ASASEL – Hermie van Zyl

JOHAN VRA:

In Levitikus 16 word geskryf dat Aäron oor twee bokke moet loot, een vir die Here en een vir Asasel. Wie is Asasel?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Levitikus 16 handel oor die inrigting van die jaarlikse Groot Versoendag (Hebreeus: jom kippur). Die agtergrond hiervan is die reëling van die liturgie in die tabernakel, die sentrale (en vervoerbare) heiligdom van die Israeliete gedurende hulle woestyntog van Egipte na Palestina. Tot vandag toe word die dag gevier deur die Jode. Levitikus 16 speel ook ’n belangrike rol in die Hebreërboek in die Nuwe Testament. Daar pas die skrywer die gebeure rondom die offerkultus toe op die eenmalige en beter offer wat Jesus Christus deur sy kruisdood vir ons sonde gebring het.

Die inrigting van die versoendag hou kortliks in dat die hoëpriester ’n jong bul vir sy eie sondes en dié van al die priesters moet offer (v6, 11), en twee bokke vir die sondes van die volk. Wat die twee bokke betref, is een gemerk “vir die Here” en die ander “vir Asasel” (v 8). Eersgenoemde word geslag en die bloed word in die tabernakel gebruik om versoening te doen vir die volk se sondes (v9, 15). Die een “vir Asasel” word egter die woestyn ingejaag nadat die volk se sondes op hom oorgedra is. Dié bok is veronderstel om letterlik en figuurlik die sondes van die volk weg te dra die woestyn in (v10, 20-22).

Die vraag is nou, wie is Asasel? Geleerdes is nie baie seker oor die betekenis van die naam nie, maar stel drie moontlikhede voor:

Eerstens, dit kan “sondebok” beteken, aangesien die sonde van die volk op hom oorgedra word en hy hulle sonde dan letterlik wegdra die woestyn in, om nooit weer gesien te word nie. Dit is dan simbolies daarvan dat God die sonde van die volk ver weg van hulle verwyder, ’n gedagte wat ook in Psalm 103:12 uitgedruk word (God verwyder ons oortredinge van ons so ver soos die ooste van die weste af is).

Tweedens, dit kan verwys na die plek waarheen die bok gestuur is, iets soos “die afgrond”.

Derdens, Asasel kan die naam van ’n demoon wees wat, so is geglo, in die woestyn gewoon het. (Die woestyn is dikwels as die woonplek van demone gesien, vgl Matt 12:43; Luk 8:29.) Dit is die verklaring wat deur die meeste geleerdes vandag aanvaar en deur vertalings gevolg word. Die jukstaverbinding van die name “die Here” en “Asasel” in v8 sou hierdie moontlikheid kon ondersteun, want dan is beide twee name wat teenoor mekaar gestel word.

Indien laasgenoemde moontlikheid aanvaar word, is dit egter ’n vraag hoe dit sin maak in Levitikus 16. Waarom ’n bok vir ’n woestyndemoon met die naam Asasel oormerk? Twee moontlike verklarings word aangebied: (a) Die bok het as ’n soort afweer- of beskermingsmiddel gedien teen die woestyndemoon sodat dié hulle nie sou leed aandoen nie. Dit is vergelykbaar met wat ons in Eksodus 12:13,23 lees van die bloed van die lam wat aan die deurkosyne van die Israeliete in Egipte gesmeer is sodat die Here nie die eersgeborenes se lewe sou neem nie. Hierdie verklaring sou dan aansluit by ’n baie ou tradisie wat Israel in sy woestyntog raakgeloop het, ’n tradisie rakende demone – of ’n spesifieke demoon – in die woestyn wat gevaar inhou vir mense, en die manier om hulle daarteen te beskerm. Verder, dat hierdie demoon ’n naam gehad het, sou kon beteken dat dit ’n baie ou lokale tradisie was van ’n demoon wat gekoppel was aan ’n spesifieke gebied of plek. Die feit dat die naam Asasel nêrens elders weer voorkom nie, ondersteun die gedagte van ’n ou tradisie rondom ’n spesifiek plek maar wat mettertyd vervaag het, hoewel die naam behoue gebly het. En dit bring ons by die tweede verklaring.

(b) In Levitikus 16 word die bok wat vir Asasel geoormerk is spesifiek in verband gebring met die reinigingsrite van die volk se sonde. Die sonde van die volk word oorgedra op die bok en so simbolies die woestyn ingedra. Maar dis interessant dat die naam Asasel nie voorkom in v20-22 waar die rite van die oordrag van die volk se sonde op die bok beskryf word nie. So amper asof dit ’n latere ontwikkeling en toepassing van die vroeër tradisie rondom die bok as beveiliging teen Asasel was.

Dit kan dus wees dat die verklaring in (a) genoem mettertyd, in die oorlewering van die Levitikusboek, vermeng geraak het met dié van (b), laasgenoemde betekenis wat sentraal staan in Levitikus 16. Maar tog het die naam Asasel behoue gebly. Ons sit dus eintlik met twee tradisies in Levitikus 16, die ouer een waar die naam Asasel voorgekom het, en die later een (maar ook oud) wat meer spesifiek afgestem is op die betekenis van die bok as die een wat die sonde van die volk wegdra, wat eintlik nie meer iets met Asasel te doen gehad het nie. In die verstaan van Levitikus 16 behoort die klem dus op (b) te val en nie soseer op die betekenis van die naam Asasel nie, wat in elk geval onduidelik is.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl