Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (1)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (1) – Adrio König

4.2 Skeppingsverhale en skeppingsvoorstellings

Ons weet vandag dat alle ou godsdienste oor die wêreld skeppingsverhale het. Ons weet ook dat daar merkwaardige ooreenstemming is tussen hierdie verhale. Daar is hoofsaaklik twee tipes verhale: oorsprongsverhale en daadverhale. Veral in Afrika kom baie oorsprongsverhale voor. Dit vertel hoe die mense eenvoudig iewers uitgekom het, uit ’n gat in die grond of uit ’n moeras of uit ’n boom. Sommige vertel dat die mense uit ’n ander wêreld kom, of uit die hemel. Dit is dan die oorsprong van die mens. 

 

In die res van die wêreld is daar egter veel meer verhale van daadskepping. Dan is dit veral ’n persoonlike god wat op een of ander manier die mense gemaak het. Maar dit gaan dan dikwels ook oor meer as net die mens. Omdat die Bybelse verhale baie in gemeen het met hierdie daadvoorstellings, gaan ons meer in besonderhede hierop in. Onder die godsdienste kry ons onder andere die volgende voorstellings: ’n God of gode het geskep deur ’n daad soos om iets te vorm of te bou, of deur ’n woord, of deur dinge te skei, of deur ’n stryd, of deur geboorte te gee aan iets, veral aan mense. Kom ons vergelyk nou hierdie voorstellings punt vir punt met wat ons in die Bybel kry.

 

Daad: Dit is sowel in Israel as by die ander volke die algemeenste voorstelling van hoe God geskep het. Hy het dinge geskep of gemaak of gevorm of gebou of voortgebring. Ons kry al hierdie voorstellings in die Bybel. ’n Baie algemene voorstelling is dat ’n god iets vorm, dikwels soos ’n erdewerker. Die Shilluk in Noord-Afrika glo dat ’n god eers die mense se lyf gemaak het en daarna hulle bene en voete sodat hulle kan loop en hardloop, daarna hulle arms en hande sodat hulle kan koring plant, en toe hulle mond sodat hulle kan eet. Later het hy vir hulle ’n tong gemaak sodat hulle kan praat en sing, en toe ore sodat hulle na musiek kan luister. Hierdie prentjie gee nie net iets van hulle kultuur weer nie, maar is ook ’n realistiese voorstelling van hoe ’n erdewerker ’n beeld stuk vir stuk vorm. In Egipte kry ons ook die voorstelling. Hier lees ons dat die god Chnum die mens op ’n wiel gevorm het. Uiteraard herinner dit ons aan Genesis 2:7: “Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde.” Die Bybel deel dus ook hierdie voorstelling met die ander godsdienste.

 

Ons kry ook dikwels die voorstelling dat die aarde gebou is. En dan word die bekende begrippe gebruik wat ons vir gewone bouwerk gebruik. In Job is die voorstelling in besonderhede ontwikkel. God het eers met ’n maatlyn al die afmetings gemaak, toe die fondamente gelê, en toe die gebou “aanmekaargesit” (Job 38:5-6).

 

Woord: Ook skepping net deur die woord (deur bevele) kom dikwels elders voor. Selfs onder die Herero’s hoor ons dat ’n god die mense uit die riete geroep het. In Egipte word van die god Ptah geskryf: “Alles wat bestaan, het deur sy woord tot stand gekom.” Ons lees ook: “Wat uit sy mond uitstroom, gebeur.” Natuurlik dink ’n mens dan aan Psalm 33: “Want Hy het gepraat, en dit was so, Hy het beveel en dit was daar.” Ons sal nog verder aan na Genesis 1 se woordskepping kyk.

 

Skeiding: Dis interessant dat skepping deur skeiding ook voorkom. In die epog “Enuma Elish” kap Marduk Tiamat se liggaam in twee stukke (skeiding), en vorm uit die een helfte die hemel en uit die ander helfte die aarde. Hierdie skeidingsvoorstelling kom ook baie sterk na vore in Genesis 1: God skei die duisternis af van die lig, en die water daarbo van die water op aarde, die nag van die dag, en die see van die land.

 

Stryd: Skepping deur stryd is algemeen in die ou Nabye Ooste. Die skeppingsepog van Babilon, “Enuma Elish”, is deurtrek van gevegte tussen gode waaruit die aarde en mense dan gemaak word. Die mense word dan geskep uit die bloed van een van die gode wat verslaan is.

 

Maar kry ons hierdie voorstellings ook in die Bybel? Daarna gaan ons in die volgende artikel kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...