Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle (2) – Adrio König

Skeppingsverhale en skeppingsvoorstelle

Het ons hierdie voorstellings van skepping deur stryd ook in die Bybel? ’n Mens sou dalk kon dink dit kan nie, want daar is volgens die Bybel net een ware God. Maar dan vergeet ons daar is eintlik baie gode, maar net een is die ware God, die God van Israel (Eks 20:2-3). Maar in werklikheid kry ons stryd by die skepping in ’n ander vorm in die Bybel as in die ander godsdienste. Dis nie gode wat teen mekaar veg nie, dis God wat die chaosmonsters verslaan. 

Ons lees onder andere van Leviatan, Behemot, Rahab. Hulle was seemonsters. Daarom word hulle altyd in verband met die onstuimigheid van die see genoem. Die see was vir Israel ’n geweldige bedreiging, ’n simbool van opstand teen God en aanslae op sy skepping. Daarom lees ons dat daar nie meer ’n see op die nuwe aarde sal wees nie (Op 21:1). Dit is figuurlik bedoel. Lees gerus die volgende oor die opstandige see en die chaosmonsters van die see (Ps 74:12-14; 89:10-11; 104:6-9; Job 38:8-11; Jes 51:9; Jer 5:22). Die meeste van hierdie dele verwys duidelik na die skepping. God se stryd teen hulle en sy oorwinning oor hulle getuig van die mag waarmee Hy sy skepping beskerm. Ons lees telkens dat Hy die seemonsters verslaan het en die see “agter slot en grendel” ingehok het.

 

Hierdie voorstelling van stryd om die skepping te beskerm herinner sterk aan die skeidingsmotief waarna ons so pas gekyk het en waar die see ook afgeskei is van die land om die land te beskerm. Die land is die woonplek van die mense. Die see en die monsters is gesien as aanslae om die mense en hulle woonplek, die land, te vernietig. Beide die strydvoorstelling en die skeidingsvoorstelling getuig dus van die trou van God wat sy skepping beskerm, en daarom ook sy volk sal beskerm.

 

Dis interessant om in hierdie verband te onthou dat Israel nooit ’n seemag opgebou het nie, selfs nie in die tyd van die magtige koning Dawid nie. Die see was vir hulle ’n skrikwekkende bedreiging. Die een Jood wat dit by wyse van spreke ’n keer op die see gewaag het, het ook sleg daarvan afgekom (Jona). Ook Jesus en sy dissipels word deur die golwe bedreig, maar ook in hierdie geval toon Jesus sy oormag oor die dreigende see. Hy spreek die golwe aan asof hulle demone is, en oorwin hulle (Mark 4:39).

 

Geboorte: Skepping deur geboorte is taamlik algemeen in die ou Nabye Ooste. Geslagsregisters speel hierin ’n belangrike rol. So ’n register oor die eerste mense begin dan gewoonlik met die naam van ’n god wat die stamvader van die mense is. Hierdie god het dan die eerste mense verwek by ’n vroulike god. Dis interessant dat geslagsregisters natuurlik ook in die Bybel se skeppingsverhale ’n belangrike rol speel (Gen 5), maar God is altyd die Skepper, nooit die stamvader of voorvader van die mens soos in ander godsdienste nie. In Genesis 5 is God die Skepper (5:1) en Adam die stamvader (5:3). Die voorstelling dat God die mense verwek het, of dat mense uit God gebore is, kom glad nie in die Bybel voor nie.

 

Kom ons kyk nou terug. Die meeste van die skeppingsvoorstellings word in die Bybel op dieselfde manier gebruik as in die ander godsdienste. Maar met twee is daar verskille. Die strydvoorstelling word anders gebruik, en die geboortevoorstelling glad nie. Wat beteken dit? In die Bybel kon ook sprake gewees het van ’n stryd tussen God en ander gode. Ons lees selfs dat God in die vergadering van die gode opstaan en ’n oordeel oor die gode uitspreek (Ps 82:1- 2, 1953-vertaling). Maar Israel pas die strydvoorstelling eerder toe op een van die grootste bedreigings wat hulle ken, die see. Dit maak die oorwinning van God oor die chaosmagte vir hulle baie aktueel. Veral as ’n mens aanneem dat hierdie voorstelling waarskynlik in Babilon na vore gekom het, was dit ’n wonderlike troosboodskap dat God ook in die ballingskapnood van sy volk kan ingryp en hulle beskerm.

 

Die feit dat die geboortevoorstelling skynbaar glad nie in die Bybel gebruik word nie, is net so interessant. In werklikheid lê hierdie voorstelling tog nog verskuil op ’n paar plekke in die Ou

Testament. “Voordat die berge gebore is, voordat U die wêreld voortgebring het … ” (Ps 90:2). “Wie het die see met deure afgesluit toe dit uit die moederskoot voortgekom het?” (Job 38:8, 1953-vertaling)  (Nuwere Afrikaanse vertalings laat nie die Hebreeus tot sy reg kom nie.) “Toe daar nog geen wêreldvloede was nie, is ek gebore” (Spr 8:24, 1953-vertaling). (Ook hier sê die nuwere Afrikaanse vertalings te min.)

 

Maar hierdie geboortevoorstelling lê net implisiet hier. Nêrens word dit doelbewus gebruik nie. En die Bybelskrywers kon ook nie. Hulle siening van God bots vierkantig daarteen. Ons sal uit Genesis 1 sien dat hulle ’n skerp onderskeid gemaak het tussen God en sy skepping. Net God self is goddelik. Die skepping lê op heeltemal ’n ander vlak. Daarom kon niks in die skepping uit God voortgekom het of uit Hom gebore wees en dus self goddelik wees nie. Ander godsdienste aanvaar dat daar sekere dinge is wat goddelik is, soos die son en die maan, of sekere diere of natuurverskynsels. Maar dit kom nie in die Bybel voor nie. Daar  is ’n grens tussen God en sy skepping. Daarom het hulle geen

ruimte gehad vir die gedagte dat enige skepsel uit God gebore is of voortgekom het nie.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König