1

Amos – Francois Malan

Amos is een van die eerste skrifprofete, en een van die twaalf kleiner profete. Die Jode het onderskei tussen die vroeë profete in die boeke Samuel en Konings, en die later profete. Die later profete is ook genoem die skrifprofete want hulle het hulle profesieë op skrif gestel. Die Afrikaanse Bybel se vertaling gebruik die Hebreeuse teks wat tot in die 11e eeu n.C. telkens met die hand oorgeskryf is van vorige manuskripte af. Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament word genoem die vertaling van die 70, Septuaginta (LXX). In 285v.C. is met die vertaling daarvan begin vir die Griekssprekende Jode in Alexandrië in Egipte. Die LXX verskil hier en daar van die Hebreeuse teks. Die LXX het blykbaar ’n ouer Hebreeuse teks gebruik as wat tans gebruik word,. Dit is self ook met handgeskrewe tekste oorgelewer, maar bly ’n vertaalde teks uit een kultuur vir ’n ander en later kultuur. Die LXX was die Bybel van die Jode in die verstrooiing en is deur die eerste Christelike gemeentes gebruik. Die Nuwe Testamentiese skrywers het dikwels die LXX aangehaal. In hierdie uitleg sal die LXX se teks van Amos aangetoon word waar dit van die huidige Hebreeuse teks verskil. Die nuwe Afrikaanse Direkte Vertaling word in Oktober 2020 verwag. Daaruit word die nuutste Afrikaanse weergawe ook bygewerk. Johannes Gütenberg het in 1439 n.C. die drukpers ontwikkel vanuit die vroeëre houtblokkies wat sedert die 6e eeu in China en later in Europa gebruik is. Sedert 1439 word boeke en veral Bybels gedruk.

 Bekendstelling van die boek en sy skrywer (Amos 1:1-2)

1:1: ‘Die woorde van Amos, een van die herders uit Tekoa — woorde wat aan hom geopenbaar is oor Israel. Dit was twee jaar voor die aardbewing, in die tyd van Ussia, die koning van Juda, en Jerobeam, seun van Joas, die koning van Israel.’ Die boek word aangebied as die woorde wat Amos oor Israel (as siener) gesien het (Die LXX vertaal: ‘wat hy oor Jerusalem gesien het,’ wat vir Grieke meer bekend is as die naam Israel). In 1 Samuel 9:9 word gesê dat die profeet van vandag vroeër ’n siener genoem is, omdat hulle boodskap dikwels in ’n visioen van die Here ontvang is (vgl. 1 Kon 22:17). Amos het self ’n paar gesigte gesien waarin hy God se boodskap aan Israel ontvang het (bv. 7:1-3 die sprinkaanswerm wat die Here besig was om te vorm; 7:4-6 die vuur wat die groot watervloed laat opdroog het; 7:7-9 ’n skietlood in die Here se hand; 8:1-3 ’n mandjie ryp vrugte; 9:1-4 die Here wat by die altaar staan). Die woorde van Amos word met ‘sien’ aangedui as openbarings wat van die HERE af gekom het. Dit is die gesag waarmee Amos met die tien noordelike stamme van Israel gaan praat het. Sy naam Amos verwys na iemand ‘wat ’n vrag dra.’ Hy moes die sware vrag van die oordeel van God aan Israel gaan oordra. Hy was egter nie ’n opgeleide profeet of uit ’n priesterlike familie nie. In die stadjie Tekoa, 16 km suid van Jerusalem was hy een van die telers van ’n spesifieke soort skaap. In 7:14-15 noem hy homself ’n veeboer wat ook wildevye kweek, vir wie die Here agter die kleinvee weggevat het met die opdrag om teen die HERE se volk Israel te gaan profeteer. Hy, ’n boer uit die suide van Juda, moes in opdrag van die HERE, teen die noordelike tien stamme van Israel gaan profeteer. Al is hulle in twee volke verdeel ná die agteruitgang van Salomo se toewyding aan die HERE (1 Kon 11:4-13), is die HERE nog steeds die God van sy hele volk. Maar hulle het ook die pad van Salomo gevolg en van die HERE af weggedraai. Daarom kom die oordeel van die HERE oor hulle soos oor Salomo. Amos het opgetree tydens die regerings van koning Ussia van Juda (766-740 v.C.) en die koning van Israel Jerobeam, die seun van Joas, Jerobeam II genoem (2 Kon 14:23-29; 781-754 v.C.). Verder word gesê dat dit twee jaar voor die aardbewing was. Dit was ongeveer 760 v.C. Die opgrawings by Hasor het ook gewys dat daar ’n aardbewing in daardie jare plaasgevind het (vgl. Sag 14:5). Hosea het ongeveer 20 jaar later ook teen Israel gaan profeteer, en daarna Jesaja en Miga. Daarom is Amos se profesie die eerste van die skrifprofete en oudste van die later profete. Die ander haal hom soms aan.

1:2 In Hebreeus is vers twee in digvorm. Dit is ‘n overture tot die profesieë, ‘n opsomming van die boodskap van die hele boek. Die erns van die oordeel van die HERE oor sy ongehoorsame volk is die tema van die profesieë. Die stem van die HERE word voorgestel as ’n verwoestende geluid wat oor die hele land trek. ‘En hy (Amos) het gesê sê: ‘Die HERE brul (sjā’āg) uit Sion en vanuit Jerusalem laat Hy sy stem hoor; die groen weivelde van die kuddes treur en die top van Karmel verdor.’ (Die imperfektum van sjā’āg wys dat Hy besig is om soos ‘n leeu te brul. In Job 37:4 word sjā’āg gebruik vir die Here se donderslae. Die LXX vertaal sjā’āg met ‘het luid en duidelik gepraat’. ‘Laat Hy sy stem hoor is ook imperfektum dat Hy besig is om aan te kondig; Dit is ’n gepaste inleiding tot Amos se profesieë. Amos kom van Juda af (uit Sion, Jerusalem, waar die Here se tempel is wat Salomo gebou het, vgl. 1 Kon 8; Jesaja 6:1). Amos verkondig die HERE se oordeel oor Israel, die tien stamme in die noorde. Hulle groen weivelde strek oor die vlakte van Jisreël, loop tot by die berg Karmel en strek tot by Palestina se pronkwoude in die noorde. Jerobeam I het reeds 200 jaar vantevore die tien stamme verhinder om die HERE in Jerusalem te gaan aanbid. Hy het Israel gelei om die goue kalwers in Bet-El en Dan te aanbid (1 Kon. 12:25-32). Sy naamgenoot Jerobeam II gaan nog steeds daarmee aan (2 Kon 14:23-24). As die gebrul na donderweer sou verwys is dit ’n skerp ironie. Donderweer bring gewoonlik reën. Maar nou gaan die donderweer droogte bring. Juis in Jerobeam II se tyd het die HERE in sy genade vir Israel goed versorg ten spyte van hulle sonde teen Hom (2 Kon. 14:25-27). Maar in dié voorspoedige tyd is Amos die draer van die geweldige oordeel van die HERE oor Israel. Die gevolg van die HERE se oordeelstem is ’n uitmergelende droogte, ’n toonbeeld van die geestelike lewe van Israel. Volgens Eksodus 19:16-19 en 20:18-19 het die HERE ook aan Israel aan die begin van hulle bestaan as volk verskyn in die donderslae en vuur wat van Sinaiberg af gekom het. Jeremia 25:30 en Joël 3:6 gebruik die woorde van Amos 1:2. In die tienstammeryk se hoofstad Samaria en veral by hulle fees by hulle tempel in Bet-El (‘huis van God’ Gen 28:16-19) bring Amos die boodskap van die HERE aan Israel. Amos beklemtoon dat die HERE nie net die God van Israel is nie, maar ’n universele God wat oor alle nasies en oor die natuur regeer. Maar terwyl Israel daarop roem dat hulle God se uitverkore verbondsvolk is, het hulle nie hulle deel van die verbond met die HERE nagekom nie. Die geskiedenis van hulle verlossing uit Egipte word deur die HERE omgedraai deurdat Hy hulle verwerp. Hulle verwagting van die dag van die HERE as hulle verlossing uit die mag van hulle vyande, word die aankondiging van ’n dag van straf oor hulle verbreking van die HERE se verbond met hulle (vgl. Deutr 27&28).

Skrywer:  Prof Francois Malan