Amos(11) – Francois Malan

Amos 6 vers 12- 13

6:12 ‘Hardloop perde op ’n rotswand, of ploeg iemand die see met osse? (2020: ‘daarop’ i.p.v. ‘see’) (LXX of sal perde ophou runnik by merries) Want julle het die reg verander in ’n giftige plant en die vrug van geregtigheid in wilde-als. Die twee retoriese vrae oor die gedrag van diere beskryf ’n absurde situasie om die hoorders te laat nadink. ’n Perd se hoewe word vernietig as hy oor rotse hardloop. Daar is geen sin om die see te ploeg nie. (Die Hebreeuse woord babeqāriym vir ‘met osse’ bestaan nie; beter: bābāqār yām ‘met osse die see’) So onnosel is Israel deur die reg in hulle howe te vergiftig met valsheid en omkopery. Geregtigheid in hulle samelewing het hulle verander in bitterheid vir behoeftiges. So vernietig hulle die HERE se riglyne vir hulle verhoudings. Met die twee diere-voorbeelde word die hoorders uitgelok om die dwaasheid van hulle lewenswyse te sien soos die HERE dit sien. Die HERE het reeds gesê Abraham moet sy kinders leer om volgens die weg van die HERE te lewe met tsedākāh ‘geregtigheid’ in die samelewing en misjeppāt ‘reg’ in die regbank, sodat Hy aan Abraham kan doen wat Hy beloof het, sodat al die nasies van die aarde in hom geseën sal word (Gen 18:18-19). Spreuke 21:15 sê: Dit is ’n vreugde vir die regverdige (tsaddik) om reg (misjeppāt) te doen, en ’n verskrikking vir dié wat die verkeerde doen. 6:13 ‘Julle wat verheug is oor Lo-Dabar (wat niks is nie), wat sê: het ons dan nie in eie krag vir ons Karnajim (horings) verkry nie? ‘Wat niks is nie’ – Lo’ ‘nie’ Dābār ‘woord/saak/iets. Karnāijim beteken ’n paar horings. Horings was ’n teken van krag (vgl.Sag 1:18-20). Die 1953-vertaling en LXX vertaal Lo-Dabar as ‘wat niks is nie’ en Karnajim as ‘horings.’ 1983 en 2020-vertalings verwys na die dorpe Lo-Debar, ’n dorp oos van die Jordaan in Gilead, wat ook in Josua 13:26; 2 Samuel 9:4 en 17:27 genoem word en Karnajim, ’n belangrike stad in die Aramese gebied wat in Genesis 14:5 genoem word. In plaas van die dorp se naam Lo-Debar skryf Amos eintlik bietjie stout Lo-Dābār, wat ‘niks is nie’ beteken. Karnajim spel Amos met ’n lang ‘ā’ Karnājim wat ‘horings’ beteken. Die arrogante Israel spog oor hulle inname van die twee stede en die verowering van die gebiede om die stede. Maar Amos spot met die woord Lo-Dabar dat hulle eintlik oor ’n nietigheid spog, en Karnājim met ’n lang ‘ā’ wat horings beteken, asof hulle met eie krag horings gekry het. 2 Konings 14:25,28 vertel hoe Jerobeam II Israel se grondgebied uitgebrei het, die Oos-Jordaanse gebied terug verower het, wat die twee stede in sy ryk ingesluit het. Israel spog dat hulle dit in eie krag gedoen het. Maar 2 Konings 14:25 sê die uitbreiding van hulle gebied was in ooreenstemming met wat die HERE die God van Israel gesê het deur sy dienaar Jona seun van Amittai. Die selfversekerde Israel roem oor hulle eie krag (horings is simbool van krag) en vergeet dat die HERE die gebied aan Israel se leërs oorgegee het. Die mens wat ingenome raak oor sy eie prestasies, vergeet die Almag van God wat bo en agter alles staan. Die oorwinninkie van Israel is eintlik ’n nietigheid in vergelyking met wat die HERE nou aan hulle gaan doen, wat in vers 14 uitgespel word. Amos 6 vers 14 6:14 ‘Want kyk! (hier kom ’n belangrike aankondiging): Ek is besig om ‘n nasie teen julle op te wek, huis van Israel, is die Godspraak van die HERE, die God van die leërskare en hulle sal julle onderdruk van Lebo-Hamat af tot by die rivierbedding van die Araba. (LXX …dat julle nie in Hamat sal ingaan nie, soos van ’n vol rivier van die wildernisse – lebō’ beteken ‘ingang’). 2020: ‘Maar kyk, Ek laat teen julle, huis van Israel, ’n nasie optrek’ is die uitspraak van die HERE, wat Heerser is oor alle magte, ‘en hulle sal julle onderdruk van die Lebo-Hamat af tot by die droë loop van die Araba’ Israel roem volgens vers 13 dat hulle in eie krag – Karnajim hulle eie ‘horings,’ vir Lo-Dabar wat ‘nie iets’ is nie, vir hulle teruggevat het (2 Kon 14:25). Dit word hier aan die einde van Amos se sesde visioen aan die kaak gestel. Teenoor die mag van hulle leërs staan die HERE se leërskares in die hemel en op die aarde. Die HERE se straf antwoord op Israel se sonde, op hulle roem in hulle eie krag. ‘Want kyk:’ Hy is besig om ’n nasie se leër op te wek teen die leërs van Israel. Jerobeam II het Israel se gebied uitgebrei van die Lebo-Hamat af tot by die Dooie See in die Jordaanvallei. Maar Israel het nie erkenning gegee aan die HERE wat daardie veldslae vir hulle laat slaag het, soos die profeet Jona vir hulle gesê het nie (2 Kon 14:25). Israel het gespog dat hulle dit in eie krag gedoen het. Eintlik het hulle die afgelope 200 jaar die HERE heeltemal uit hulle lewe uitgeskakel en op hulle self vertrou, en op die afgodsbeelde wat hulle vir hulleself opgerig het. Samuel het al vir Saul gesê: ‘eiesinnigheid is afgodsdiens’ (1 Sam 15:23), want jy maak die afgod met jou eie hande, en jy glo dat die ding, wat nie kan hoor of praat nie, sal doen wat jy vir hom sê, omdat jy eintlik jou eie god is. Die HERE gaan die leër van die ander nasie stuur om Israel in hulle hele land te onderdruk, van hulle noordelikste dorp LeboHamat af tot by hulle suidelike grens by die wadi, die (droë) rivierbedding, van die Araba, die droë streek of woestyn by die Dooie See (vgl. Numeri 34:7-8,12 vir die noordgrens; 1 Kon 8:65 die land wat die HERE aan hulle gegee het). Die nasie wat die HERE opwek sal Israel onderdruk in die hele gebied van Israel, wat die armes onderdruk. Die HERE gaan ’n einde maak aan Israel se trots en selfversekerdheid. Spreuke 21:31 sê: ‘Perde kan afgerig word vir oorlog, maar dit is die HERE wat die oorwinning gee.’ Amos kondig aan dat die HERE sy oorwinning gaan vier in die totale vernietiging van Israel. Agt-en-dertig jaar ná die strafaankondiging van die HERE deur Amos (760 v.C.) het die Assiriërs in 722 v.C. Samaria ingeneem. Hulle hoofstad Samaria was die laaste van Israel se stede wat geval het, en die inwoners is in ballingskap weggevoer (2 Kon 18:9-12).

Skrywer: Prof Francois Malan