Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet

Alle Paaie lei na Jesus: Paulus se verwerping van die wet – Adrio König

3.6  Paulus se verwerping van die wet

In die vorige artikel het ons na Paulus en die wet en ons saligheid gekyk. Daar loop egter ook ’n ander lyn in Paulus se Briewe. Om dit te verstaan, moet ons onthou daar was twee verskillende sienings van die wet onder die Jode. Die Jode in Palestina (die strenger groep) het van die heidene verwag om net soos hulle self Jode te word as hulle die God van Israel wou dien.

Hulle moes hulle laat besny en die hele wet onderhou nes die Jode self. Maar die Hellenistiese Jode (wat buite Palestina geleef het en ’n ruimer siening gehad het) het die heidene aanvaar as hulle net in die God van Israel glo en die sinagoge saam met die Jode besoek. Hulle is deur hierdie Jode die “godsdienstiges” of  godvresendes” genoem (Hand 10:2). Kornelius was ’n goeie voorbeeld van so ’n Griek. Hy was ongetwyfeld in hoë aansien onder die meer gematigde Jode. Dit is immers belangrik  om te onthou dat hy buite Palestina gewoon het onder die Joodse gemeenskap met ’n ruimer siening.

 

Omtrent dieselfde onderskeid het posgevat tussen die Christen-Jode en die heiden-Christene. Die gelowiges uit die Jode het van die heidene geëis om bo en behalwe hulle geloof in Jesus ook besny te word en die wet te hou (Hand 15:1), terwyl Paulus net van hulle verwag het om Jesus te aanvaar om gered te word (Gal 2:16). Trouens Paulus het nog verder gegaan. Hy het nie net hierdie gelowiges uit die heidene toegelaat om nie die wet te onderhou nie, hy het hulle ten strengste verbied om besny te word en die wet te onderhou. Dit sou hulle losmaak van Christus wat die enigste weg tot saligheid is (Gal 5:2-4).

 

Die Christen-Jode het wel self nog die besnydenis en die wet baie streng onderhou, en Paulus het skynbaar vrede daarmee gehad. Trouens in Handelinge 21:17-26 stem hy selfs daartoe in om self in die tempel ’n offer te gaan bring om die gelowiges uit die Jode te oortuig dat hy self nog die wet onderhou (Hand 21:24).

 

’n Mens moet sekere dinge netjies van mekaar onderskei om hierdie standpunt van Paulus te verstaan. Enersyds verklaar hy kategories dat die Jode self nie in staat is om die wet te hou nie, maar andersyds onderhou hy self die wet. Hoe werk dit? Die onderskeid is skynbaar die volgende. Wanneer dit gaan oor die redding of saligheid, verwerp hy die wet radikaal. Net deur die geloof in Jesus Christus kan ’n mens gered word, heidene én Jode (Gal 2:15-16). Maar wanneer dit gaan om die lewe van die gelowige in gehoorsaamheid aan God, is die wet nog altyd die rigsnoer vir ons toewyding. Daarom kan hy in die vermanende dele van die Briewe die wet as basis gebruik en dit terwyl dit Briewe is wat aan heiden-Christene geskryf is (Ef 4 en Kol 3).

 

Daar is dus ’n sin waarin Paulus baie vry met die wet kan omgaan, afhangende van die situasie waarin hy hom bevind. Dit kom baie sterk na vore in Korintiërs. Paulus is vry van almal, maar hy is tog gewillig om hom aan almal diensbaar te maak om soveel mense as moontlik te red (1 Kor 9:19 ev). “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen.” En vir dié wat sonder die wet is, het hy geword soos een sonder die wet om hulle te wen. Paulus kan dus in een situasie vir Timoteus laat besny terwille van die Jode (Hand 16:3), maar in ’n ander situasie weier om die Griek Titus te laat besny omdat die Jode vals voorwendsels gehad het (Gal 2:3-5).

 

Hiermee is sekerlik nie alle probleme in verband met Paulus se siening oor die wet opgeklaar nie. Dit is trouens een van die heel moeilikste onderwerpe in die hele Nuwe Testament. Maar dit het wel geblyk dat ’n mens tog iets kan verstaan as jy eers seker maak in watter verband Paulus oor die wet skryf. As dit oor redding gaan, is hy onverbiddelik negatief. Nie net die heidene nie, maar ook die Jode kan net gered word deur die geloof in Jesus Christus, en nie deur die onderhouding van die wet nie.

 

Trouens as hulle deur die wet geregverdig wil word, maak hulle hulleself los van Christus en het Hy vir hulle geen waarde nie. Maar as dit gaan oor die nuwe lewe en ons toewyding aan die Here, het die wet sy volle betekenis behou soos dit oorspronklik bedoel was toe dit aan die volk van God by Sinai gegee is. Dit is die riglyne waarvolgens hulle in gehoorsaamheid aan die Here moes leef.

 

In die volgende artikels gaan ons na die wet in die Hebreërbrief kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König