1

Almag van God – Hermie van Zyl

Andre vra:

Stem u saam met die volgende stelling wat ek maak?

BOONTOE EN VORENTOE (Die kern van die evangelie opgesom in twee woorde).

‘n Kenmerk van die tyd waarin ons leef is dat alles bevraagteken en verklaar moet word – ook en veral die geestelike. Die mens wil alles verstaan en beredeneer. So is daar twyfel oor die Woord van God, maagdelike geboorte van Jesus, sy opstanding en die krag van gebed. Twyfel word gesaai en so gebruik Satan (“vader van die leuen” – Joh 8:44) misleiding as magtige wapen teen gelowiges en word willens en wetens by redenasies betrek. Die vraag is nou hoe kan ek my beskerm teen die aanslae en my geloof behou? Die antwoord lê opgesluit in God se liefde wat die mens in staat stel om die almag van God te erken, dws wat vir die mens onmoontlik lyk, is moontlik vir God.

BOONTOE

Kyk ‘n mens met ‘n oop gemoed na die wonder van die heelal / wonder van lewe en God se GENADE en LIEFDE dan kan jy maar net soos Dawid uitroep, Ps 139 “5 U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. 6 Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.” Deur God se aanraking word die saadjie van geloof geplant en weet jy dat God die God van Liefde is wat genade en vrede skenk.

  1. Genade (Hy het sy Seun gestuur om ‘n kruisdood te sterf sodat ons kan lewe.) Aan almal wat hulle bekeer en hul sondes bely, skenk Hy vergifnis. Deur sy opstanding uit die dood verkry dié wat gered is die Ewige Lewe (Johannes 3:16).

Efesiers 1:7 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God. Genade is daarin geleë, dat jy nie vir God gekies het nie, maar dat God jou eerste gekies het.” “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jes 43:1).

Dit is God se genade wat jou bemagtig om sonde en die duiwel teen te staan. Ef 2:8: 8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God

  1. Vrede (Die vrede wat alle verstand te bowe gaan sodat jy vrede kan ondervind selfs wanneer die allerverskriklikste dinge met jou en rondom jou gebeur en jy weet dat ons nooit alles sal kan of wil verstaan nie, omdat ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel kyk) 1 Kor 13:12.

VORENTOE Bely jy God se genade en vrede, kan jy jou aardse lewensreis met vertroue aanpak, want soos Paulus trek jy die volle wapenrusting aan wat God jou gee sodat jy staande kan bly teen die aanslae van die bose (Efesiers 6:11-18).

In vaste vertroue 5 Laat (jy) jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg (Ps 37:5).

Omdat jy alleen uit genade gered word, wil jy uit dankbaarheid die goeie doen. Liefde vir God en jou naaste kry nuwe betekenis (Mattheus 25: 35-40) en jy dra vrugte vd Gees, Gal 5:22,23.

Jy weet ook dat die aardse lewe van ‘n mens soos ‘n damp is wat vir ‘n oomblik verskyn en dan verdwyn. Rig jou oog en hart op die ewige lewe want .. “ As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense (1 Kor 15:19).

Die uitgangspunt van enige redenasie rondom die geestelike is dus of die almag van God erken word of nie – maw kan God dinge doen wat vir die mens onmoontlik lyk? Indien die almag van God misken word is dit nodeloos om te wil argumenteer oor die geestelike en sal jy nie genade of vrede ontvang nie, want ….. “Die mens wat nie die Gees van God (Heilige Gees) het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin” (1 Kor 2:14).

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

In die algemeen stem ek saam met die korrespondent se stelling oor die verhouding tussen die geestelike en die almag van God. Maar daar is tog drie dinge wat ek hieroor wil byvoeg:

 

  1. Dit is inderdaad so dat die geestelike dimensie van die lewe besondere insig vra in die onsigbare wêreld van God – dit wat God vermag in die skepping in die algemeen, maar dan in die besonder in mense se lewens. Ons is maar te geneig om net te glo wat voor oë is. Vandaar die gesegde: sien is glo. Maar die Bybelse visie is eerder: glo is sien. Kyk Heb 11:1: “geloof is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.” En dit is vanuit hierdie visie van die onsigbare dat die geloofshelde uit die Ou Testament die vreemde in agter God aanbeweeg het, altyd op soek en op weg na die ewige dinge wat die ander mense nie raaksien nie (11:8-10); andersom, wat ander mens juis raaksien en op versot raak, het hulle van die hand gewys (11:25-26). Wanneer God eenmaal jou oë geopen het vir sy wêreld, besef jy dat die wêreld nie deur fisiese kragte gedryf word nie, maar deur die geestelike. As Christene glo ons in ‘n geestelike universum, nie net ‘n bloot fisiese een nie. Vanuit die onsigbare wêreld van God het die kosmos en alles daarin – ook die mens – tot stand gekom, en dit word steeds vanuit hierdie dimensie regeer. En dis veral die gelowige wat toegang verkry tot hierdie werklikheid, al is dit nog baie voorlopig, en al sien ons soos in ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor 13:12). Eers eendag sal ons sien hoe alles in mekaar steek. Maar intussen het God vir ons die misterie voldoende bekendgemaak dat ons hier getroos kan lewe en sterwe.

 

Een van die geestelike dinge wat God vir ons bekendmaak, is inderdaad sy almag – dat Hy dinge tot stand kan bring wat nie met normale argumente verklaar kan word nie. En die grootste wonder hier is die verandering van die mens se hart. Daar is geen groter wonder as dat God ‘n hart wat in opstand is teen Hom kan verander om vir Hom te leef nie. God se almag moet dus nie verstaan word as iets wat in kille afgetrokkenheid bestaan nie, maar altyd as iets van ‘n genadige God wat tot beswil van sy skepping en mense werk. Hy wil altyd die goeie tot stand laat kom, en daarvoor gebruik Hy sy almag.

 

  1. Die vraagsteller sien die kern van die evangelie as saamgevat in twee woorde: Boontoe en Vorentoe. Mens sou dit in teologiese taal die teologiese en eskatologiese dimensie kon noem, d w s, dit is God wat vanuit sy onsigbare domein so werk dat mense Hom hier en nou kan beleef, in die gewone aardse realiteite (teologiese dimensie), maar ook so dat Hy die toekoms vir ons ontsluit waarheen ons altyd op weg is (eskatologiese dimensie). Hierby sou ek net wou byvoeg die historiese dimensie, dus, by Boontoe en Vorentoe, ook Agtertoe. Daarmee bedoel ek dat God ook die God van die geskiedenis is. Dis dáár waar Hy so groot reddingsdade opgerig het (kruisiging, opstanding, hemelvaart). Hierdie is egter nie net blote historiese bakens nie, maar ons leef elke dag vanuit die realiteit van hierdie werke van Hom in die verlede. Daarom dat daar van Jesus in Heb 13:8 gesê word dat Hy gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Hy het reeds gister hierdie wondertekens van genade opgerig, maar dit is nog dieselfde God wat vanuit die verlede ook vandag besig is, en in die toekoms besig sal wees tot in ewigheid. Hy is onveranderlik in sy genade liefde en – almag.

 

3.         Laastens wil ek tog ‘n lansie breek vir menslike denke, weliswaar gelowige menslike denke. Ja, God as die almagtige is die alwerksame, maar Hy span menslike denke ook in om sy werk te doen. Daarom moet ons nie wegskram van gelowige nadenke oor wie en wat God is en waarheen Hy met ons op weg is nie. Elke geslag moet God weer nuut ontdek vir wie Hy is en wie en wat Hy vir ons is. Juis so word ontdek hoe onveranderlik Hy in sy genade en liefde is. Mens kan egter nie maar net altyd die bekende klanke van die verlede naboots nie. Om God se stem waarlik te hoor, moet jy dit nuut hoor en nuut sê sodat die mens dit as die relevante Woord van God kan hoor vir vandag. Dis makliker gesê as gedaan, want ook gelowiges is maar te geneig om dit waaraan ons gewoond is as die onveranderlike wil van God te verklaar. Maar gewoontes en gebruike – ook godsdienstige gebruike – is tyd-, kultuur- en histories gebonde. Daar moet dus telkens vanuit die essensie van die evangelie na nuwe gestaltes van genade en liefde gesoek word. Dis deel van ons taak as draers en verkondigers van die ewige evangelie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl