Apollos

Apollos – Coen Slabber

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6).

Wie is hierdie Apollos van wie Paulus hier praat? Apollos was ‘n Jood uit Aleksandrië wat tot bekering gekom het. Hy was ‘n tydgenoot van Paulus en het ‘n belangrike rol in die gemeentes van Efese en Korinte gespeel. In Aleksandrië het hy waarskynlik onder die invloed van Philo, die Joodse filosoof, gekom.

Ons lees van Apollos veral in Handelinge 18:24 – 19:1. Hy reis van Aleksandrië en kom in Efese aan – waarskynlik in die jaar 52 of 53. Hy was ‘n begaafde spreker met ‘n deeglike kennis van die Skrif. Ons lees dat hy in die leer van die Here onderrig ontvang het. Hy praat met groot geesdrif en leer ander alles  oor Jesus. Terwyl hy eendag met vrymoedigheid in die sinagoge gepreek het, hoor Priscilla en Akwila, vriende en medewerkers van Paulus, hom en nooi hom na hulle huis toe. Daar maak hulle vir hom die leer van God nog duideliker. Wat was dan die verskille tussen wat Apollos en wat Priscilla en Akwila geleer het? Dit was waarskynlik verskille oor die doop en die rol van die Heilige Gees. Ons lees dat die doop waarvan Apollos geweet het die doop van Johannes die Doper was.

 

Van Efese reis Apollos na Agaje. Die gelowiges in Efese gee vir hom ‘n aanbevelingsbrief. In Korinte, die hoofstad van die Romeinse provinsie van Agaje, weerlê hy kragtig en in die openbaar die Jode en bewys uit die Skrif dat Jesus die Christus is. Dit is juis deur sy werk in Korinte dat Paulus na Apollos as die een wat natgooi verwys.

 

Ongelukkig was daar faksievorming in die gemeente van Korinte. Daar was vier faksies: een vir Paulus, een vir Apollos, een vir Sefas en een vir Christus (1 Korintiërs 1:12). Daar is geen rede om te dink dat Apollos enigiets met hierdie faksievorming te doen gehad het nie. Ons lees later dat Paulus herhaaldelik vir Apollos versoek het om na Korinte terug te keer, maar hy wou nie: Hy sal gaan sodra die tyd vir hom geleë is (1 Korintiërs 16:12). Die enigste ander keer wat ons van Apollos in die Bybel lees is in Titus 3:13.

 

Hieronimus skryf dat Apollos so ontevrede was met die verdeeldheid in Korinte dat hy en die regsgeleerde, Zenas, na Kreta gaan. Die verdeling in Korinte is mettertyd geheel veral deur Paulus se briewe. Apollos het waarskynlik later na Korinte teruggekeer.

 

Martin Luther het geglo dat Apollos die skrywer van die Hebreër-brief was. Verskeie kerkgenootskappe (byvoorbeeld die Missouri-sinode van die Lutherse Kerk) beskou Apollos as ‘n heilige. Elke jaar op 13 Februarie word Apollos, Priscilla en Akwila herdenk.

 

Die feit dat Apollos in Aleksandrië grootgeword het, moes beslis ‘n invloed op hom gehad het. Philo, die Joodse filosoof, beweer daar was destyds ongeveer een miljoen Jode in Egipte – die oorgrote meerderheid in Aleksandrië. Dit was die grootse Joodse gemeenskap in die diaspora. Aleksandrië was veral bekend vir sy uitstekende biblioteek. Dit is dan ook die plek waar die Hebreeuse Ou Testament in Grieks – die Septuagint – vertaal is. Philo was ook bekend vir sy allegoriese Skrifinterpretasie. [Allegorie – sinnebeeldige voorstelling van ‘n abstrakte begrip, meestal met lewende wesens wat die abstrakte begrippe voorstel. Grieks: allos – anders +  agoria = sprekende].

 

Wat kan ons by Apollos leer?

  1. 1.Apollos gebruik die plek waar hy grootgeword het om sy verstaan van die Skrif te ontwikkel. As ek ernstig is om die Skrif te bestudeer en te verstaan, moet ek alle moontlike hulpbronne tot my beskikking gebruik.
  2. 2.Apollos is oop en leerbaar. Toe Priscilla en Akwila hom nader om die leer van die Here vir hom nog duideliker te maak, luister hy en pas aan. Ek weet nooit genoeg dat dit nie vir my meer nodig is om te leer nie.
  3. 3.Apollos gebruik sy gawe – prediking – om die liggaam van Christus uit te bou. Elkeen van ons het ‘n gawe ontvang. Gebruik ek my gawe om die liggaam van Christus uit te bou?
  4. 4.Apollos gebruik sy kennis van die Skrif om die Christelike geloof te verdedig: Hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is. Gebruik ek my kennis om ander tereg te wys as hulle van die Skrif afdwaal … in die openbaar?

 

Apollos, begaafde spreker, altyd bereid om nog meer te leer, is vir elkeen van ons ‘n voorbeeld om na te volg.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber