1

Koninkryke ander as dié van God – Francois Malan

Johan vra:

In Kolossense 1 vers 15 praat hy van alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings heersers en in die engels bybel praat hulle van KINGDOMS. Waar is die kingdom en hoe moet ek dit verstaan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Kolossense 1:16 se konings en die Engelse Bybels se Kingdoms is vertalings van die Griekse woord thrónoi wat verskillende betekenisse in die Nuwe Testament het: Trone – die mooi en groot sitplek van die koning soos in Openbaring 5:1 Regeerders – figuurlik gebruik vir die heersende gesag van ’n koning soos in Kolossense 1:16 wat na ’n bonatuurlke gesag van engele of duiwels kan verwys of na menslike regeerders soos aardse konings. Bonatuurlike kragte – figuurlik gebruik vir bonatuurlike magte met ’n spesifieke rol om die lot en aktiwiteite van mense te bepaal, dit kan ook bose magte wees, soos in Kolossense 1:16. Die mag- en gesagsposisie om te regeer, soos in Lukas 1:32 die troon van sy vader Dawid wat aan Jesus gegee is. Die plek waarvan gesag en regering uitgeoefen word, soos in Hebreërs 4:16 Jesus se troon van genade; of Openb 2:13 die gemeente Pergamum woon waar die troon van Satan is. Die Kingdoms of konings kan verwys na die sigbare konings of regeerders van hierdie wêreld of na die onsigbare koninkryke van die engele of die duiwels (1:16). Na die engele word dwarsdeur die Ou en Nuwe Testament verwys. Psalm 103:20 noem hulle die HERE se boodskappers, sterk helde wat sy bevel gehoorsaam. Ook van die duiwels as gevalle engele word deurgaans vertel, vgl. bv. Openbaring 12:9 en die duiwels wat Jesus uit mense uitgedryf het. Die punt van Kolossense 1:16 is dat alle koninklike en heersende magte, owerhede of gesagvoerders deur Jesus geskep is en tot Hom vir sy doel geskep is. Hy beheer en gebruik hulle almal soos Hy wil, en aan Hom is almal uiteindelik verantwoording verskuldig. In die Christelike gemeente in die stad Kolosse in Klein-Asië (die huidige Turkye) was daar volgens Paulus ’n bedreiging vir die suiwer evangelie. Mense het gedink dit is nie genoeg om net in Jesus te glo vir jou verlossing en Hom te aanvaar as die Here oor jou lewe en die voorbeeld vir jou lewe nie. Paulus waarsku hulle om nie meegevoer te word deur filosofieë en leë bedrieëry nie, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente as magte wat hulle vergoddelik. Hulle skryf bepaalde gedragsvoorskrifte in diens van hierdie magte voor. Hulle vereis bv. die besnydenis, soos die Jode (2:11), skryf voor wat jy mag eet of drink, dat jy die nuwemaanfees en die Sabbat moet onderhou soos die Jode (2:16); hulle aanbid engele en soek om visioene te kry (2:18). En dan roem hulle en vertrou hulle dat hulle reg lewe, eintlik met hulle goeie werke hulle eie verlossing verdien (vgl. 1:13-14). En dit terwyl Jesus, die Seun van God, self God, Homself verneder het tot die dood aan die kruis, sodat God self al ons sonde op Hom geneem het en ons daarvan vryspreek, as ons onsself oorgee aan Jesus Christus as ons enigste en genoegsame Verlosser en Heer oor ons lewe.

Skrywer:  Prof Francois Malan




Droom oor my boetie se dood – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:

Ek het verlede jaar gedroom van my boetie se vrou en sy twee dogtertjies wat alleen op hul plaas staan en hande vashou. Die atmosfeer was grys en ek het in my gees gevoel my boetie is oorlede alhoewel ek hom nie in my droom gesien het nie. Sy vrou het ’n rooi baadjie gedra. In die week het ek weer dieselfde gedroom gehad, net die keer het ek my boetie ook gesien wat op ’n bed lê en vreeslik hoes met ’n wit lig wat hom omring. Kan julle asb vir my sê wat die droom beteken?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Ongelukkig kan ons nie onderneem om op die Bybelkennis-webblad spesifieke drome uit te lê nie. (Ons beskik helaas nie oor Josef of Daniël se gawes nie.) Maar oor hoe ons drome in die algemeen teologies moet beoordeel, is daar al redelik uitvoerig op ons webblad Bybelkennis.co.za geskryf. In hierdie artikels sal ons vraagsteller beslis antwoorde kry oor hoe sy drome moet hanteer. Ek verwys haar dus na die volgende artikels op ons webblad:

 

Sleutel net die betrokke artikel se titel in die soekfasiliteit-blokkie in, dan behoort die artikel te verskyn, of kliek net op die skakel in artikel.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Sepedi Bybel – Francois Malan

Luke vra

Bybel boek name in Sipedi Boodskap Teks: Ek het n persoon wat ek help om die Skrif te leer. Sy Afrikaans is baie beperk. Ek het vir hom ‘n Sepedi Bybel gekoop. Wil vir hom skrifte gee om te lees maar sukkel met Sepedi. Wil bv vir hom n teks gee om te lees wat in Esra staan maar weet nie wat is Esra in Sepedi nie. Glo en vertrou op u hulp.

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

Die Noord-Sotho Bybel van 2000 verskil hier en daar van die 1968 vertaling wat telkens ‘Puku ya’ (die boek van)voor die name skryf. Die lys word volgens die gewone volgorde gegee:

Ou Testament 2000 Genese, Eksodose, Lefitikose, Numeri, Doiteronomo, Joshua, Baahlodi, Rute,1&2 Samuele, 1968 Genesi, Ekisodo, Lefetiko, Numeri,Doiteronomio, Josua, Baahlodi, Ruthe, I&II Samuele, 2000 1&2 Dikgosi, 1&2 Dikronika, Esra, Nehemia, Estere, Jobo, Pesalome, Diema, Mmoledi, 1968 I&II Dikxosi, I&II Dikronika, Esera, Nehemia, Esitere, Jobo, Dipesalome, Diema, Mmoledi 2000 Sefela sa Difela, Jesaya, Jeremia, Dillo, Hesekiele, Daniele, Hosea, Joele, Amose, 1968 Sefela sa difela, Jesaya, Jeremia, Dillo tsa Jeremia, Hesekiele, Daniele, Hosea, Joele, Amosi, 2000 Obadia, Jona, Mika, Nahume, Habakuku, Sofonia, Hagai, Sakaria, Malakia. 1968 Obadya, Jona, Mika, Nahume, Habakuku, Tsefanya, Hagai, Sakaria, Maleaki. Nuwe Testament – 1968 voeg vooraan Ebangedi vir die eerste 4, Epistola vir die briewe 2000 Mateu, Markose, Lukase, Johanese, Ditiro, Baroma, 1&2 Bakorinthe, Bagalatia, 1968 Mateu, Mareka, Luka, Johane, Ditiro tsa Baapostola, Ba-Roma, I&II Ba-Korinthe, Ba-Galatia, 2000 Baefeso, Bafilipi, Bakolose, 1&2 Bathesalonika, 1&2 Timotheose, Titose, Filemone, 1968 Ba-Efeso, Ba-Filipi, Ba-Kolose, I&II Ba-Thesalonika, I&II ya Timotheo, Tito, Filemone, 2000 Baheberu, Jakobose, 1&2 Petrose, 1&2&3 Johanese, Judase, Kutullo 1968 Ba-Hebere, Jakobo, I&II ya Petro, I,II,III ya Johane, Juda, Kutullo ya Johaneois

Skrywer: Prof Francois Malan

 




Exousia’ en ‘dunamis’ – Jan van der Watt

Wat is die verskil tussen die twee Griekse woord ‘exousia’  en ‘dunamis’, want beide word in die Nuwe Testament met krag vertaal?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraer is heeltemal reg: Dit lyk of die twee woorde in die Nuwe Testament byna sinonieme is. Kyk na die volgende voorbeelde:

Joh 1:12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg (exousia) gegee om kinders van God te word.

Open 11:6 Hulle het die mag (exousia) om die hemel toe te sluit.

Mk 12:24 “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag (dunamis) van God nie?

Luk 14:31 Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg (= mag het; dunatos) is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie?

In die amptelike woordeboek van die Internasionale Bybelgenootskap (Lexicon of the New Testament – J.P. Louw and E.A. Nida – al die Bybelgenootskapvertalers wêreldwyd  gebruik die woordeboek) word die twee woorde in dieselfde semantiese (betekenis-) veld ingedeel. ‘n Semantiese veld beteken dat die woorde min of meer dieselfde betekenis het (in die geval power/ force volgens die woordeboek), maar tog elkeen sy eie beklemtoning het. Dit is die geval met exousia en dunamis ook. Beide dra min of meer die betekenis van die mag, krag, reg om iets te doen, maar elkeen het tog sy eie klem. Kom ons kyk wat is dit:

  1. Die woord exousia lê meer klem op die kontrole oor of reg wat iemand het om iets te doen, byvoorbeeld, iemand het die reg (tipe mag) om iets te besluit, beveel of te sê. Dit impliseer dat die persoon die outoriteit (gekry) het (wat van iewers kom – God gee mense bv. die reg of mag om kinders van God genoem te word – Joh 1:12).
  2. Met die woord dunamis verskuif die betekenis effens. Hier lê die klem op die feit dat iemand iets kan doen omdat hy die vermoë (krag, kapasiteit) het om dit te kan doen. ’n Mens sal dus sê Jesus het die krag/ vermoë om wonders te kan doen. Die klem lê nie op die reg wat Hy van iewers kry nie, maar op sy vermoë om dit te kan doen en dit word dan duidelik in die aksie wat volg.

Die grense tussen die twee woorde se betekenis is nie absoluut nie en die woorde kan tog ook effens anders gebruik word, soos heersers of engele wat optree, afhangende van die kontekste, maar dit is nie so algemeen in die Nuwe Testament nie.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt