Amos(8) – Francois Malan

Amos 5 vers 21-27 5:21-24 Die volgende vier verse is die HERE se veroordeling van Israel se godsdienstige gebruike sonder die uitlewing daarvan in die gemeenskap. In vers 21 word hulle feeste veroordeel, in vers 22 hulle offers, vers 23 hulle liedere, en vers 24 hulle gebrek aan reg en geregtigheid. 5:21 ‘Ek haat, Ek verwerp julle feeste, en verdra nie die reuk van julle feestelike samekomste nie. Israel se verwagting dat die dag van die HERE ’n dag van vreugde sal wees (5:20), kom uit hulle oortuiging dat hulle feeste en offers waarmee hulle die HERE versorg, vanself vir hulle ’n vreugdedag deur die HERE waarborg. Die gebruike gryp Amos nou aan. Die woord vir feeste verwys na die vrolike pelgrimstogte na die tempel, en samekomste na hulle feestelike saamwees. Die gedeelte van vers 21-27 word in die eerste persoon geskryf as die woorde van die HERE wat Amos by die groot fees uitbulder as die HERE se beoordeling van wat hulle besig is om doen. Hulle kom om hulle verhouding met God saam met Hom te vier en dink dat hulle fees vir Hom aanneemlik is en Hom gunstig stem teenoor hulle. Levitikus 23 beskryf, benewens die weeklikse sabbat (sjabbat) as rusdag aan die HERE gewy, die drie groot sewedaagse feeste wat die HERE deur Moses aan Israel gegee het om hulle aan Hom te wy (Eks 23:14-19). Paasfees (pêsach) sewe dae ongesuurde brood (matstsōth) aan die begin van die koring- en garsoes in April (14e dag van die eerste maand) om vir die HERE aanneemlik te wees; Pinksterfees (sjabbat sjanim ‘sabbat van jare’) vyftig dae vanaf Paassondag met die insameling van die volle oes. Die wenakkers word vir die armes gegee; Huttefees (soekkōt) vyf dae na die vas op die Versoendag (yōm kippoer), met die vrugte-oes, vir sewe dae moet hulle in hutte woon om hulle redding uit Egipte deur die HERE aan die nageslag te vertel (10e van die sewende maand). In plaas van ’n soete welbehaaglike geur is hulle feeste vir die HERE haatlik, verwerplik en draai Hy sy gesig weg van die reuk van hulle feestelike byeenkomste. Hy vier nie saam met hulle nie. Dit is sy oordeel wat Hy uitspreek oor Israel se godsdiens wat hulle so ywerig vier vir hulle eie bevrediging. Wat die Here wel behaag, is om Hom te eer (Jesaja 11:3.) 5:22 ‘Want as julle vir My julle brandoffers en graanoffers bring, vind Ek nie vreugde daarin nie (2020: Ek aanvaar dit nie), En julle maaltydoffer van vetgemaakte (kalwers) sien Ek nie aan nie (2020: Kyk Ek nie eers na nie). Die bloederige brandoffers (‘olah, Lev 1:3-9; 7:8) en die bloedlose graanoffers (minchah Lev 2; 7:9 ) word heel op die altaar verbrand. Die maaltydoffer (sjêlêm Lev 3:7,11) verwys na die laaste offer van die fees waar slegs van die bloed, niertjies, stukkie van die lewer en niervet op die altaar verbrand word. Die res word gekook; die priesters kry ’n deel daarvan en die gesin die res. Hulle eet dit as teken dat die HERE dit aanvaar (Lev 3:5). Die saameet is ‘n teken van die HERE se gemeenskap met hulle. Die drie offers volg Levitikus se hoofstukke 1,2,3. Die HERE kondig egter aan dat Hy geen vreugde in Israel se offers vind nie, en hulle manier, om met ’n maaltyd kastig gemeenskap met Hom te beoefen, is futiel want Hy is nie meer deel daarvan nie. Psalm 40:9 sê: Wat U behaag my God, wil ek graag doen, u wet is in my binneste (vgl. Hebreërs 10:1-17). 5:23 ‘Verwyder van my die geraas van jou feesliedere; die klank van jou harpe wil ek nie hoor nie. In verse 21-22 word Israel aangespreek as ‘julle.’ In vers 23 as ‘jou.’ Dit het ’n stygende effek, meer direk persoonlik. In vers 21-22 gaan dit om pelgrims wat van verskillende kante af kom, drie verskillende offers bring en afsonderlike familiegroepe wat die vleis eet wat elke groep gebring het. In vers 23 gaan dit oor die groot lawaai van almal wat saam sing. Die geraas verwys waarskynlik na die ekstatiese lawaai van die feesliedere waarmee die HERE dan deur almal saam geloof sou word tydens die fees. Dit word gesing onder begeleiding van die luit, dit is die tiensnarige harp. In vers 21 het die HERE sy neus gesluit vir die reuk van hulle samekomste; in vers 22 sy oë om nie die vet van hulle offers te sien nie; en hier in vers 23 sy ore vir die geraas van hulle liedere. Die HERE het Hom afgesluit van Israel se godsdiens: hulle feeste, offers, en prysliedere. Die luidrugtigheid van die vokale en instrumentale musiek bekoor die HERE net so min soos die vet op die altaar en die pelgrimstogte na die heiligdom. Dit is alles uiterlike dinge wat Israel kom geniet het en waarmee hulle die HERE se guns wou wen om sy seën te kry. Maar die HERE soek opregte harte wat na Hom luister en dat sy volk volgens sy woord sal lewe. 5:24 ‘Laat die reg voortrol soos water en geregtigheid soos ’n standhoudende waterstroom’ In plaas van die rumoer van Israel se lofprysings, die reuk van hulle offerandes en die optogte na hulle feeste, soek die HERE iets heel anders: die reg in hulle howe en geregtigheid in hulle samelewing wat alles teenwerk teen uitbuiting en onreg. Die beelde wat gebruik word stel die reg voor as ’n waterstroom wat aanrol in ’n rivier. Die geregtigheid, om reg op te tree teenoor jou medemens, moet alle oortreding onmoontlik maak soos in ’n standhoudende vol rivier wat jou meesleur as jy daarin beland, maar deur die hele jaar water voorsien aan mens en dier en plante en die aarde. Sonder reg in die howe en geregtigheid in die samelewing is alle godsdiens vir die HERE onaanvaarbaar. Maar Israel het ‘die reg verander tot wilde-als en geregtigheid by die deur uitgesmyt en daarop getrap’(5:7). Hulle lewe nou van onkruid in droë lope as beeld van die regters en getuies wat omgekoop word (5:7,10.12), armes word mishandel (2:6-8; 4:2), daar is geweld en verwoesting in hulle mooi huise (2:6-8; 3:10). Die HERE sê in Jesaja 1:26 dat Hy Sion weer ’n stad van geregtigheid sal maak. Daniël 9:24 voorspel ’n tyd van versoening vir oortredings en blywende geregtigheid. Paulus bid vir die Filippense dat hulle vervul sal word met die vrug van geregtigheid deur Jesus Christus tot verheerliking en lof van God (Flp 1:11). Verse 25-27 is vatbaar vir verskillende verklarings. Een word hier aangebied. ‘Julle’ verwys na Israel se 40 jaar in die woestyn toe daar nie altyd geleentheid was vir feeste en offers nie, hoewel die feeste en offers in Eksodus, Levitikus en Numeri beskryf word. Toe was Israel geheel en al van die HERE afhanklik. Hy het hulle daagliks gelei en gedra en beskerm. Uit sy hand het hulle water en hulle daaglikse manna ontvang. 5:25 ‘Het julle slagoffers en graanoffers vir My gebring die veertig jaar in die woestyn, huis van Israel? Veertig jaar verwys na die lewenspan van ’n mens. Dit verwys na die HERE se beslissing by Kades in die Paranwoestyn toe Israel geweier het om Kanaän in te trek, dat nie een van hulle (behalwe Josua en Kaleb) die beloofde land sal sien nie (Num 14:20-24,29-30,33-34). Numeri 15:1-4 gee dan die opdrag dat dié wat dan in die beloofde land sal inkom, brandoffers en graanoffers vir die HERE moet bring. Die punt van Amos se retoriese vraag is dat die HERE nie vir Israel in die land wat Hy aan hulle beloof het, ingelei het omdat hulle offers vir Hom gebring het nie. Die land was sy genadige gawe aan hulle, met die vereiste dat hulle Hom moes gehoorsaam. Die tien stamme het egter hulle feeste en offers en sang so goed ontwikkel, afgode begin dien en daarop vertrou, terwyl hulle die gehoorsaamheid aan die HERE en sy woord in hulle alledaagse lewe en regspleging gruwelik verwaarloos en verdraai het. 5:26 ‘Julle sal Sikkoet julle koning en Kijjoen (Saturnus) dra, die Ster van julle god wat julle vir julle gemaak het.’ LXX: en julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Raifan…’ 2020: Julle sal Sakkoet, julle koning, en Kajjawan, julle beelde, die ster van julle gode moet dra…’ 1. Sakkoet – Die vokale van skkwt is in Hebreeus spottenderwys verander na Sikkoet ‘afstootlik’ 2 julle koning – hulle titel vir die ster wat vir hulle die belangrikste god is. 3 Kajjawan – nog ’n titel van Saturnus, vokale ook verander na vokale van ‘afstootlik’ Kijjoen’ As voorloper van vers 27, voorsien vers 26 ’n toestand wat in die toekoms voltooid sal wees. Dan sal die HERE se straf wat hier aangekondig word, voltooid wees. Israel het daarvolgens reeds die stergod Saturnus van die Assiriërs as hulle koning, hulle hoofgod, begin dien. Sakkoet en Kajjawan is twee name vir die planeet Saturnus. Die HERE, wat hulle deur die woestynreis gedra het, sien noual hoe hulle die beelde van hulle afskuwelike afgode, wat hulle met hulle eie hande gemaak het, gaan dra; eers as ballinge en later as slawe verstrooi in die vyand se land, in die optogte ter ere van die afskuwelike afgode. 5:27 ‘Ek sal julle in ballingskap tot anderkant Damaskus wegvoer’, sê die HERE. God van die leërskare is sy Naam. Amos spel in 760 v.C. die straf op Israel uit, waarop die HERE besluit het. Hulle het die bevele van die HERE geminag en terselfdertyd hulleself bedrieg. Hulle het aangeneem dat hulle deur hulle soort godsdiensfeeste en offers en sang rondom die goue kalf in Bet-El onder die ster Saturnus ’n stabiele verhouding met die HERE handhaaf (vgl. 2 Kon 17:15-16). Hy het egter klaar besluit om hulle in ballingskap te laat wegvoer. In 722 v.C. is hulle na Assirië toe weggevoer en verstrooi (vgl. 2 Kon 17:6). Israel, wat deur die HERE uit Egipte verlos is en in die beloofde land laat woon het, word deur die HERE daaruit verban om staatlose vreemdelinge te wees. Aan die einde van die vyfde profesie onderstreep Amos dat hy die draer is van die woorde wat die HERE, die ‘Ek is’ die altydteenwoordige HERE, self gesê het. Hy is die Heer wat die leier en gesagvoerder van die nasies is, van al die leërmagte in die hemel en op die aarde wat Hy kan inroep en gebruik waar en wanneer Hy wil (vgl. Matt 26:53).

Skrywer:  Prof Francois Malan