Apologetiek: Benadering tot apologetiek

It must not content us to take our bodies to church if we leave our hearts at home. —J.C. Ryle

Apologetiek: Benadering tot apologetiek

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Ons benadering tot apologetiek bestaan uit ‘n paar stappe:

  • Verstaan die geloof.

‘n Goeie verstaan van die geloof is belangrik, maar ons moet ook verstaan hoe die geloofstemas met die ondervindings en idees van mense kan verbind – ons moet ‘n buitestander perspektief ontwikkel. Dit beteken dat ons moet vra hoe ‘n ongelowige op die kernaspekte van die geloof gaan reageer. Ons wil weet hoe die idees, verhale en beelde van die geloof met die werklikhede van die alledaagse lewe betrokke kan raak.

  • Verstaan die gehoor

Gehore, soos reeds in die tyd van die Nuwe Testament, verskil aansienlik. Daarom kommunikeer Petrus en Paulus dieselfde evangelie op verskillende maniere. Elke gehoor het sy eie vrae, besware en probleme wat hanteer moet word. Net so het elke gehoor sy eie kontakpunte en openinge vir die geloof. So verskil gehore ten opsigte van hulle kennis van die geloof. Sommige het geen kennis nie en beskou die Bybel as irrelevant. Ander onthou so vaagweg sekere gedeeltes soos Psalm 23: Die Here is my herder. Kultuurperspektiewe verskil ook – party modern, party postmodern; sommige dink op abstrakte maniere, ander dink in terme van stories en beelde. In elke geval moet ons dink hoe ons die evangelie die beste kan oordra – wat inpas by die kennis en ondervindings van die gehoor.

  • Kommunikeer duidelik

Die gehoor moet ons taal kan verstaan. Our business is to present that which is timeless in the particular language of our own age (C. S. Lewis). Ons moet die werklikhede van ons geloof vertaal in die heersende kultuurtaal.

  • Kry kontakpunte

Identifiseer kontakpunte vir die evangelie wat reeds in die kultuur en ondervindings van die mens ingebed is. God is nie sonder ‘n getuienis in die wêreld nie. Hy het die nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee (Handelinge 14:17). Ons taak is om hierdie getuienis te identifiseer en dit as kontakpunt vir die verkondiging van die evangelie te gebruik.

  • Die hele evangelie

Ons mag nie die evangelie verarm tot dit wat ons persoonlik geniet en aantreklik vind nie. Ons moet onderskei tussen die Christelike boodskap en ons eie idees: If we fail to make this distinction, what is presented to our audience is not the Christian gospel, but those aspects of the gospel we happen to regard as important and interesting (C. S. Lewis). Ons eindig deur onsself in plaas van vir Christus te bevorder.

  • Oefen, oefen, oefen

Apologetiek is nie net teorie nie, maar ook praktyk. Ons moet apologetiese idees en benaderings in die alledaagse lewe – gesprekke, debatte, onderhoude, ens – kan toepas. Apologetiek is beide ‘n wetenskap en ‘n kuns; dit gaan nie net oor kennis nie, maar ook oor wysheid.

Volgende keer gaan ons na die teologiese basis vir apologetiek kyk.