Die Here kan alles doen (Almag)

Die Here kan alles doen (Almag)

God word die Almagtige genoem (Grieks = Pantokrator, panto beteken alles en krator krag). Hy het al die krag en kan dus enigiets doen.

Juis hieroor is daar al baie gestry. Byvoorbeeld:

  • As God dan almagtig is en al die krag het, hoekom is daar dan nog sonde, of hoekom is daar soveel swaarkry en hongersnood in die wêreld? As God dan so sterk is, hoekom doen Hy nie iets daaraan nie? Waarom kry baie Christene so swaar, selfs as hulle God mooi vra om hulle te help. As God dan almagtig is, waar is Hy?

  • Dan is daar die filosowe onder ons… hulle vra byvoorbeeld vrae soos of God so ʼn groot klip kan maak dat Hy dit nie self kan optel nie; of is daar ʼn beperking aan die aantal engele wat God op die punt van ʼn naald kan laat dans?

Om al die vrae reg te beantwoord, moet ʼn mens maar die Bybel ernstig neem. Openbaring beskryf byvoorbeeld dat God op die troon van die heelal sit en dus almagtig is (Hoofstuk 4). Tog gebeur daar nog slegte dinge ook (Hoofstuk 12-13). Dit is nie omdat God nie mag het om met die slegte dinge af te reken nie; Hy kan en gaan dit in elk geval met die laaste oordeel doen. Dit is eerder ʼn geval dat God in sy almag besluit het om hierdie dinge toe te laat om hulle loop te neem.

As ʼn mens dan vra waarom God dit toelaat, loop jy in jou eie beperkinge vas. Ons is nie God nie en weet ook nie wat God weet nie. God is nie ʼn mens nie en ons is nie God nie. Hy is soveel groter as ons dat ons nie moet dink ons weet alles van Hom nie. (Lees maar Romeine 11:33-36). Hy redeneer buitendien nie soos ʼn mens nie, omdat Hy baie verder kyk en baie meer weet as ons. Daarom moet ons nie te veel vrae vra as dit by God kom nie, want ons gaan nie al die antwoorde nou al kry nie. Ons moet maar net weet: God IS almagtig, maar juis daarom gebruik Hy ook sy almag soos Hy wil. Ons moet Hom nie probeer voorskryf nie. Nee, ons moet eerder rustig en gelowig op Hom bly vertrou

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Van God kan jy niks weet nie en niks oor Hom sê nie, of so dink party mense (agnostisisme)

Van God kan jy niks weet nie en niks oor Hom sê nie, of so dink party mense (agnostisisme)

Daar is mense wat net hulle skouers optrek as dit by God kom. Hulle sal vinnig vir jou sê dat ons niks van God kan weet nie en ook nie enigiets oor Hom kan of moet sê nie. Vir hulle is niks seker nie, ook nie God nie. Niemand weet regtig nie, sê hulle. Ons noem sulke mense agnostisiste.

Die Bybel vertel ʼn ander storie. Jesus is die ware weg na God (Johannes 14:6), die Een wat vir ons kom vertel het hoe God regtig is (Johannes 1:18). Hy is die beeld van God (Kolossense 1:15) in en deur wie ons God kan leer ken. Hoe kan ʼn mens dan nog sê dat jy God nie kan leer ken nie, behalwe om ʼn streep deur Jesus te trek? Jesus het dan vir ons presies kom wys hoe Hy lyk en wat Hy van ons verwag. Dit is immers wat Jesus kom doen het. Wat meer wil ons hê?

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Dinge wat vir jou belangriker word as God (Afgodery)

Dinge wat vir jou belangriker word as God (Afgodery)

Daar is net een God en as God eis Hy ons absolute lojaliteit. Hy wil ons nie met ander gode deel nie. Dit is ook dom om ander gode te probeer aanbid. Wat help dit om iets te aanbid wat nie eers bestaan nie?

Die Bybel spot ‘n bietjie met afgode, veral as hulle met die lewende God vergelyk word. Daar word byvoorbeeld vertel hoe ʼn houtwerker deur die bos stap, hout bymekaar maak, vir hom self iets uit die houtstomp maak en dan ʼn beeldjie uit die oorskiet kerf. Dan aanbid hy sowaar dieselfde beeldjie asof daar goddelike krag in die beeldjie is. Maar hy het ʼn probleem. Hy sukkel om die beeldjie te laat regopstaan, want die ding val gedurig om. Ja-nee, daardie gode het maar ʼn bietjie hulp nodig. In ander gevalle word daar van “sogenaamde” gode gepraat (1 Korintiërs 8). Dit is gode wat net in ons praat bestaan. Hulle is nie regtig daar nie, maar omdat mense oor hulle praat glo almal dit en aanbid dit daarom ook sommer.

Afgode kan ook gevaarlik wees. Groepsdruk kan ons baie keer forseer om dinge te doen wat ons weet nie reg is nie. Almal doen dit, hoekom nie ek nie? Almal praat oor daardie god en dien hom, daarom moet dit seker reg wees, en dan buig ek my knie ook. Hoewel ons nie meer beeldjies vir afgode maak nie, is daar baie dinge wat ons maar op ons manier aanbid. Dit is dinge wat ons as belangriker as God ag en daarom meer tyd en lojaliteit gee as aan God. Ja, die oomblik wat ons ons energie en tyd, wat God s’n is, aan iets of iemand anders gee, is ons besig met afgodsdiens. Baie dinge kan ons aandag van God aftrek, byvoorbeeld, ideale of sukses, geld of plesier. Tot jyself kan jou eie afgod word.

Alles wat vir jou belangriker word as God, word vir jou ʼn afgod. Bly weg van afgode af.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy




Aanbidding

Aanbidding

God se verhaal met mense is eintlik ʼn liefdesverhaal. In Johannes 3:16 staan daar dat God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy unieke Seun gestuur het sodat ons gered kan word.

Maar dit is nie ʼn verhouding waarin die twee partye gelyk is nie. God is baie groter as ons as mense en ons moet dit erken. Ons moet God erken vir wie Hy is. Die manier waarop ons ons liefde vir Hom kan teruggee, is om Hom te eer en groot te maak. Dit is presies wat aanbidding is. Dit is om jouself op God se skoot te sit en Hom net te bewonder… om te erken dat Hy groot en almagtig is; wonderlik en onbeskryflik; liefdevol, teer en genadig. Om God so te erken en dit vir Hom uit die diepte van jou hart te sê, is regtig aanbidding. Aanbidding is nie net vir God belangrik nie, maar beteken ook vir jou baie. Deur aanbidding ontdek jy ook jouself. As jy op God se skoot sit, besef jy jy is maar bitter klein en totaal afhanklik van God. Aanbidding is om vir God te sê wie Hy vir jou is, maar dit help jou sommer ook om te besef wie jy eintlik is… ʼn stukkie klei in die hande van die groot Pottebakker.

 

Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy