Amos(12) – Francois Malan

Hoofstukke 7-8

Die twee hoofstukke het vier gesigte van Amos met dieselfde boodskap, ’n verwerping van Amos as profeet en ’n aantal preke. ’n Vyfde gesig is in hoofstuk 9.

Sprinkane (die eerste gesig, Amos 7:1-3)

 7:1 ‘So het my Heer, die HERE, my laat sien en kyk! Hy is besig om ’n swerm sprinkane te vorm (yotsēr) aan die begin van die laat saaityd wat begin uitspruit. En kyk! dit was nogal die laat saaityd (lêqêsj) (2020: …net toe die saad van die lente opgekom het) ná (achad) die snysel (gizēj) van die koning. (LXX en kyk! ’n swerm (yētsêr) sprinkane kom uit die ooste, en kyk een (’êchad) sprinkaanlarwe (yêlêq), koning Gog (gog); Die Heer van die hele skepping, die HERE, die altydteenwoordige God van sy verbond met Israel, laat sy dienskneg Amos ’n beeld sien van sy voorneme om Israel te straf. Die gesig het Amos moontlik gesien nog voor sy vertrek na Israel. Amos die boer sien sprinkane kom. In Eksodus 10:12 is sprinkane die agtste strafplaag wat die HERE oor Egipte stuur. In Amos 4:9 het die HERE ook sprinkane belowe as straf op Israel se sonde. Die sprinkane kom egter op ’n tyd wat ’n baie groot bedreiging vir die oes en weiding inhou, aan die begin van die lente, voor die laat reëns kom. Dit kan die ganse plantegroei van die land uitroei. Dat die koning die reg gehad het om eerste te oes of gras te sny, staan nie direk in die Bybel nie. Vir die voorregte van die koning, vgl. egter 1 Sam 8:9-17. 7:2 Toe hulle die plante van die aarde klaar opgeëet het, het ek gesê: ‘My Heer, HERE, vergewe tog, hoe sal Jakob tog kan bestaan, want hy is klein.’ Nadat die sprinkane al die plante, gesaaides, weiding en die bome kaal gestroop het, wag daar hongersnood vir mens en dier. Amos tree in gesprek met die Heer van die heelal, die naam wat sy absolute verhewenheid aandui, en die altydteenwoordige genadige HERE. Amos tree in vir die afstammelinge van Jakob met wie die HERE sy genadeverbond gesluit het om Jakob se God te wees. Al wat Amos voor die HERE kan lê is Jakob se nietigheid, geen verdienste nie. In hulle trots het Israel sorgeloos gedink hulle is onkwesbaar. Teen die majesteit en mag van die HERE se toorn sien Amos hoe hulpeloos klein hulle is. Maar Amos weet hoe besorg die HERE oor die swakkes en hulpeloses is. So het Jesus ook aan die kruis gebid (Luk 23:34): ‘Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie’ en daarmee die tyd vir prediking en bekering geopen (Matt 28:19-20). 7:3 Die HERE het berou daaroor gehad. ‘Dit sal nie gebeur nie,’ het die HERE gesê. (LXX: ‘Wees spyt hieroor Here,’ en die HERE sê: ‘dit sal nie gebeur nie’). Op Amos se versoek verander die HERE sy besluit. Hy sal nie meer die sprinkane op die kwesbare tyd stuur om die plante te vernietig nie. Dit beteken nie dat Hy Israel vergewe het vir hulle oortredings nie, maar dat die HERE bereid is om die straf te verander op versoek van sy profeet. Israel het geen berou oor hulle sonde nie, maar hulle straf word uitgestel sodat Amos vir hulle kan gaan preek. So het die HERE sy plan om Israel te verdelg uitgestel op Moses se gebed (Eks 32:32-34 en 33:12-17), Lot uit Sodom gered op Abraham se versoek (Gen 18:17-33), reën gegee op Elia se gebed (1 Kon 18:42; Jakobus 5:16-18, ens.). Amos vertel vir die Israeliete hoe die HERE sy gebed om genade vir hulle verhoor het. Amos praat nie oor Israel se ondergang as iets wat hy uitgedink het nie, maar vanuit die HERE se persoonlike verhouding met hom; vanuit sy gesprek met die HERE wat hom as profeet geroep het en na sy profeet se versoeke luister en daarop reageer. Dit is die HERE, die Ek is, wat ook direk met Moses gepraat het soos ’n man met sy vriend (Eks 33:11). Abraham het in God geglo en daarom is hy ’n vriend van God genoem (Jak 2:23). So het Jesus ons geleer om persoonlik met God te praat as ‘Ons Vader’ (Matt 6:9). Vuur (die tweede gesig, Amos 7:4-6) 7:4 ‘So het my Heer, die HERE, my laat sien, en kyk! My Heer, die HERE, het tot ’n regstryd met vuur opgeroep. Dit het die groot oerwaters laat opdroog en sou ook die bewerkbare grond verteer. (LXX Die Here het vuur as straf geroep en dit het die bodemlose dieptes verteer en die Here se erfdeel verteer). Die sprinkane sou die lentegroei kom verteer. Die vuur kom as die hitte van die somerson wat die sonde van Israel in hulle reëntyd straf met ’n verskriklike droogte, wat waterbronne laat opdroog het en gesaaides gaan verskroei. Daar is ’n toename in die straf van die HERE. Die sprinkane sou opvreet wat weer kan uitspruit. Die vuur laat die onderaardse waterbronne opdroog en verbrand die landerye en weivelde. Die vuur is meer skrikwekkend as die sprinkane. Die Regter roep die nakomelinge van Jakob persoonlik op vir ’n regstryd. Genesis 7:11; 49:25 verwys na die fonteine wat uit die groot waters oopbreek, wat hier opdroog. In Deuteronomium 32:22 het die HERE gedreig dat Hy vuur sal stuur tot in die doderyk daaronder, wat ook die aarde se opbrengs sal verteer (vgl. Num 11:1 en Lev 10:2 waar die HERE vuur gestuur het). Die sewende plaag in Egipte was hael met donderslae en blitse tot op die grond (Eks 9:24). Die vuur van die HERE se toorn teen die eerste sewe nasies (Amos 1:3-2:5) bedreig nou ook vir Israel. In Mattheus 25:41 verwys Jesus na die ewige vuur wat vir die ongelowiges wag. In Lukas 17:29-30 vergelyk Jesus die oordeelsdag met die vuur en swael wat Sodom vernietig het, soos die gelykenis van die ryk man se lyding in die vuur van die doderyk in Lukas 16:23-24. Daarvan is Amos se gesig ’n vooruitskouing. 7:5 Maar ek het gesê: My Heer, HERE, hou tog asseblief op, hoe sal Jakob tog kan bestaan, want hy is klein.’ Soos Abraham die HERE weer en weer gevra het om Sodom te spaar (Gen 18:26-32), hou Amos aan om die HERE te vra om nie met sy plan voort te gaan nie. Amos vra nie weer dat die HERE moet vergewe nie, want die vorige keer het die HERE nie vergewe nie, maar net die straf uitgestel. Nou vra hy net dat die HERE nie moet voortgaan met sy plan met die verterende vuur wat Jakob tot stoppels sal verbrand nie. Hy maak weer staat op die HERE se barmhartigheid oor die swakkes met die verwysing na Jakob se kleinheid voor die magtige HERE. 7:6 ‘Die HERE het berou daaroor gehad. ‘Ook dit sal nie gebeur nie,’ het my Heer, die HERE, gesê. Soos met Abraham is die HERE lankmoedig met Amos se tweede versoek, en laat Hom ompraat deur sy gesant. Die gloeiende woestynwind word vervang deur ’n koel seewind. Dat die HERE van plan kan verander wanneer Hy daarom gevra word, getuig van die HERE se barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, liefde en trou, sonder om iemand sonder meer vry te spreek, soos Hy Hom 660 jaar tevore aan Moses openbaar het (Eks 34:5-7).

Skrywer:  Prof Francois Malan