Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Israel, Volke, Kerk: Die Ou Testament (3) – Adrio König

8.1.3 Die volke

Hierdie voorbeelde van mense wat deel van Israel geword het, was maar net ’n klein stroompie van dit wat die Here regtig vir die volke beoog het. As die oordeelsuitsprake teen die volke volop is, is die heilsuitsprake minstens net so volop.

Dit is opvallend dat die belofte wat die Here aan die begin aan Abraham gedoen het dat in hom al die volke geseën sal word, alreeds in Genesis telkens herhaal word (22:18; 28:14). Verder kom talle uitsprake oor heil vir die volke verspreid voor in die Profete en die Psalms.

  • Die nasies word opgeroep en uitgenooi om die Here te loof (Ps 49:2; 96:7).
  • Die nasies sal hulle seën van die Here verwag en in Hom roem (Jer 4:2).
  • Die nasies sal na Jerusalem stroom om die Here daar te kom dien (Jes 2:2-5; 55:5; 60:3; Sag 8:23).
  • Mense oor die hele wêreld sal Hom as Here erken en hulle tot Hom bekeer (Ps 22:28).
  • Spesifieke volke word genoem, veral die groot moondhede soos Egipte, Assirië (Jes 19:19-25).

 

Opvallend van hierdie bekering van die nasies is die feit dat hulle nie op hulle eie, los van Israel en Jerusalem en die tempel, tot bekering kom nie. Hulle sal na Jerusalem stroom en die Here dáár saam met Israel in die tempel kom dien (Jer 3:17). “Die heersers van die volke vergader saam met die volk van die God van Abraham” (Ps 47:10, NLV, 1983 se “verenig met” is te sterk). “Ek sal die nie-Israeliete wat by my volk aansluit om my Naam te dien … na my heilige berg toe bring” (Jes 56:6-7). Die hele wêreld moet dus in Sion in die heil kom deel. Die tempel “sal uitgeroep word tot ’n huis van gebed vir al die volke” (Jes 56:7). Dit kan ook wees dat dit is wat die belofte aan Abraham oorspronklik bedoel het: “In jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

 

Intussen beteken dit nie dat die Here net in Jerusalem gedien sal word nie. Die gedagte is ongetwyfeld dat die volke dit wat hulle in die tempel kry, sal saamneem na hulle eie lande. In Jesaja is daar twee merkwaardige perspektiewe. Binne-in Egipte sal daar altare wees waar die Egiptenaars offers aan die Here sal bring. En die Egiptenaars en die Assiriërs sal saam die Here dien. “Daardie dag sal Israel die derde wees, en saam met Egipte en Assirië sal hulle vir die aarde tot ’n seën wees” (19:23-24)! Dis merkwaardig dat Israel hier selfs tweede (derde!) viool speel. Hulle kom eenvoudig by Egipte en Assirië by. En dan die groot feesmaal vir “al die volke” op die berg Sion, “’n feesmaal met die beste om te eet en te drink, goeie kos en geurige wyn” (25:6-7).

 

’n Mens kan in hierdie verband daaraan dink dat Kores, wat Israel uit Babel sou laat teruggaan Jerusalem toe, selfs die Here se “Messias” genoem word (“gesalfde,” Jes 45:1).

 

Hoe sal hierdie volkere-bekering tot stand kom? Nie deur aktiewe “sendingwerk” deur Israel nie. Die gedagte van uitgaan en mense inbring, kom nog nie algemeen in die Ou Testament voor nie. As Israel aan die Here getrou is, sal Hy hulle só seën dat die volke na Jerusalem sal stroom om dit te sien, en Hom daar saam met Israel sal begin dien (Jes 2:2-5). Daarom word Israel en die dienaar van die Here ’n lig vir die nasies genoem (Jes 42:6; 49:6; 60:1-3; Sag 8:23).

 

Tegnies kan ons hier onderskei tussen die Ou Testament se sentrifugale (middelpunt-soekende) “sendingmetode” teenoor die Nuwe Testament se sentripetale (middelpunt-vliedende) metode. Die eerste beteken dat volke inkom na die middelpunt toe (die Here, Jerusalem, die tempel), en die tweede dat die gelowiges uit gaan na die volke toe.

 

Dit alles beteken dat daar meer as een perspektief op die volke in die Ou Testament is, dat alles nie duidelik is oor hoe dit sal afloop nie. Daar is van vernietigende oordele sprake, maar ook van groot bekerings en volkere-togte na Jerusalem. Miskien is die grootste probleem dat die Here nie sy doel bereik het nie omdat Israel so aanhoudend ontrou was aan Hom. Die Ou Testament is in die geheel die mislukte geskiedenis van die ontrou van die volk téénoor die trou van God. Daarom was daar nog ’n Testament nodig.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König