom van hoe ons moet wees. As ons dus uit die Bybel leer wie en hoe God is, kan ons mos daaruit aflei hoe ons moet wees. Ons moet tog sy beeld wees. Mense moet Hom in ons kan herken. Ons het mos alreeds gesien die beeldwees veronderstel ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen ons en Hom. Daar sal dus eienskappe in ons moet wees wat soos Syne is, wat ten minste ’n bepaalde ooreenkoms met sommige van sy eienskappe vertoon.

 

Maar ons leef ook in die verbond met Hom. En terwyl daar in terme van die beeld ’n bepaalde gelykheid/ooreenkoms tussen Hom en ons moet wees, moet daar nou weer juis ’n bepaalde ongelykheid tussen Hom en ons wees. Immers die verbond was nie ’n onderhandelde ooreenkoms tussen twee gelyke partye om ’n ronde tafel nie. Hy is eerste, en ons tweede. Maar ons het ook gesien hierdie ongelyke verhouding is ’n paslike ongelykheid. God neem die inisiatief, en ons moet reageer, ant-woord. Hy het die eerste woord, en ons die tweede. Ons het gesien dis eintlik

wonderlik dat God eensydig die inisiatief geneem het en steeds neem, dat dit die diepste rede is waarom die verbond nog bestaan.

 

Ons kan dus aanvaar daar sal twee soorte eienskappe wees,

  • eienskappe waarin ons Hom moet navolg, analogiese eienskappe kan ons dit noem,
  • en eienskappe waarin ons sinvol moet reageer op sy inisiatiewe, komplementerende eienskappe.

 

Eers ons beeldwees. Dit gaan om ’n bepaalde ooreenkoms tussen Hom en ons. ’n Mens skryf natuurlik “ooreenkoms” half met huiwering. Maar ons het nou oor en oor gesien dat daar spontaan mensvormig oor God geskryf word in die Bybel. Dit beteken dat ons reg en suiwer oor God kan en moet praat in terme van mense. En dat ons reg en suiwer oor mense kan en moet praat in terme van God!

 

Natuurlik kan die ooreenkoms tussen God en mens net beperk wees, nie absoluut nie. God is oneindig meer/groter/heerliker/heiliger as ons. Maar daar is wel beperkte ooreenkoms. Ons praat graag van ’n analogie, en van analogiese of analoë eienskappe.  En wat ons verbondsverhouding met Hom betref, weet ons nou al dis ’n ongelyke verhouding, maar dit is paslik. Daar is ’n sin waarin ons God komplementeer in hierdie verhouding, of liewer waarin ons die verhouding met Hom  komplementeer/volledig maak/afrond. Ons kan van komplementêre eienskappe praat.

 

As ons nou na die Bybel gaan met die vraag hoe God is en hoe Hy bedoel dat ons moet wees, kry ons maklik hierdie twee soorte eienskappe. Daar is eienskappe waarin ons van Hom verskil. Dit is eienskappe wat eintlik téénoor mekaar staan.

  • Hy is genadig; daarom moet ons dankbaar wees.
  • Hy heers met gesag; daarom moet ons gehoorsaam wees.
  • Hy gee aan ons beloftes; daarom kan ons hoop hê.

 

Maar hierdie verskille is paslike verskille. Dankbaarheid pas by genade, en gehoorsaamheid by gesag, en hoop by beloftes. Ons eienskappe is sinvolle reaksies op die inisiatiewe van die groot Verbondstigter. Hierdie reaksies pas by sy inisiatiewe soos ’n hol lens by ’n bollens. Dit vul eintlik sy inisiatiewe aan. Die verskille word eers ’n probleem as ons nie sinvol, paslik reageer nie, as ons met ondankbaarheid reageer op genade, of met ongehoorsaamheid/opstandigheid op gesag, of met moedeloosheid op sy beloftes. Dan pas dit nie meer nie. Dan word dit botsende verskille.

 

Die tweede groep eienskappe sluit direk by Syne aan, dit is analogiese eienskappe.

  • God is liefde, en Hy beveel ons om lief te hê.
  • God is vry, en Hy maak ons vry.
  • God is heilig, en Hy verwag van ons om heilig te wees.

Daar is natuurlik ’n hele aantal sulke eienskappe wat ons by die lys sou kon byvoeg soos goedhartigheid, geduld, reinheid, waaragtigheid.

 

Dit is almal analogiese eienskappe. Ons sal hierin nooit identies aan God kan wees nie, maar Hy wil ’n soort ooreenkoms, ’n analogie tussen Hom en ons hê. Ons is immers bedoel om sy beeld te wees. Omdat Hy liefde is, moet ons soos Hy liefhê. Miskien besef jy wat ons in werklikheid hier doen. Ons lei uit ons siening van God af hoe die mens behoort te wees. Ons lei antropologie af uit teologie-in-enger-sin.

 

Ons sou nog ’n hele aantal eienskappe kon noem onder die analogiese én onder die komplementerende eienskappe. Maar dis nie nodig nie. Met hierdie ses het ons ’n duidelike prentjie van God se doel met ons as mense. Hy wil hê dat ons Hom sal navolg in sy liefde, vryheid, heiligheid, en dat ons sinvol sal reageer op sy inisiatiewe met dankbaarheid en gehoorsaamheid en hoop. Dit kan interessant wees om een eienskap uit elk van die twee groepe te kies en effens vollediger daarna te kyk. Dit sal ons prentjie van wat God ’n mens bedoel het om te wees, helderder maak. Ons beginsel gaan wees om met ons siening van God te begin, en daaruit aflei hoe Hy ons bedoel om te wees.

 

Kom ons kyk na liefde as ’n analogiese eienskap, en na dankbaarheid as ’n komplementerende eienskap. Ons gaan by liefde begin.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König