Geloofsekerheid – Jan van der Watt

Sannie vra:

a) In watter boek in die Bybel kom die woord GELOOFSEKERHEID die meeste voor.

b) Die DIE BOEK VAN DIE LEWE, hoeveel keer kom dit voor in die Bybel.

c) Hoeveel keer sal jou naam uitgewis word uit die Boek van die Lewe.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

a) Die term ‘geloofsekerheid’ is nie eintlik ’n woord wat in die Bybel gebruik word nie, maar is ’n konsep, met ander woorde, dit is ’n tema wat op verskeie maniere in die Bybel uitgedruk word. Johannes sal byvoorbeeld sê, jy het die ewige lewe wat beteken dat jy vir ewig in God se familie sal leef. Daarvan kan jy seker wees, want niemand kan jou uit die hand van die Vader of Seun ruk nie (Joh 10:28-30). Dit geld vir elkeen wat opreg in Jesus glo (Joh 6:27-29). Paulus sal byvoorbeeld in Kol 2:9-15 met ’n beeld sê dat jou ou mens dood en begrawe is en jy saam met Jesus opgewek is in ’n nuwe lewe. Jy het nou die volheid van God. Dit is God se belofte aan jou. Weereens is die vereiste dat jy vas moet staan in die geloof (Kol 1:21-3). Geloofsekerheid as tema is dus gebaseer op die belofte van God in die Bybel dat as jy in Hom glo (met Hom in verhouding tree), jy seker kan wees Hy sal sy belofte nakom en jy sal vir ewig sy kind bly.

b) Verwysings na die boek van die lewe kom op die volgende plekke voor: Ps 69:29; Fil 4:3; Open 3:5; 13:8, 17:8; 17:8; 20:12, 15; 21:27; 22:19. Dit sinspeel op die gebruik in die ou tyd (soos vandag ook) om rekords te hou. Stede het byvoorbeeld rekords gehou van die mense wat in die stad bly sodat daar nie sommer vreemdes daar kan intrek of ander kan aanspraak maak op die regte van die stad  nie. Die boek van die lewe bevat almal se name wat die ewige lewe het.

c) In net twee plekke in die Bybel word daar gepraat van name wat uit die boek van die lewe uitgewis kan/ gaan word, naamlik, Ps 69:29 en Open 22:19. In Ps 69:29 wens die skrywer van die Psalm (Dawid) dit vir sy vyande toe wat hom sleg behandel. Soos hierbo genoem, was daar boeke in die ou tyd waarin die name van mense geskryf was ter wille van die administrasie. Name kon daaruit verwyder en toegevoeg word – Dawid bid hier dat sy vyande ‘gestraf’ word deurdat God hulle name uit die boek verwyder. In Open 22:19 het ons ‘n ‘vloek’ wat uitgespreek word teenoor enigiemand wat probeer om iets aan Openbaring te verander. Destyds was daar nie drukperse nie en die boeke is met die hand oorgeskryf. Dit was dus maklik om dit te verander en dan het al die mense wat die boek gekry het, dit afgeskryf, sodat die veranderinge dan verder versprei word. Dit was dus algemeen in die ou tyd dat skrywers sulke ‘vloeke’ aan die einde van hulle boeke gesit het, sodat mense ontmoedig is om enigiets te verander. Die waarskuwing is dus in Open 22:19 dat niemand dit moet waag om iets te verander nie, wat die Here sal dan met hom afreken.

                Kom ons by die res van die verwysings na die mense wie se name in die boek van die lewe geskryf is, is daar geen verwysing na die moontlikheid dat daardie mense se name uit die boek van die lewe weggeneem sal word nie. In al die gevalle gaan dit om mense wat regverdig is en gelowiges is. Op 3:5 sê immers dat hulle name nooit uitgewis sal word nie.

                Dus, die boodskap van Openbaring sê dat die name van gelowiges nie een maal uit die boek van die lewe uitgewis sal word nie. Die gevalle wat daarvan praat dat die name uitgewis kan word gaan oor ’n wens vir die vyand (Ps 69) en ’n waarskuwingsvloek (Open 22:19). Dat die uitwissing van ’n naam ’n moontlikheid is, is so, maar dit is nie waar van die regverdiges, die gelowiges nie. Die Bybel sê nêrens dat hulle name uitgewis kan of gaan word nie.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Salomo – Jan van der Watt

Maude vra

Salomo: In die Etiopiese Kebra Nagast word in detail beskryf dat die koningin van Skeba ‘n seksuele verhouding met Salomo gehad het, iets wat ek nêrens in die Bybel raakgelees het nie.

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die Bybel word as die Woord van God aanvaar en dit is die basis waarop ons as Christene ons geloof baseer, naamlik, wat ons glo en wat nie. Nou moet ons onthou dat net soos vandag daar deur die eeue baie boeke oor die temas van die Bybel en die Bybel self geskryf is. Daarin het die mense na die hulle eie idees neergeskryf oor wat hulle dink kon gebeur het. In sommige gevalle was daar mense wat gewonder het wat Jesus in sy kindertyd gedoen het (want die Bybel sê niks daarvan  nie) en dan het hulle ’n boek oor sy kindertyd geskryf, natuurlik met verhale in wat glad nie in die Bybel voorkom nie. Ander het weer gewonder wat gebeur het toe Jesus opgestaan het, en dan gee hulle wonderlike beskrywings van wat alles daar gebeur het, terwyl die Bybel niks daarvan sê nie. Ons moet nie die ‘stories’ met die Bybel verwar nie. Dit is maar hulle manier van die gebeure verklaar en word nie as die waarheid beskou nie.

            Ons kan die ander verhale lees vir die interessantheid, maar moet dit nooit met die waarheid van die Bybel verwar nie. Dit Bybel bly ons bron van waarheid.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Gebed – Prof Jan van der Watt

Suzette vra:

 Die Bybel sê waar daar 2 of meer saam bid, daar is Ek. Dat God is daar as tmeer saam bid. As dit jy alleen is, word die boodskap nog as ‘n gebed opgestuur deur die Heilige Gees?

 Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

Gebed is ’n manier om met God te praat, of dit nou by wyse van ’n skietgebed, ’n lang gesprek, lof, aanbidding, vra vir hulp, altyd deur bid, of iets anders is. Dit maak nie saak of jy alleen is of nie. Daar is ‘n vraag of gebed net geldig is as daar twee of drie saam bid. Inderwaarheid staan daar in Matteus 18:20 dat waar twee of drie vergader, daar sal die Here by hulle wees. Hier word nie spesifiek na gebed verwys nie, maar daar word gesê dat twee of drie ’n wettige byeenkoms is. Dit is in die lig van sekere bepalings van die Jode wat vereis het dat daar eers ’n sekere hoeveelheid mans bymekaar moes wees voor dit ’n wettige godsdienstige byeenkoms genoem kan word. Die getal ‘twee of drie’ kom heelwat in die Bybel voor as getal wat in die hof genoeg is om te getuig. Dit is ’n wettige groep (vgl. Deut 17:6; 19:15; Matt 18:16; 2 Kor 13:1; Heb 10:28). Dit word nou op die Christelike samekoms toegepas – waar twee of drie bymekaar is, daar is die wettige gemeente van die Here bymekaar. Dus gaan hierdie gedeelte oor baie meer as net gebed.

            Help die Heilige Gees ons met gebed. Waarskynlik die bekendste uitspraak in die verband is in Romeine 8:26-27 waar daar gesê word dat die Heilige Gees vir ons by God intree as ons nie weet wat of hoe ons moet bid nie. Die versugtinge van ons hart kom dan deur die Heilige Gees by God uit. Op die manier staan die Gees ons ook in ons swakheid by. Omdat die Gees in elke gelowige is, ken die Gees ons gedagtes en bedoelinge. Dit is soos ’n tweesyndende swaard: dit is goed, soos ons hierbo gesien het, maar aan die ander kant kan ons God nooit bedrieg nie. Daarom is gebed so gevaarlik – ons kan nie voor Hom vals wees as ons bid nie. Ons kan nie van Hom vra om ons sonde te vergewe, maar ons is nie regtig jammer daaroor nie. Ons kan nie vir hom vra om mense in nood te help as ons nie bereid is om sy instrumente te wees wat dit doen nie. God sal weet as ons as ‘tweegesigte’ bid. Nee, gebed vereis altyd opregtheid.

Skrywer: Prof Jan van der Watt




Sondebelydenis – Jan van der Watt

Martie vra:

Ek het onlangs die argument gehoor dat daar nerens in die Bybel staan dat na Jesus se kruisdood, ons nog ons sondes moet bely nie, want Jesus het reeds vir dit aan die kruis gesterf.

  1. Is dit so dat ons nie ons sondes moet bely voor God nie?
  2. Is dit so dat ons nie skuldig moet voel oor ons sonde nie?

 

Antwoord

Prof Jan van der Watt antwoord:

  1. Die argument wat jy gehoor het, is nie reg nie. Kyk maar net na die bekende 1 Joh 1:7-2:2, waar daar van sondebelydenis gepraat word. Die mense van wie hier gepraat word is Christene wat na Jesus se dood aan die kruis geleef het. Hulle word aangemoedig om hulle sonde te bely sodat die bloed van Jesus hulle van hulle sonde kan reinig. God sal hulle dan vergewe, daarvan kan hulle seker wees. ’n Mens moet onthou dat belydenis van sonde beteken dat jy jou verhouding met God, wat jy deur jou verkeerde optrede geskend het, wil regmaak. Jy moet met ander woorde, weet wat jy verkeerd gedoen het, dit vir God sê, om verkoning vra en onderneem om dit nie weer te doen nie. So herstel jy weer jou verhouding met God. Ons liefdevolle God sal jou vergewe en jou sonde oorsien.
  2. Die oomblik dat ons as kinders van God gebore word, verander ons status in die oë van God – ons behoort dan aan sy familie. Ons is dan van ons sonde vrygekoop – lees maar Kol 2:11-15 waar daar beskryf word hoe die ou mens begrawe word en die nuwe mens soos Jesus opstaan, met ons sonde wat aan die kruis vasgespyker is. Ons het dus ’n nuwe status as mense wat saam met Jesus opgestaan het. Tog, net ’n paar verse verder in Kolossense (2:20-3:1-17), word daar gesê dat gelowiges, met die nuwe status as God se kinders nog foute maak, maar dat dit ’n duidelike doel in hulle lewens moet wees om soos Jesus te leef. (3:1-2, 9-10). Gelowiges kan dus nog sonde doen, maar moet aktief daarteen veg en elke dag probeer om te leef soos Jesus wil hê. Kolossense praat wel nie van sondebelydenis nie, maar gebruik die beeld van ‘klere uittrek’ – die klere is die sondige dinge wat hulle doen, waarvan hulle ontslae moet raak, terwyl hulle in die plek daarvan skoon klere (soos liefde vergifnis, vriendelikheid ens.) moet aantrek (Kol 3:5-17). ’n Gelowige moet natuurlik ongelukkig voel oor dit wat hy of sy verkeerd doen, want dit maak die Here nie gelukkig nie. Dit is nie hoe ’n kind van die Here optree nie. Aan die ander kant, as jy bewus raak van sonde in jou lewe, moet jy dit dadelik bely, want dit belemmer jou verhouding met die Here en dit is nooit goed nie. Om nie bekommerd te wees oor dit wat jy verkeerd doen en werk daarvan te maak deur sondebelydenis nie, is om in die hande van die duiwel te speel. God se vergifnis mag nooit maak dat ons gewoond raak aan sonde omdat Hy so liefdevol is om ons altyd te vergewe as ons ons sonde bely nie (Rom 6:1). Kies liewer die pad van heiligmaking deur sonde in jou lewe ‘uit te trek’.

Skrywer: Prof Jan van der Watt