1

Apologetiek: God is ‘n kruk

 

Apologetiek: God is ‘n kruk

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

‘n Aantyging wat veral die Nuwe Ateïste gebruik, is: God is net ‘n kruk om die lewe se “verloorders” te ondersteun en te vertroos nie. Ware mense het nie vals versekering nodig nie – hulle kan met die lewe voortgaan.

Daarom is godsdiens vir diegene wie se emosies onvoldoende is – mense wat nie die werklikheid van die lewe kan hanteer nie en daarom graag hulle eie verbeeldingswêreld skep. Hoe moet ons hierop reageer?

  1. Ons moet die geskiedkundige oorsprong van hierdie argument verstaan – waar kom hierdie kritiek vandaan? Sigmund Freud (1856 – 1939). Freud glo dat geloof in God ‘n illusie is. Hy glo dat God net in die menslike verstand bestaan; die bestaan van God is wensvervulling wat die gevolg is van ons begeerte vir betekenis en liefde. In werklikheid is hierdie God nie ‘n werklikheid nie – hy stem met ons begeertes ooreen. Wat ons moet doen is om ons met die harde werklikheid van die wêreld te versoen.
  2. God is dus volgens Richard Dawkins ‘n delusie. Die implikasie is dat diegene wat on God glo onvoldoende, gewonde mense is wat hulp nodig het om die werklikhede van die lewe te hanteer. God is ‘n sielkundige ondersteuning.

Daar is geen empiriese bewyse vir hierdie siening nie. Dit kry geloofwaardigheid omdat dit so dikwels herhaal word en met soveel oortuiging gestel word.

Die kruk se boodskap is eenvoudig: sterk mense het nie ‘n kruk nodig nie – hulle sorg vir hulleself. Krukke is vir swak mense en dwase. Ons moet twee belangrike punte maak:

  1. Dit gaan hier oor die waarheid en nie die behoefte nie. Diegeloof vertel dinge soos hulle werklik is Deel van hierdie waarheid is dat die mens na die beeld van God gemaak is – daarom het ons ‘n ingeboude neiging om ons pad na God terug te kry – of ons nou daarvan hou of nie.
  2. As jy jou been gebreek het, het jy ‘n kruk nodig. Die mens is beskadig, gewond deur sonde. Augustinus het gesê die kerk is soos ‘n hospitaal – vol gewonde en siek mense in die proses van genesing. Daar is iets verkeerd met die mens se natuur. Die mense se wonde moet verbind word; die swere moet skoongemaak word; hy moet ontslae raak van sy skuldgevoelens. Die beeld van ‘n kruk som ons behoefte aan ingryping op. Ons moet besef dat ons hulp nodig het – al is ons te trots en selftevrede om daarvoor te vra.

Hiermee het ons aan die einde van die lang bespreking van apologetiek gekom.