Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Alle Paaie lei na Jesus: Ou Testamentiese benamings van Israel vir die kerk – Adrio König

8.4 Ou-Testamentiese benamings van Israel vir die kerk

Dit is dan ook nie vreemd nie dat juis die benamings wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is, in die Nuwe op die kerk toegepas word. Die merkwaardigste getuienis hiervan kry ons in die eerste Petrusbrief.

Eers noem Petrus die gelowiges “’n heilige priesterdom wat geestelike offers bring”, uitdrukkings wat natuurlik dadelik aan Israel laat dink, maar dan word ’n stortvloed van Ou-Testamentiese aanduidings van Israel op die kerk toegepas:

  • die uitverkore volk,
  • ’n koninklike priesterdom,
  • ’n nasie wat vir God afgesonder is,
  • die eiendomsvolk van God (2:9).

 

En asof dit nog nie genoeg is nie, word ook die merkwaardige woorde uit Hosea 1:10-12 en 2:22 op die kerk toegepas: “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys” (2:10).

 

Die res van die Nuwe Testament is vol hiervan. Dink maar net aan Kolossense 3:12 waar ons lees dat die kerk die uitverkore volk van God is, aan die aanhef by byna elke brief van Paulus waar die gemeente in die Grieks “die heiliges” genoem word, en elders waar die gelowiges dikwels kinders van God en kinders van Abraham genoem word. Ook die uitdrukking “volk van God”, die tipiese benaming van Israel, word in die Nuwe vir die kerk gebruik. Maar veelmeer as dit. Talle beloftes wat direk vir Israel gegee is, word vir die kerk herhaal, en selfs vir die kerk vervul. Paulus gee ’n hele lys in 2 Korintiërs 6:16-18, en dan beklemtoon hy nogal: “Hierdie beloftes (wat oorspronklik aan Israel gegee is) is ook vir ons”, dus vir die kerk (7:1). Hy doen dieselfde in Romeine 9:24-29 waar hy nie minder nie as vier beloftes aanhaal wat vir Israel gemaak is en nou op die heidene toegepas word. En nogeens is hy heel spesifiek dat  dié beloftes nou vir dié is wat uit die heidene geroep is (9:24). Hierdie verskynsel kan vermenigvuldig word uit die Briewe van Paulus.

 

Konklusie: Daar is sterk kontinuïteit tussen Israel en die kerk. Maar Israel as die ware Godsvolk van die Ou Testament, het die prioriteit. Ons is by hulle bygevoeg, nie hulle by ons nie.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König