Apologetiek: Plaas dinge in konteks (2)

image_pdfimage_print

Every increased possession loads us with new weariness. -John Ruskin

Apologetiek: Plaas dinge in konteks (2)

 [Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.” Maar Natanael sê vir hom: ”Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” “Kom kyk,” het Filippus hom geantwoord (Johannes 1:45 – 46).

 

Nadat hy Jesus ontmoet het, is Filippus oortuig dat Hy dié een is wat hulle verwag het. Hy probeer nou vir Natanael oortuig dat dit die geval is. Natanael is skepties en opper ‘n beswaar:  Kan so iemand uit Nasaret kom? In plaas van redelike argumente nooi Filippus vir Natanael uit om self te kom kyk. Filippus kon argumente gebruik het om Natanael te probeer oortuig; hy kon die faktore wat vir Petrus, Andreas en homself oortuig het om Jesus te volg op die tafel geplaas het. Filippus het egter geleer dat ontmoeting beter as argumente is. Hoekom sal hy nou met Natanael argumenteer as daar ‘n direkte en meer toepaslike alternatief is? Daarom sê Filippus: Kom kyk. Nadat Natanael vir Jesus ontmoet en gehoor het, maak hy sy eie gevolgtrekking: “Rabbi, U is die seun van God, U is die koning van Israel (1:49).

Die belangrike dinge is om mense op Jesus te rig. Ons kan verduidelik wat so oortuigend van Jesus is, maar die oortuiging kom, nie van ons getuienis nie, maar van ‘n eie ontmoeting met die opgestane Christus. Ons mag mense oortuig dat ‘n idee korrek is, maar gaan dit hulle lewe verander? Filippus besef dat Natanael nie deur ‘n argument oortuig sal word nie, maar wel deur ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus. Hy argumenteer nie vir Jesus nie … hy wys na Jesus.

Maar die verhaal gaan verder. ‘n Paar dae later is daar ‘n bruilof in Kana. Jesus en sy dissipels is ook daar. Jesus doen ‘n wonderteken – Hy verander water in wyn. Die impak is belangrik: Hy het daardeur sy heerlikheid laat blyk, en sy dissipels het tot geloof in Hom gekom (Johannes 2:11). Geloof is hier die gevolg van die openbaring van die heerlikheid van Christus. Geloof is die reaksie tot die besef van Christus se volle majesteit en heerlikheid. Die treffendste voorbeeld hiervan is Tomas toe hy besef dat Christus waarlik opgestaan het: My Here en my God! (Johannes 20:28).

Volgende keer kyk ons vir oulaas na apologetiek en konteks.

image_pdfimage_print

You may also like...