Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (4)

Alle Paaie lei na Jesus: God Drie-enig in die Ou Testament (4) – Adrio König

10.4.4 Jesus in die Ou Testament?

Net soos in verband met die Heilige Gees, word daar ook ’n sterk argument ontwikkel om aan te toon dat daar alreeds van Jesus as ’n aparte Persoon in die Ou Testament gepraat word. Daar is selfs ’n boekie op my rak met die titel: Jesus op elke bladsy van die Ou Testament. Een van die sterk argumente is dan dat die engel van die Here eintlik Jesus is in sy Ou-Testamentiese vorm.

Kom ons probeer eers ’n paar onderskeidings maak. Dit is die moeite werd om goed hierna te kyk.

  • Eerstens is die baba met die Naam Jesus eers in omtrent 4 nC gebore, lank na die tyd van die Ou Testament. Daar was nog nie so iemand met die Naam “Jesus” voor die tyd van die Nuwe Testament nie.
  • Tweedens glo ons natuurlik dat die ewige Seun van God van die begin af by die Vader was. Dit is Hy wat later as baba uit Maria gebore is en toe die Naam Jesus gekry het. Natuurlik het Hy dus alreeds in die tyd van die Ou Testament bestaan en gewerk. Uit die Nuwe Testament weet ons van talle voorbeelde. Maar die vraag is of die skrywers van die Ou Testament bewus was van Hom en getuienis gee van sy pre-eksistensie (voor afbestaan).

 

Die engel van die Here is ’n bekende figuur in die Ou Testament. Hy kom veral in die vroeër dele voor. Dikwels bring hy ’n boodskap van die Here af, of praat of handel namens die Here. Maar soms is hy skynbaar die Here self (Gen 21:17 ev; 22:11 ev; Eks 3:2 ev; Rig 2:1-4; 6:11 ev). Dink maar net aan sommige van die verhale waarin hy skynbaar op ’n stadium die Here self is. In so ’n verhaal is daar eenvoudig ’n oorgang sodat daar die een oomblik nog na die engel van die Here verwys word, maar die volgende oomblik na die Here self (Gen 16, met die oorgang na die Here by vers 13; ook Gen 48:15, 16; vergelyk ook Gen 22:11-12, 15-17). Maar in ander gevalle is daar ’n duidelike onderskeid tussen die twee (Eks 33:1-3 ev). Die engel van die Here kan dus skynbaar ’n verskyningsvorm van die Here self wees, maar ook sy verteenwoordiger.

 

Daar is egter geen grond om aan te neem dat die engel van die Here die pre-eksistente ewige Seun van God is nie. Trouens hoe later in die Ou Testament hoe minder word na die engel van die Here verwys. En verder is daar baie ander engele wat opdragte van die Here uitvoer.

 

Natuurlik vervul Jesus tydens sy aardse optrede geweldig baie Ou-Testamentiese profesieë. Om maar net ’n paar te noem:

  • Hy is die besondere profeet,
  • die Messias,
  • die Dienaar,
  • die Seun van die mens.

Maar hierdie figure het nie in die Ou Testament opgetree nie. Dit was figure wat nog na vore moes kom, wat in die toekoms verwag is.

 

Ons kan dus nie van “Jesus in die Ou Testament” praat as ons daarmee bedoel dat die skrywers van die Ou Testament al van Hom bewus was en doelbewus na Hom verwys het nie. Die skrywers van die Nuwe Testament het Hom wel oor en oor in die Ou Testament teruggevind, maar dit is “in hindsight”. Die manier waarop Paulus dit doen, is belangrik. Hy skryf Christus was die rots waaruit die Here vir die volk in die woestyn water laat vloei het (1 Kor 10:4). Natuurlik is dit vir ons maklik om dit te glo en die besondere betekenis daarin te sien wat Paulus daaraan gee. Maar daar is geen manier waarop die skrywer van hierdie geskiedenis (Eks 17:6) destyds aan Christus kon gedink het toe hy van hierdie rots vertel het nie.

 

In die algemeen glo ons dus dat die ewige Seun van God, wat later in Jesus ’n Mens geword het, reeds in die Ou Testament saam met die Vader opgetree het. Johannes skryf duidelik genoeg dat alles deur Hom geskep is. Ons glo dus dat Hy alreeds by die skepping betrokke was. Maar dit was nie in die Ou Testament bekend nie. Ons kyk van die Nuwe Testament af terug om Hom in die Oue raak te sien.

 

Hierdie siening het interessante implikasies vir Bybelvertaling. Kom ons neem Jesaja 53 as voorbeeld. As Christene lees ons  natuurlik die Ou Testament anders as die Jode. As ons van die dienaar van die Here in Jesaja 53 lees, glo ons dadelik dat dit in Jesus vervul is. Maar as ons Jesaja 53 wil verstaan soos die lesers van Jesaja dit destyds verstaan het, kan ons nie aan Jesus dink nie. Hulle kon nie uit Jesaja 53 aflei dat die dienaar ’n Goddelike wese sou wees nie. Hulle het aan ’n besondere mens gedink, aan niks meer nie. Daar was geen aanduiding in Jesaja 53 dat die dienaar as ’n Goddelike Persoon sou kom nie.

 

Maar nou die hoofletters. Die reël in Afrikaans is dat ons hoofletters gebruik as dit dui op ’n Goddelike persoon. Maar dit beteken dat ons selfs nie Messiaanse profesieë of profesieë oor ander figure wat in Jesus vervul is, in die Ou Testament met hoofletters behoort te skryf nie. Daarom is die persoonlike voornaamwoorde wat in Jesaja 53 na die dienaar verwys, nie met hoofl etters gespel nie, en ook nie die Messiaanse profesie in Jesaja 11 nie (waar “hom” en “hy” in die middel van ’n sin nie met hoofletters begin nie, Jes 11:2, 4). Net so Daniël se “menslike wese” (Dan 7:13, 14), en die profeet van Deuteronomium 18:18 wat albei ook later in Jesus vervul is. By Jesaja 11:4 het NLV geglip.  Maar waarom het die Messiaanse profesie van Jesaja 9:5 dan wel ’n hoofletter “Hy”? Omdat die vertalers aangeneem het dat “Magtige God” verwys na ’n toekomstige Goddelike wese. Hulle was dus konsekwent.

 

Intussen is dit nie alles hier so maklik soos dit lyk nie. Die moontlikheid is nog altyd oop, en baie kommentare aanvaar dit ook, dat ons hier een van die baie uitsonderings het waar die Hebreeuse woorde vir “God” vir ander wesens as die ware God gebruik word. Hier meen hulle, het ons net soos in Psalm 45:7 die geval waar dit eintlik van ’n toekomstige koning gebruik is wat ’n mens sou wees, en deur God as sy seun aangeneem sou word by sy troonsbestyging (Ps 2:7). In Jesaja 9 word El gebruik, en in Psalm 45 Elohim, beide woorde wat herhaaldelik elders vir ander wesens as die ware God gebruik word. Dit gee vir die Jode die ruimte om selfs hier nie te aanvaar dat dit regtig na ’n goddelike Persoon naas die Vader verwys nie. En ons is eers regtig seker hiervan in die lig van die vervulling van hierdie profesie in die Nuwe Testament in die Een wat regtig as Messias-Koning ’n goddelike Persoon naas die Vader is. Beteken hierdie aanduiding van ’n toekomstige goddelike Persoon dan nie dat ons wel in die Ou Testament spore van ’n meervoudigheid in God kry nie?

 

Hierdie enkele aanduiding is te vaag en onseker om ’n groot saak daarvan te maak. En dit bly altyd ’n sterk oorweging om die Joodse teoloë ernstig te neem – al sal ons natuurlik nie noodwendig alles net soos hulle aanvaar nie. Maar die Ou Testament is hulle Bybel, en hulle ken dit!

 

Verder is daar ook nie regtig veel wins in om allerlei gegewens in die Ou Testament te sien as aanduidings dat die skrywers al bewus was van ’n meervoudigheid in God en ’n goddelike Persoon naas die Vader nie. Die hele Nuwe Testament gaan oor Hom. Die skrywers van die Nuwe Testament wys ons hoe Hy inderdaad al in die Ou Testament aan die werk was al het daardie gelowiges dit nog nie besef nie. En verder weet ons nou al dat al die hoofl yne in die Ou Testament uiteindelik op Hom uitloop.

 

Hierdie hele boek is vol daarvan. Wat wen ons nou regtig om ’n omstrede saak op te bou dat die skrywers van die Ou Testament alreeds van Hom bewus was en na Hom verwys het? Dit is genoeg, meer as genoeg, om te sien hoe die hooflyne in die Ou Testa ment ons op merkwaardige maniere na Hom lei, en hoe die skrywers van die Nuwe Testament Hom agterna in die Ou Testament raaksien.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer:  Prof Adrio König