Ambassadeurs/Gesante

Ambassadeurs/Gesante

 

Die kerk is ‘n buitepos van lig in die duisternis. ‘n Buitepos in die weermag is ‘n groep soldate gestasioneer weg van die hoofmag. Die buitepos is nie die hoofmag nie, maar dit verteenwoordig wel die hoofmag. Die kerk is ook nie die hoofmag nie, maar dit verteenwoordig die hoofmag. Die kerk is soos ‘n ambassade waar die ambassadeur gestasioneer is. Dit is die inisiële kontakpunt vir die koninkryk van God.

Ons pleit nie by ander vanaf ‘n afstand nie – ons doen dit van naby en persoonlik. Ons ontmoet ander op hulle tuisveld. Ons bou verhoudings met hulle – binne en buite die ambassade. Ons word gestuur om te dien en verhoudings met ander te bou sodat ons die evangelie met hulle kan deel. Jesus Christus vorm ‘n gemeenskap van die koninkryk. Die goeie nuus is dat Hy die mense van die koninkryk met sy eie bloed gekoop het.

Ons ken almal ambassadeurs. Dit is die ouens met die groot karre, vlaggies voor op die kar en mense wat nie verkeersboetes betaal nie. In Paulus se tyd was dit anders. Rome het nie ambassadeurs uitgestuur nie – hulle het leërs wat alles voor hulle platgevee het, gestuur. Daarna kom die goewerneurs wat oor die verowerde gebied regeer het. Ambassadeurs het wel na Rome gekom om vir hulle land te pleit. Die sterkes stuur nie ambassadeurs nie – net die swakkes.

Nou kom die almagtige, liefdevolle, volmaakte God en sê dat ons ambassadeurs vir Christus is. Hy is tog God van ‘n groter koninkryk as die keiser en tog stuur Hy ambassadeurs uit. Dit is iets wat die wêreld nie kan verstaan nie.