Daar is nie ʼn god nie, sê party mense (Ateïsme)

Daar is nie ʼn god nie, sê party mense (Ateïsme)

Sommige mense dink daar is nie ʼn God nie.

Daarom verklaar hulle alles wat bestaan en gebeur maar as toevallighede wat aan die hand van natuurwette of gebeure tussen mense verklaar kan word. Jy as mens “bestaan” ook maar net vir die rukkie wat jy leef. As jy doodgaan is jy net weg en daarom moet jy maar die beste uit die lewe haal solank jy kan.

Mense wat dink God bestaan nie, probeer dan om die godsdiens weg te verklaar. Hulle beweer selfs dat God en godsdiens soos dwelms is. As jy dwelms gebruik sien jy dinge en beleef jy wêrelde wat nie regtig bestaan nie. Dit is net in jou kop, maar bestaan nie daarbuite nie. Net so bestaan gode nie daarbuite nie, maar is maar net in jou kop. Nietzsche, ʼn bekende geleerde van ʼn ruk gelede, het byvoorbeeld oral verkondig dat God dood is. ʼn Rukkie later, na sy dood, skryf iemand toe teen ʼn muur: “Nietzsche is dood. God leef”.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Die Here Jesus stuur mense om spesiaal vir Hom te werk (Apostel)

Apostels is die naam wat vir die vroegste volgelinge van Jesus gegee is.

Dit is die “verafrikaansing” van die Griekse woord apostellein wat stuur beteken. Apostels is dus mense wat spesiaal deur Jesus gestuur is om sy goeie nuus die wêreld in te dra. Ons lees van baie apostels in die Nuwe Testament, maar seker die prominentste een was Paulus. Lees maar hoe begin hy sy briewe: van Paulus, ʼn apostel van Jesus Christus… Daarmee gee hy gesag aan sy boodskap. Dit is nie sy eie boodskap nie, maar Jesus se boodskap. Hy is maar net gestuur (ʼn apostel) om die goeie nuus vir almal te vertel.

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Ek opponeer Jesus (Antichris)

Ek opponeer Jesus (Antichris)

Die duiwel het ook ʼn eindpoging… net voor die Here weer kom, sal daar hewige teenkanting teen die Here wees, veral in die vorm van ʼn verskriklike slegte leier(s).

Baie mense het net een so ʼn slegte figuur verwag, wat net kort voor Jesus se wederkoms sou kom. Johannes het die houding van opstand teen en verwerping van God egter as ʼn gesindheid in baie mense herken (1 Johannes 2:18). In sy gemeente was daar ʼn klomp mense wat vir ʼn rukkie deel van die kerk was, maar toe hulle rug op Jesus gedraai het. Hulle noem Johannes ‘antichriste” (1 Johannes 2:18-24, 4:3; 2 Johannes 7). “Anti” is die Griekse woord vir “teen”, wat beteken dat Antichriste mense is wat teen Jesus gedraai het. Die volgende is nou interessant:

(a)  Hierdie antichriste wat eers deel van die kerk, maar het toe weggebreek;

(b)  Hierdie antichriste het wel nog in Jesus geglo (1 Johannes 4:1-4), maar het nie meer die regte dinge oor Jesus bely nie – hulle het gesê Hy is God, maar wou nie meer erken dat Hy mens geword het nie, wat beteken dat Hy nie regtig vir ons kon sterf en ons sonde so vergewe nie. Dit help nie om net ʼn stukkie van Jesus te bely nie; jy moet Hom volledig bely vir Wie Hy is, anders is jy soos iemand wat “teen” Hom is.

Die gees van mense wat “teen” Christus is, is dus by en tussen ons. Daar kan miskien nog een groot figuur of mag kom om Jesus van die troon af te probeer stoot, maar ons hoef nie bekommerd te wees nie: Jesus het oorwin!

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die Here het vir my ʼn spesiale werk (Amp(te))

Die tipiese kerkwoord “amp” word gebruik vir ʼn spesiale posisie wat iemand in die kerk het met die oog op spesifieke dinge wat gedoen moet word.

Die “ampte” verskil van kerk tot kerk. So kry ʼn mens byvoorbeeld dominees/pastore, priesters, diakens, ouderlinge, biskoppe, en so aan. In van die protestantse kerke word die “ampte” gewoonlik beperk tot drie, naamlik ouderlinge, diakens en dominees/pastore. Dominees moet sorg dat die Woord van God gereeld en reg verkondig word. Ouderlinge moet kyk dat alles in die gemeente reg en goed gebeur. Hulle moet regmaak as daar iets verkeerd gaan. Diakens moet die materiële sake van die gemeente bestuur, byvoorbeeld deur geld in te samel en om die armes te help.

Daar is deesdae die gevoel dat daar meer “ampte” as net drie in ʼn gemeente moet wees. Elke ding wat in die gemeente gebeur, is tog belangrik en daarom moet ʼn mens nie die een meer belangrik as die ander laat lyk deur die een “‘n amp” te maak en die ander nie. Daar is tog baie meer as drie take in die gemeente, byvoorbeeld, daar is mense wat die jongmense oplei (kategete), of ʼn ou of meisie wat leiding neem onder die jongmense van die gemeente. Hulle beklee mos ook spesifieke posisies in die gemeente en doen spesifieke dinge vir die Here. Hulle werk is tog nie minder belangrik as die ouderling of diaken s’n nie.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy