Kom, loop die verkeerde pad. Dit lyk so lekker? (Versoekings)

Kom, loop die verkeerde pad. Dit lyk so lekker? (Versoekings)

Versoekings is dinge waarvoor Christene versigtig moet wees.

Die duiwel spesialiseer daarin. As ons ons lewe kan voorstel as ʼn pad waarop ons loop, is versoekings die afdraaipaadjies. Dit is die paadjies wat die duiwel wil hê ons moet loop sodat ons nie meer agter God aanloop nie. Uiteindelik verdwaal ons so dat ons nie meer weet watter pad God s’n is en watter een nie. Ons noem dit ʼn versoeking omdat die duiwel die pad gewoonlik vir ons lekker laat lyk. Jy is nuuskierig en jou oë draai in daardie rigting, want dit lyk vir jou lekker om dit te doen. Gewoonlik is die eerste stukkie van die pad lekker, maar dit bly nie vir lank so nie. Dit pad word vinnig al slegter en slegter.

Die enigste ding wat ʼn mens met ʼn versoeking kan doen, is om nie toe te gee nie. Jy weet mos wat die regte pad is. Hou koers daarop. Staan sterk. Dit gaan uiteindelik vir jou baie meer werd wees as om op al die afdraaipaadjies te loop. Ignoreer versoekings, dan verdwyn dit soos mis voor die son.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Mense wat nooit van God gehoor het nie… gaan hulle dan verlore?

Mense wat nooit van God gehoor het nie… gaan hulle dan verlore?

Wat van mense wat nooit van Jesus gehoor het nie en dan doodgaan? Gaan hulle verlore?

Die antwoord moet ʼn mens van twee kante af gee:

  • Van die een kant af sê die Bybel moet Christene nie laat slap lê nie. Ons moet die goeie boodskap van die Here so ver as wat ons kan en selfs verder uitbasuin. Jesus is die enigste pad na God toe (Johannes 14:6). Dit is ons verantwoordelikheid om hierdie goeie nuus vir almal te vertel sodat niemand eendag ʼn verskoning mag hê dat hy of sy “nie geweet het nie”. Dit is ons roeping as Christene en ons mag nooit verslap nie.
  • Maar van die ander kant af weet ons daar is mense wat tog doodgaan sonder om ʼn kans te gekry het om in Jesus te glo. Wat van hulle? Wel, die Bybel draai nie doekies om as dit by God kom nie: Hy is regverdig en wat Hy ook besluit sal teenoor niemand onregverdig wees nie. Die Bybel sê egter nie vir ons reguit wat met die mense gaan gebeur nie. Daar is plekkies in die Bybel wat vir ons die studeerkamerdeur van Jesus so ʼn skrefie oopstoot sodat ons effens kan sien wat God beplan. In Johannes 8 staan daar dat as mense nie weet nie, kan hulle nie kwalik geneem word nie. Maar dan staan daar weer in Romeine 1 dat daar nie werklik iemand is wat kan beweer dat hy niks van God af weet nie. As jy maar net na die skepping rondom jou kyk, sal jy moet toegee dat daar ʼn God is. God mag dalk mense wat diep opreg uit hulle harte die goeie probeer doen het, ook genadig wees… wie weet? Behalwe God. En Hy is genadig, liefdevol en regverdig.

Ons hoef dus nie te veel te bespiegel nie… God sal doen wat reg is. Net so moet ons doen wat reg is. Ons moet vir ander by elke geleentheid van Jesus vertel.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God luister na ons gebede (verhoring van gebede)

God verhoor altyd gebede, al voel dit partymaal vir ons of Hy ons nie antwoord nie. Hy antwoord ons wel, maar ons kom dit net nie agter nie.

Jou ma antwoord jou nie altyd op dieselfde manier nie. As jy vra of jy skottelgoed kan was, sê sy sommer dadelik “ja”. As jy vra of jy ʼn nuwe fiets kan kry, is daar eers stilte en miskien na ʼn dag of twee kom die antwoord. Net so antwoord God ons op verskillende maniere.

  • God is nie ons slaaf wat alles moet doen wat ons vra nie. Soms antwoord Hy ons op maniere wat ons nie verwag nie. Ons wag nog dat Hy doen wat ons gesê het, dan het Hy lankal op ʼn ander manier geantwoord. Ons moet dus wakker wees. Ons geestelike ore en oë moet oop wees om te kan hoor as God antwoord. Hy weet wat vir ons die beste is en sal dus soms op maniere antwoord wat ons nie verwag nie.
  • God antwoord baie keer gebede deur jou. As jy bid vir jou vriend wat hartseer is, is die kanse baie groot dat die Here sy hand op jou skouer gaan kom sit en vra dat jy namens Hom jou vriend gaan help. Jy sal dan moet tyd afstaan om te luister, raad te gee, te help en te troos. Of as jy bid vir mense wat swaarkry of nie kos het nie, mag die Here juis van jou vra om daarmee te help. As jy dan nie bereid is om na die Here te luister nie, sal jou gebed nie verhoor word nie. En dit is nie die Here se skuld nie.
  • Die Here kan ook partymaal “nee” sê. Ons kry baie sulke voorbeelde in die Bybel. Dit is gewoonlik as ons verhouding met die Here nie so goed is nie. Dan sê die Here moet eerste dinge eerste kom. Voor Hy verder na ons gebede luister moet ons eers ons verhouding met Hom regmaak.
  • Ons moet ook nie verbaas wees as die Here ons partymaal verras met iets wat baie groter is as waarvoor ons gebid het nie.

Gebed en vertroue op die Here gaan saam. As jy bid, vertrou dat die Here jou hoor en die beste vir jou wil hê.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Spesiale liggame wag vir ons (Verheerlikte liggame)

Spesiale liggame wag vir ons (Verheerlikte liggame)

Hoe gaan dit in die hemel wees? Ons weet nie mooi nie. In 1 Korintiërs 15 vertel Paulus vir ons dat ons verheerlikte liggame gaan kry. Dit gaan nog onsself wees, maar ons gaan ook anders wees. Ons gaan nie oud, siek, of hartseer word nie. Ons gaan in ʼn ander dimensie leef, om dit nou maar so te stel. Presies hoe dit gaan wees, kan niemand sê nie. Ons weet net dat dit wonderlik en anders gaan wees.

Dit kan so verduidelik word. ʼn Baba in die maag van haar ma voel veilig en het alles wat sy nodig het. Sy voel warm, tevrede en het genoeg kos. Sy kan haar kwalik iets meer of beter voorstel. Maar as sy gebore word, sien sy skielik ʼn wêreld wat sy haarself nooit kon voorstel nie. Sy sien die blou lug, die pragtige berge, die sterk arms van haar pa en die sagte soene van haar ma. In die maag van haar ma sou sy dit nooit self kon uitdink nie. Net so is dit met die hemel wat vir ons wag. Ons dink nou in terme van wat ons ken. Maar daar wag iets baie mooier en wonderliker vir ons. Ons kan onsself nie voorstel hoe dit gaan wees nie, want God het dit uitgedink. Ons kan maar net vir die verrassing wag.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy